Spoedkameras in Goudstad werk nie

Spoedkamera (Foto: Argieffoto, Pixabay)

Spoedkameras en draagbare toestelle waarmee spoed afgedwing word in die Stad Johannesburg is al byna ʼn jaar lank buite werking.

Dit is omdat die diensverskaffers wat vir dié toerusting verantwoordelik is se dienskontrakte al op 31 Mei 2021 verstryk het.

Volgens Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, sit die stad vir byna ʼn jaar al sonder ʼn diensverskaffer om hierdie toerusting te diens en kan hulle gevolglik nie spoedboetes uitgee nie. Spoedvrate kom en gaan en die stad se hande is afgekap.

“Die stad is wel besig om ʼn nuwe dienskontrak te evalueer en te finaliseer om ʼn nuwe diensverskaffer aan te stel,” het Fihla aan Maroela Media bevestig.

Volgens Fihla verloor die stad miljoene rande deurdat hy nie ʼn inkomste uit spoedboetes kry nie. Die stad het altyd staatgemaak op sowat R3 miljoen se inkomste per maand wat uit spoedboetes gegenereer word.

Fihla sê ondanks die inkomsteverlies is die hoofdoel van die spoedtoerusting om ongelukke te voorkom deur padreëls te handhaaf.

“Spoed is egter een van die hoofoorsake van ongelukke. En indien ons daarvoor ʼn stokkie kan steek, kan ons help om ongelukke te verminder.”

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het sy skok oor die situasie uitgespreek.

“’n Ondersoek moet onmiddellik van stapel gestuur word om te bepaal wie vir dié nalatigheid aanspreeklik gehou moet word, en dissiplinêre stappe teen die betrokke individu of individue moet begin,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

“Ons woon in ʼn land met een van die hoogste padsterftes per capita ter wêreld. Doeltreffende verkeerswetstoepassing (saam met behoorlike vervolging van oortreders) bly van kardinale belang om hierdie situasie doeltreffend te bestuur. Hoewel die feit dat die spoedkameras nie werk nie erg genoeg is, stuur hierdie belaglike wending ʼn boodskap dat die Johannesburgse metropolisie verkeerswetstoepassing nie ernstig opneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

VaalDonkie ·

Mooi. Kameras keer nie gedrag nie, dit monitor dit net sodat daar ‘n boeta gestuur kan word. Spoedhobbels en ander fisiese strukture beperk spoed. Dis net soos mense wat dink hulle is veilig want hul huise het kameras op. As daai kamera nie ‘n geweer of ‘n vlamwerper aan het nie, gaan hy NIKS keer nie. Jy gaan hoogstens ‘n fototjie kry om vir die hof te wys.

Koen ·

Feit is, jy oortree die wet as jy jaag. Mense moet verantwoordelikheid vat vir hulle dade. Spoedhobbels op die snelweg? Bhaaaaa. Jy is snaaks. Miskien sal slaggate werk.

Nie Verbaas ·

Die ANC besit nou maar net die vermoë om tot n Chappie oneetbaar te maak. Ek glo nie die mense weet hoe onbevoeg en pateties hulle werklik is nie. Viva BEE!!

Kokerboom ·

DA burgemeester: dank die goed wat nalatig was af en kla hul aan. Die begrippe “toekoms, beplanning en onderhoud” bestaan NIE in kaders se verwysingsraamwerk! Besef dit tog nou vir eens en vir altyd!!!

Mallie ·

Plaas hulle liewer worry oor die trok bestuurders en taxis wat twee- twee langs mekaar op die snelwee ry en die oorsaak is van meeste van die ongelukke.

mattk ·

Dit is nie net in Gauteng nie. Verkeersbeamptes word aangestel en ry lekker rond op staats onkostes. Hulle is meer in inkopiesentrums as op die pad. In ons dorp sien jy hulle slegs op openbare vakansies dae besig om spoed te vang, andersins is hulle afwesig. In eie “ou dae” het hulle ñ daaglikse teiken gehad en daarvolgens is hul prestasie gemeet. Sigbare wetstoepassing voorkom ongelukke, nie kameras op pale nie.

Souterig ·

Gebruik die piekniek tyd wat agter kameras spandeer word om bietjie in die verkeer te patroleer en roekelose bestuurders aan te vat, dit sal baie meer doeltreffend wees wat padveiligheid aanbetref.

Heinrich ·

Los die verdomde kameras en vat die taxis vas; huylle veroorsaak baie meer ongelukke met hulle wettelose en boelie optrede op die paaie.

Dries ·

Ek was verlede naweek in JHB. By twee besige kruisings, sowat 200 meter uitmekaar, was die verkeersligte buite werking. N 150 meter verder het die metropolisie motors afgetrek en deursoek. Ek was verbaas dat hulle nie erder die verkeer reguleer by die kruisings nie. Is dit gebrek aan logika?

Renier johannes ·

Hou op om koop geld vat en skry julle boetes uit dis ook waar julle verloor

marius ·

Lig julle sitvlakke uit jul stoele en sluit diegene wat soos maniake bestuur toe . Geen boetes nie want dit word afgelag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.