Spoegkobra pik kind (6) in gesig

Mikayla Grove. Foto: Verskaf

Mikayla Grove (6) sterk in ʼn hospitaal aan nadat sy deur ʼn Mosambiekse spoegkobra op ʼn kleinhoewe in KwaZulu-Natal gepik is terwyl sy in haar bed gelê en slaap het.

Arno Naude, ʼn slangkenner en dosent aan die Universiteit van Pretoria, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het Sondagaand op ʼn kleinhoewe buite Ballito plaasgevind. Naude het van die voorval te hore gekom toe Mikayla se pa, Ludwig Grove, hom genader het vir raad en wat hulle in die toekoms te wagte kan wees.

“Die dogtertjie se ma, Inge, het haar kind hoor skreeu en het gaan ondersoek instel toe die slang haar op ʼn afstand van 30 cm in die oë gespoeg het. Ludwig het met hulle na ʼn hospitaal in Ballito gejaag waar Mikayla in die waakeenheid opgeneem is en Inge mediese behandeling ontvang het,” het Naude gesê.

Volgens Naude het dokters by die hospitaal vinnig opgetree en die regte teengif toegedien.

“Mikayla se keel het opgeswel en sy moes op ʼn ventilator geplaas word sodat sy nie versmoor nie. Sy is daarna onder verdowing gehou en as sy wakker geword het, het sy van die pyp in haar keel en die pyn van swelling gekla. Haar ma het herstel van die gif wat sy in haar oë gekry het en is aan haar dogter se sy.”

Inge het Dinsdag in ʼn Facebook-plasing gesê Mikayla is van die ventilator afgehaal en haal self asem.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir elke gebed en boodskap wat ons ontvang het nie. Sy reageer as ons praat en [die] swelling gaan ook af. Die hand van die Here was oor ons elke oomblik en ons is net so dankbaar vir goeie dokters, vriende wat onvoorwaardelik alles los en help en familie wat bid en bid,” het sy geskryf.

Ludwig het geskryf hul dogter vorder goed, sy reageer en kyk met oë wyd oop om haar rond. “Sy is steeds in die waakeenheid, maar buite gevaar. Ons sal in die volgende twee tot drie dae weet wat die omvang van die weefselskade sal wees.”

Naude het gesê die spoegkobra wat Mikayla gepik het, is deur ʼn slangkenner gevang en waarskynlik in die bos vrygelaat.

Hy het die publiek gewaarsku om versigtig te wees aangesien slange die afgelope tyd baie aktief is. Hy het gesê hy is bewus van minstens drie voorvalle sedert Sondag waarin mense deur slange gepik is. “Mense moet versigtig wees en so gou as moontlik by ʼn goeie hospitaal uitkom as so iets gebeur,” het hy gesê.

Mikayla se ouers het nie Woensdag op navrae om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

G ·

Ai poplap, ek hoop jy herstel gou. Dis sulke gebeure wat mens laat besef, elke dag wat met saam jou geliefdes kan spandeer, is net genade van bo, niks is ‘n gegewe nie.

Pop ·

Nee wat ek maak voor die voet dood. En kry slang afweermiddel en gooi oral in erf. Koop by supermark

Stemsaam ·

Ja my eerste gedagte was juis dit…hoekom is die slang losgelaat en nie doodgemaak nie.

Piet ·

Ek hoop die kleinding herstel goed. n Paar jaar gelede is n kind van Ellisras deur dieselfde soort slang gepik. Sy het oorleef maar haar handjie is redelik kapot en van die fingertjies is geamputeer. Sy het baie ander latente probleme agv die gif gehad. Oud burgermeester van Alldays is ook aan die hand gepik en die hand was tot en met sy dood onbruikbaar, seer en septies. My dogter en ek is ook al gespoeg. As ek so slang naby my huis kry vrek hy daar en dan.

Mariette ·

Ek sal enige slang pik/byt na Arno verwys…Ja mens voel maak dood maar leerr meer..groep op fb Snakes of South Africa ,Gaan lees daar .Glo my julle sal baie leer en nie net wil dood maak. Ook op Arno se groep Snake bite assits…Sterkte poplap jy sal ok wees

PJC ·

Ai dit is jammer dat die ou dogtertjie dit moes deurmaak. Hoop sy is gou gesond. Dit is egter nie die slang se skuld nie.

Sê net ·

Ek sê ook maak dood. Nie almal het toegang tot goeie mediese hulp nie. Hoop die klein ding herstel ten volle.

Jean ·

Baie sterkte kleine skattebol ek bid jy mag jy vinnig herstel sonder probleme..

Jankees ·

Nou lag ek hardop vir jou Alida. Die “slang” in die Bybel is nie n regte slang!! Raai, die Ark het dan ook n spesie of twee gehuisves. Sterkte vir die kleintjie.

Afrikaanse Knaap ·

Genade dis ‘n wilde storie, die arme kind.
Dis vir my ‘n riem onder die hart om te hoor dat die hospitaal so bevoeg was.
Ek hoop die dogtertjie sterk mooi aan.

