Spoedvraat gebruik Covid-19 as verskoning

Die bestuurder van ‘n blou BMW is in Alberton afgetrek omdat hy glo meer as 200km/h gery het.

ʼn Beweerde spoedvraat het homself Sondag uit die moeilikheid probeer praat deur voor te gee dat hy jaag om sy passasier, wat met Covid-19 besmet is, by die hospitaal te kry.

Die bestuurder van ʼn blou BMW M5 is Sondag deur die Ekurhuleni se metropolisie op die N3-noord tussen die Gillooly-aansluiting en Linksfield-afrit betrap terwyl hy 204 km/h in ʼn 120 km-sone gery het. By navraag het die mansbestuurder, wat oorspronklik van Mpumalanga is, beweer hy jaag hospitaal toe met sy passasier omdat dié kwansuis simptome van Covid-19 toon.

“Die bestuurder is onmiddellik in hegtenis geneem en na die Bedfordview-polisiestasie geneem. Die passasier het erken hy is nie besmet nie nadat polisiebeamptes hom op die toneel ondervra het,” het die metropolisie Sondag in ʼn verklaring gesê.

Nog ʼn beweerde oortreder het gesê sy is laat vir ʼn tandartsafspraak en daarom het sy die spoedgrens met meer as 50 km/h oorskry. Die metropolisie het Saterdag ʼn 23-jarige vrou in ʼn BMW1 voorgekeer nadat sy na bewering 174 km/h in ʼn 120 km-sone gery het. Die beweerde oortreder is 11:25 op die N12-oos in Alberton voorgekeer.

“Die bestuurder het beweer sy is laat vir ʼn tandartsafspraak, daarom dat sy gejaag het,” lui die verklaring vanaf die metropolisie. Die bestuurder is na die Alberton-polisiestasie vergesel.

Op dieselfde pad is ʼn 39-jarige mansbestuurder van ʼn Golf GTI vroeër Saterdagoggend in hegtenis geneem nadat hy glo 168 km/h gery het. By hom was sy negejarige seun. “Die bestuurder het beweer hy jaag om ʼn koek vir sy seun se verjaarsdag te gaan haal,” het die metropolisie gesê.

Al drie bogenoemde bestuurders word aangekla van nalatige en roekelose bestuur en sal Maandag in die Palmridge-landdroshof in Johannesburg verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Scalla ·

Onverskullige optrede, perk hul isensies vir n tydperk in.

Moerby1212 ·

Die mense will nie luister nie. Altyd lieg stories. Ek wonder hoeveel keer op n dag vertel hulle lieg stories. Dit is eintlik n akande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.