Dié slimkoppe lyk dalk nie heeltemal identies nie, maar die tweeling Justin en Darren Oates deel dieselfde voorliefde; ingenieurswese, musiek en motorsport.
Dit is presies waarin hulle hul gaan verdiep noudat hulle onlangs aan die Universiteit van Pretoria graad gevang het in meganiese ingenieurswese.
Die 23-jarige tweeling het gespesialiseer in motorvoertuigingenieurswese, Die studierigting wat die gedragseienskappe van motorvoertuie bestudeer ten einde die vertoning van ʼn voertuig te voorspel of verbeter.
Justin en Darren het die renbaan vier jaar gelede aangedurf toe hulle deelgeneem het aan die VW Polo GTI-beker, die kompeterendste renjaervlak in Suid-Afrika. Hulle het steeds deelgeneem aan wedrenne terwyl hulle hul finale jaar verhandelings voltooi het.
Die twee is boonop gek na klavierspeel en het al musiek in Engels én Afrikaans onder die name Telepathy en Alter Ego onderskeidelik opgeneem.
“Ons is baie kompeterend op die renbaan, maar nie wanneer dit by akademie kom nie,” sê die twee. “Omdat ons kreatief is, beoordeel ons nie ander se manier van dink nie en hou ons daarom nie daarvan om in dié opsig mee te ding nie.”
Dit was egter nie maklik om hul studie, motorsport én musiek te balanseer nie en die twee was by tye onseker of hulle saam sou graad vang. “Soms was een van ons minder voorbereid as die ander vir ʼn toets of eksamen,” sê Darren. “Dit was ook moeilik om te studeer terwyl ons halfpad om die wêreld reis en ons moes soms probeer studeer op vliegtuie en lughawens.”
Die broers se advies vir dié wat ingenieurswese wil studeer, is om vas te byt. “Die kursus is baie moeilik, en ons het verskeie kere oorweeg om op te skop. Maar teen die einde van jou kursus begin alles sin maak en jy sal bly wees vir die diverse kennis wat jy opgedoen het en waardeer hoe alles inmekaar pas.”
Die twee neem steeds deel aan motorwedrenne en is ook tans besig om ʼn album op te neem saam met die produseerder Denholm Harding. “Musiek en motorsport is albei sulke wonderlike platforms,” sê die tweeling.
Daar is iewers ‘n baie trotse ouer paar in die land. Sulke nuus is altyd lekker om te lees.
Weet hulle van regstellende aksie en BEE? Dan beteken grade niks. Eks deur dit. Nie net 1 keer nie.