Theresa B ·

Hoop jy word gou gesond Mikayla. Klink vir my jy is ‘n sterk dogtertjie. Baie drukkies vir jou. So bly Mamma is ook ok. Sterkte julle!!

Gesiggie ·

Dankie Jesus, dat Mamma en Pappa vining genoeg by die hospitaal kon kom… .mag jy sommer vining beter word… ja dit is beter om die slang dood te maak, maar daar is wel nog baie ander daar buite?

Denise ·

Waar ek bly is daar pofadders, bergadders, king kobra, boomslang ons het baie van die slange gekry net die erf skoon gemaak katte en honde gekry nou kom hulle net as die berg brand of dors is maar die honde is my alarm en ja hulle sal altyd daar wees ons is maar net baie versigtig !!!! Sterkte aan die familie!!!!

Bosveld ·

Mens maak nie net slange dood nie,meeste van hulle is skadeloos,as daar nie meer slange is nie gaan die rotte en muise julle tone begin afvreet in die aand,en koring en mielies opvreet…wat dan?

Presies ·

Bosveld – stemm 100% saam. Rotte bring pes (Swart Dood) en allerhande ander peste as hul aanwas buie beheer raak. Slange het ‘n nut en doel in die natuur. En voor almal my nou weer aanval met “oeee. wat as dit jou kind was…” dan sou ek presies nog so voel. Ek voel beslis jammer vir die kleinding maar ja, mens moet maar allerhande voorsorg probeer tref. Leer meer oor slange, Johan Marais ook ‘n kundige op gebied van slange het goeie boeke oor identifikasie, wat om dadelik te doen sou een jou pik, ens uitgegee. Maak seker jy het noodnommers van hospitale wat dadelik kan help op jou selfoon. Nou die dag he t’n luiperd in Botswana oorgrenspark ‘n vrou uit hul tent probeer sleep – moet mens nou alle luiperds doodmaak? Die seekoei is bekend daarvoor as die dodelikste dier in AFrika en veroorsaak meer sterftes as meeste diere – moet mens hul nou almal doodmaak? Ons leef saam met die natuur sover ons kan en is maar net baie versigtig. Jip, ons het poffies, rinkhalse, nagadders, spoegkobras, wolfslange, rooilippies, molslange ens oral om ons en ons maak NOOIT net dood nie.

Hennie ·

Pop en Gisela: ongelukkig is alle slangafweermiddels ‘n foefie – al sê die etiket op die houer in die supermark ook wát. Hierdie middels is telkens deur kenners in die praktyk getoets en hul bevindinge is wyd bekend.

Mariette verwys na die FB-groep waar verskeie kenners – Arno ingesluit – waardevolle bydraes lewer. Ek reken die beste is:

♦ Hou jou erf skoon van rommel (verskoning hier – ek sê nie daar ís rommel nie).
♦ Kry die besonderhede van mense wat slange in jou omgewing verwyder (beskikbaar op Snakes of South Africa) en heg dit aan jou yskasdeur.
♦ Om slange voor die voet dood te maak, is nie die oplossing nie. Ook húlle vervul ‘n belangrike rol in die ekologie.

Intussen ook baie sterkte aan Mikayla en haar ouers.

Joyce ·

Ek het geleer hou n kat of drie aan op n plot of plaas hul hou slange weg uit jou huis

Hennie ·

Wanneer ‘n hond iemand byt moet hy doodgemaak word, maar die dodelike kobra word vrygelaat.

Helga ·

Ek wil net graag weet, as ‘n hond ‘n kind byt word hy doodgemaak, maar wat van ‘n slang, maak DOOD !!!

Suzie ·

Daar staan in die groot boek geskryf…”hy sal jou in die hakskeen byt en jy sal sy kop vermorsel”

humor ·

Leer slange beter ken. Maak alleen die giftiges dood of dan sommer vrek. Weet u wat die ellende kan wees as iemand in die gesig of ook iewers gepik word. Slange het nie alleen aanspraak op die natuur nie. Daar is genoeg vyande van slange. Ek het hul al self waargeneem. Ratels, verskillende meerkatte wat volop is.Self gesien hoe n likkewaan n meter en half geelslang ingesluk het. Gsesien hoe n blouvalk met n pofadder wegvlieg. Sekretarisvoels en ook gesien dat hul kanibale is en mekaar insluk. Ekself is al byna 2 keer deur n mamba gepik. Nie omdat ek onverskiilig was nie maar in ruie veld gestap het.

Sann ·

Slange is tog nie unieke vreters nie… Uile hou ook knaagdiere in tooms. Die rede waarom katte help om slange van die werf af weg te hou, is omdat hulle dan kompeteer vir dieselfde prooi. “Mens troetel nie die adder aan jou boesem nie”.

Chris Venter ·

Word gou gesond jong ons almal bid hard vir jou, hou ons asb op hoogte asseblief

Marie ·

Kobras eet ander slange,as jy hulle uitroei het jy nog meer probleme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.