Splinternuwe vullistrokke staan sonder brandstof

‘n Tekort aan brandstof vir die nege splinternuwe vullisverwyderingstrokke in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit is glo die rede waarom inwoners se vullis steeds net een keer per maand verwyder kan word. (Foto: Verskaf)

’n Tekort aan brandstof vir die nege splinternuwe vullisverwyderingtrokke in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, wat Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging bedien, is glo die rede waarom inwoners se vullis steeds net een keer per maand verwyder kan word.

Só het Gerda Senekal, Vryheidsfront Plus-raadslid, Vrydag in ’n verklaring gesê. Benewens die brandstofprobleem beskik bestuurders, wat deur die provinsie aangestel is, glo ook nie tans oor die geskikte swaarvoertuiglisensies nie.

“Die Emfuleni-munisipaliteit het onlangs nege nuwe vullisverwyderingtrokke van die Gautengse provinsiale regering ontvang om diensleweringsprobleme in die gebied te verlig. Dit gebeur egter nie en nou word inwoners gestraf vir die swak bestuur van die munisipaliteit.”

Volgens Senekal het die munisipaliteit ʼn vloot van 42 trokke nodig om vullisverwydering na behore te doen.

“Tans is net drie trokke in Vanderbijlpark, drie in Vereeniging en vyf in Sebokeng in gebruik. Die res van die trokke staan reeds ses jaar in werkwinkels omdat die munisipaliteit nalaat om die diensverskaffers se rekeninge te betaal.

“Die VF Plus is van mening dat dit weer ʼn voorbeeld van verkwisting van belastinggeld is. Dit sou meer sin gemaak het om diensverskaffers te betaal om van die bestaande trokke wat minimale herstelwerk benodig te herstel en weer in diens te stel.”

Senekal sê dat onwettige vullisstortings intussen aan die toeneem is en dat Emfuleni besig is om in ’n “vullishoop” te verander.

Maroela Media het die afgelope jaar oor verskeie diensleweringsprobleme in die Emfuleni-munispaliteit berig, waaronder ’n voortslepende waterkrisis wat intussen tydelik opgelos is sowel as grootskaalse skade wat deur munisipale kontrakteurs aan sypaadjies en infrastruktuur soos waterpype en kragkabels aangerig is. Dié skade is tydens die installering van optiese veselkabel aangerig.

Amptenare van dié munisipaliteit is ook sedert Januarie vanjaar genoodsaak om amptelike oproepe van hul privaat selfone te maak nadat Telkom weens wanbetaling sy diens aan die munisipaliteit gestaak het.

Die Emfuleni-munisipaliteit het nog nie op Maroela Media se navrae reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Zacahara ·

Hulle kon nog nie kommentaar lewer nie, want hulle is kommunikasieloos…!!!

Barend ·

Ons asdromme staan nog aanaangeraak sedert gister hier in die Elarduspark en Erasmuskloof omgewing van Pretoria of staak hulle al klaar?

marius ·

Wat verstaan mense nie van hoe dinge in die hool werk nie. Gooi die goed voor hul deure . Dan kry jy resultate .

melaney ·

Maak gerus vol brandstof. Na ‘n maand sal dieselfde trokke daar staan. Dan benodig hulle ‘n werktuigkundige.

Jessey ·

Hoe stel jy Drywers aan wat nie oor die nodige Lisensie beskik nie? Maar nou ja ons weet dat meeste aanstellings nie die nodige vaardighede het nie. Die buddy sisteem in werking.

Winnie ·

En die inwoners moet maandeliks daarvoor betaal. Kom kyk in die Weskaap hoe dit werk getrou elke week word vullis verwyder. DA ons is trots op julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.