Spoedvraat eis lewe van jong jagluiperd

Die jagluiperd wat doodgery is (Foto: Verskaf)

ʼn Jong jagluiperd is Dinsdag in die Terra Firma-gebied in Noordwes doodgery. Die bestuurder van die voertuig het glo op die grondpad gejaag en die jagluiperd getref.

Volgens Deon Cilliers van die organisasie Cheetah Outreach Trust, was die jong jagluiperd deel van ʼn trop van ses wat die middag in die grondpad geloop het. Na wat verneem word, het ʼn voertuig teen ʼn “hengse spoed” in die pad aangejaag gekom.

“Die vinnige jong luiperd het nie ʼn kat se kans teen die vinnige voertuig gestaan nie en is deur die voertuig getref. ʼn Boer in die gebied het ons van die voorval in kennis gestel en het onder leiding van een van ons veldbeamptes DNS-monsters vir navorsingsdoeleindes ingesamel,” het Cilliers gesê.

Cilliers doen ʼn beroep op mense om nie op paaie in landelike gebiede te jaag nie. Hy vra hulle moet op die uitkyk wees vir jagluiperds wat veral soggens vroeg en smiddae laat die paaie kruis.

“Die motor se ligte verblind die jagluiperds wat hulle dan kwesbare slagoffers maak.”

Volgens Cilliers is dit van kardinale belang dat jagluiperds bewaar word omdat hul bevolking in die land aan die afneem is en die onnodige verlies van jagluiperds kan ʼn groot impak op die volhoubaarheid van die jagluiperdbevolking op lang termyn hê.

Dié honde word saam met die vee groot en beskerm hulle teen enige roofdieraanvalle. (Foto: Cheetah Outreach Trust)

Volgens die organisasie is daar maar net ongeveer 1 326 jagluiperds in Suid-Afrika oor, waaronder 412 in Krugerwildtuin, 80 in die Kgalagadi-oorgrenspark, 334 in klein parke en private reservate, en ongeveer 500 wat vry in landelike gebiede in die noordelike deel van die land rondloop.

Die organisasie sê die hoofrede waarom die jagluiperds se bevolking só afneem is weens die verlies aan habitat en prooi in die hele Afrika. Dit is weens die drastiese toename in menslike bevolking en die verspreiding van huisdiere op die kontinent.

In ʼn poging om die jagluiperdbevolking te bewaar, werk Cheetah Outreach Trust al sedert 2005 saam met boeregemeenskappe om ʼn oplossing te vind vir die probleme wat ontstaan wanneer jagluiperds op plase woon en rondbeweeg.

Die organisasie bied aan boere praktiese en werkbare oplossings om die aanvalle van jagluiperds op vee te verminder of te voorkom. Dit word moontlik gemaak deur die gebruik van anatoliese herdershonde. Dié honde word saam met die vee groot en beskerm hulle teen enige roofdieraanvalle.

Hierdie honde word al vir 6 000 jaar in Turkye as herders geteel en gebruik.

“Só bewerkstellig ons sinergie waar boere hul vee kan beskerm, maar terselfdertyd ’n verdraagsame habitat vir die jagluiperds skep. Jagluiperds kan dus in hul gebied aanbly, sonder dat die boere bekommerd hoef te wees of hierdie roofdiere hul vee sal vang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mel

Mag dai jagluiperd by jou spook !!!!!!!!!

Alexander

Die skuldige waarskynlik ‘n sangoma aanbidder, so mag die tokkelossie by hom spook

Casper

Omskryf vir my “‘n hengse spoed”.Die jagluiperd kon voor die voertuig ingeloop het sodoende kon dit ‘n ongeluk gewees het.

Gysbert

Boere hou nogal van jaag op grondpaaie. Seker omdat hulle daai paaie gereeld ry en dit ken.