Spoedvraat ‘wat net motor wil toets’ vasgetrek

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

ʼn 36-jarige motoris is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hy op die R21 naby Olifantsfontein in Gauteng 200 km/h in ʼn 120km/h-sone gery het.

Die man was agter die stuur van ʼn Volvo XC60 toe hy Maandag deur wetstoepassers vasgetrek is.

Ofentse Morwane, woordvoerder van die Gautengse departement vir gemeenskapsveiligheid, het gesê die man beweer hy werk by die Internasionale Lughawe OR Tambo.

“Hy het aan wetstoepassers gesê hy wou net die motor toets aangesien dit pas vir ʼn diens by die motorhawe was,” het Morwane gesê.

Die man is na die Olifantsfontein-polisiestasie geneem waar hy van roekelose en nalatige bestuur aangekla is. Hy het reeds in die Midrand-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 500 vrygelaat.

“Daar is die afgelope langnaweek 26 padsterftes in Gauteng aangeteken en in baie van hierdie gevalle was oormatige spoed een van die faktore wat tot die sterftes bygedra het.

“Wetstoepassingsbeamptes in die provinsie sal deurentyd op die uitkyk wees en streng optree teenoor mense wat die verkeersreëls verontagsaam,” het Morwane gesê.

“Padveiligheid is almal se verantwoordelikheid en motoriste word gemaan om hulle by die reëls van die pad te hou en sodoende lewensverlies te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaap ·

Dis maar stadig vir ‘n XC60. Ek vermoed die motor is nie behoorlik gediens nie. Ek stel voor jy vat die motor terug na die handelaar.

Mrs H ·

Bwhahahaha hoe lekker giggel ek nou. Die brandstof pedaal het steeds vasgehak na die diens ne…

Karolis ·

Ongelukke gebeur teen enige spoed. Die ernstigheid van ongelukke verskil wel teen verskillende spoed. Oormatige spoed is bv. enige spoed vanaf 120,1 kmpu in ‘n 120 kmpu sone. Let wel, die ou is vir spoed gevang, hy het nie ‘n ongeluk veroorsaak nie.
Ofentse moet eerder kyk na oorsake soos roekelose en nalatige bestuur, bestuur sonder rybewys, ongelisensieerde voertuie, onpadvaardige voertuie, bestuur onder invloed ens.

PJC ·

Dis maar goed hierdie ou het nie ń vinniger motor gehad nie want dan was hy nou regtig diep in die moeilikheid.

Spark Plug ·

Gelukkig het die ou nie gejaag nie. R1500 vir vinnig ry maar R500 vir moord

Johan ·

Spoed het niks met padsterftes te doen nie, dit is wel n maklike inkomste vir die regering.

Dom vraag ·

Wat maak OR Tambo met sulke duur motors? Moet hulle vir iets wegjaag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.