Spoedige oplossing vir probleme met KMMO’s gevra

Argieffoto (Foto; AlexanderStein, Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het met kommer verneem van die groeipyne rondom die instel van die departement van kleinsake-ontwikkeling se Covid-19-skuldverligtingsfonds.

Dit spruit uit die registrasie van klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) op die webwerf, en onduidelikheid oor die implementering.

“Ons versoek dus dat Khumbudzo Ntshavheni, die minister van kleinsake-ontwikkeling, onmiddellik intree om te verseker dat haar departement enige verdere negatiewe impak wat die pandemie op klein ondernemings het, versag,” het Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van kleinsake-ontwikkeling, in ʼn verklaring gesê.

Mbhele het bygevoeg die DA het verskeie klagtes van kleinsake-eienaars rakende die volgende ontvang:

  • Foutboodskappe op die webwerf en die oproepsentrums wat nie operasioneel is nie. “Verskeie oproepe is nie beantwoord nie. Hoewel die departement aangedui het dat hul IT-span daaraan werk om die webwerf se haakplekke uit te sorteer, moet hy verseker dat die probleem nie deurlopend word nie.”
  • Klagtes oor die beperktheid van sub-sektor velde vir KMMO-registrasie. “Hoewel die webwerf bemark is vir KMMO’s wat wil aansoek doen om verligting van enige van die beskikbare fondse, blyk dit om slegs te wees vir die doel van besigheidsgroei en die fasilitering van veerkragtigheid wat ‘geteiken is op KMMO’s wat plaaslik higiëniese en mediese produkte wat in aanvraag is om die verspreiding van die Covid-19-virus te beheer en te bekamp, vervaardig en voorsien’. Baie kleinsake-eienaars wat graag wil registreer val egter nie in die raamwerk nie.”
  • Daar is nie ’n SSL-sertifikaat vir die webwerf in plek nie, en dit is dus kwesbaar. “’n SSL-sertifikaat behoort ’n basiese komponent te wees, veral in lig van die sensitiewe inligting wat aangevra word.”

Benewens die bogenoemde, was daar ook verwarring oor die aanwending van demografiese kriteria in die keuse van begunstigdes.

“Nadat haar kantoor bevestig het dat 51% swart eienaarskap nie ’n vereiste is nie, het min. Ntshavheni tydens die ministeriële inligtingsessie gesê dat sy wil seker maak daar is ’n ‘verteenwoordigende demografiese verspreiding’. As dit in die praktyk beteken dat die ANC ‘demografiese verteenwoordiging’ deur bv. rasse-kwotas wil bewimpel, is dit uiters problematies. Die probleem wat ons in die gesig staar is die behoud van werke, ongeag swart of wit eienaarskap,” het Mbhele bygevoeg.

“Die DA glo dat die vraag oor die eienaar se ras van die registrasieform verwyder moet word, en die webwerf herontwerp moet word om die bogenoemde tekortkominge op te los. Dit sal klarigheid en gemoedsrus bring.”

Ntshavheni het ook aangedui dat die departement ’n 14 dae-omsetperiode vir KMMO-bystand beoog. “Terwyl ons die moeite wat dit verg om al die sisteme en prosesse in so ’n kort tyd op te stel waardeer, is dit ongelukkig gans te lank vir die duisende klein ondernemings wat dringend verligting benodig en hul werknemers moet betaal. Veral inaggenome die verwagte stadiger uitbetaling van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

“Ten laaste, ter erkenning van die ‘hele samelewing’-benadering wat benodig word om die huidige krisis af te weer, stel die DA voor dat die departement ’n ‘Koop Kleinhandel, Koop Plaaslik’-promosieveldtog van stapel stuur wat Suid-Afrikaners aanmoedig om klein ondernemings te ondersteun en help om kop bo water te hou in die korttermyn, en om ekonomiese herstel te bevorder wanneer die ergste verby is.”

Mbhele het bygevoeg die DA wil verbruikers veral aanmoedig om straatverkopers te ondersteun wanneer hulle voorraad vir die 21 dae-afsondering koop. Sulke handelaars sal die swaarste getref word.

Toerisme

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen vandag in ’n aanmaningsbrief aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, daarop aangedring dat die voorgestelde bepalings gebaseer op ras, ouderdom, gestremdhede en geslag vir verligting vir ondernemings in die toerismebedryf geskrap word.

Dít volg op Kubayi-Ngubane se aankondiging gister tydens ’n mediakonferensie dat aansoeke om finansiële hulp tydens die COVID-19-pandemie in die toerismesektor op ’n swartbemagtigingsgrondslag gedoen sal word.

Die departement het verder leweringsmeganismes vir die verspreiding van verligting gepubliseer. Dit sluit die volgende in:

  • 70% van die ondernemings moet in swart besit wees;
  • 50% van die ondernemings moet deur vrouens besit word;
  • 30% van die ondernemings moet deur jeug besit word; en
  • 4% van die ondernemings moet deur persone met gestremdhede besit word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, behoort dit nie saak te maak wie die eienaars van ’n onderneming is wanneer bepaal word watter ondernemings hulp nodig het nie. “Al die ondernemings wat deur hierdie pandemie geraak word, dra by tot die ekonomie en skep direk of indirek werk in ’n land waar dit broodnodig is. Nood diskrimineer nie, en die regering behoort ook nie.”

AfriForum het ook in sy brief ’n skriftelike onderneming van die minister en die departement geëis dat hierdie bepalings geskrap sal word. Indien die departement nie aan hierdie versoek gehoor gee nie, is AfriForum van voorneme om met ’n dringende aansoek teen die minister en die departement voort te gaan.

“In hierdie krisistyd behoort almal saam te staan teen ons gemeenskaplike vyand, COVID-19. Dit is daarom tragies en immoreel dat die regering binne hierdie konteks steeds voortgaan om ’n rasgedrewe agenda te bevorder. Benewens die praktiese bystand wat AfriForum se gemeenskapstrukture tans lewer, word ons nou deur die regering se rasbeheptheid gedwing om toenemend in hierdie tyd ons rol as burgerregtewaghond te vervul, deur in die belang van ons lede op te tree en ook te verseker dat almal in die land se regte beskerm word. Die stryd vir billikheid word ook bemoeilik deur diegene wat kommer oor die regering se rassemaatreëls valslik as fopnuus probeer afmaak,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Venter ·

‘Groeipyne!’ Ok dis ook ‘n manier van rasgedrewe uitdruk. SEB en regstellende aksie was seker ook aanvanklik groeipyne, dit nou tot dit volwassenheid bereik het.

Piet ·

Ek wil dmv Maroelamedia ‘n versoek aan Pres Ramaphosa rig om ernstig op te tree teen die ministers wat rasgedrewe verklarings uitreik. Hier die tydperk van die “lock down” is nie daar om politieke voordeel uit te wil trek deur onverantwoordelike verklarings nie. Dit is uiters onverantwoordelik.

daniel ·

Alles draai mos maar net om die bevordering van korrupsie moontlikhede vir n sekere groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.