Spoegkobra pik pa, seuntjie in bed

Die Vermeulen-gesin (Foto: Verskaf)

ʼn Pa van Botswana en sy 22 maande oue seuntjie word in ʼn Pretoriase hospitaal behandel nadat ʼn Mosambiekse spoegkobra albei Maandag in die vroeë oggendure op hul plaas, Waterloo, in die Tuliblok gepik het.

Jollie Vermeulen (38) sê sy het haar yskoud geskrik toe haar man, Lennie (38), skielik na haar roep en sê dat hy en een van hul tweelingseuntjies, Lex, pas deur ʼn slang gepik is.

“Leo – Lex se tweelingboetie – was die aand baie onrustig. Ek het hom probeer rustig maak deur hom by my in die bed te laat lê; Lennie het by Lex in die bed gaan klim.

“Lex het egter wakker geword toe Lennie by hom in die bed klim. Hy het wakker geword en net begin huil,” vertel die ma.

“Lennie wou vir Lex troos en hom op sy borsie vryf, toe hy skielik voel hoe iets hom ook byt.”

Lennie het dadelik besef dit is ʼn slang en het die kobra na die bed se voetenent geslinger voordat hy die slang met ʼn kussing daar vasgedruk het. Hy het dringend na Jollie begin roep.

Die slang het in daardie stadium reeds vir Lex aan die enkel gebyt. Pa Lennie is op sy hand gebyt.

Jollie sê hulle het dadelik ʼn dokter op Ellisras gekontak en moes spesifiek reël om daardie tyd van die nag die grenspos oor te steek. Ellisras is die naaste Suid-Afrikaanse dorp aan die gesin se plaas en hulle doen hul maandelikse inkopies daar.

Klein Lex (Foto: Verskaf)

“Ek het dadelik my skoonma-hulle gebel, wat ook in Botswana woon, sodat hulle vir Leo by hulle kan hou terwyl ons Ellisras toe jaag.

“Toe ons by die dokter op Ellisras kom, was die teengif reeds reg. Die dokter het dadelik die ampules toegedien en gereël dat Lennie en Lex per ambulans na die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria geneem word. Hy het aan ons verduidelik dat verdere prosedures vermoedelik nodig gaan wees.”

Dit gaan in hierdie stadium egter baie goed met haar “twee manne” en albei is in ʼn bestendige toestand, sê Jollie. Hulle het Dinsdag met hiperbariese suurstofterapie begin, “en dit verrig wondere”.

“Ons sal egter eers Donderdag weet of enige verdere prosedures nodig is en of daar weefsel is wat verwyder moet word. Dit lyk in dié stadium of Lex meer gif ingekry het as Lennie.

“Ek weet nie regtig wat om te verwag nie – met ʼn slangbyt is elke dag maar ʼn verrassing. Die dokters het vanoggend vir Lex met antibiotika ook begin behandel; ʼn slang se bek is mos maar vuil,” skerts sy.

Jollie sê sy kan nie anders as om haarself tot ʼn mate oor die voorval te verwyt nie.

“Ons het die vorige dag kuiermense gehad en ek het vergeet om seker te maak dat die voordeur heeltyd toegetrek is. Dit is seker die belangrikste ding wat ʼn mens kan doen – om jou deure toe te hou.

Lennie Vermeulen (Foto: Verskaf)

“Ek vermoed dat klein Leo ons eintlik al die dag voor die voorval probeer waarsku het dat daar ʼn slang is. Hy het saam met sy ouma in die kamer gespeel en onder die bed ingeklim om ʼn bal te kry en toe hy onder die bed uitklim, toe sê hy dadelik ‘mamma nat’,” vertel sy.

“Ons vermoed dat die Mosambiekse spoegkobra reeds toe al onder die bed was en vir Leo gespoeg het, maar ons sou dit net geweet het as die slang hom in sy ogies gespoeg het, wat nie die geval met Leo was nie.”

Jollie sê hulle het al dikwels vantevore slange in die huis aangetref, maar was elke keer paraat en kon die slange betyds verwyder.

“Maar ons het nog nooit ʼn slang in een van ons beddens gekry nie. My mamma-hart voel sleg, want dit voel of ek meer kon doen om seker te maak dat so iets nie gebeur nie.”

Nou kyk hulle vorentoe en hoop en bid vir die beste, sê sy. En talle mense bid saam.

“Die dokters is darem heel positief dat Lex nie funksie in sy voetjie sal verloor nie, so sy tendon en spiere behoort nie skade op te doen nie. Hulle moet nog net seker maak of daar nie dalk weefselskade is nie.

“Ek is net so trots op hoe my man die voorval hanteer het. Hy het regdeur alles sterk en helder gebly om my deur elke stap te lei. Ek is ook net regtig dankbaar vir die bekwame hande waarin my twee manne beland het. Van Ellisras tot hier het ons nog net uitstekende diens ontvang.

“Lennie en Lex sal Woensdag nog hiperbariese suurstofterapie ontvang en dan sal ons Donderdag hoor wat vir my twee brawe manne voorlê.”

Die Vermeulen-gesin (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank ·

Ek soek daai Ellisras dokter se naam en nommer. Niemand in Potties weet waarheen om te gaan vir ‘n slangbyt nie. Almal sê: “Probeer maar hier… of probeer maar daar…”
Wil nie erens “probeer” as my kind deur ‘n Mamba gepik is nie

Joan ·

Kan dit wees dat as Leo wel deur die slag gespoeg was, dit die rede kon wees dat hy nie goed gevoel het en huilerig was nie? Dalk moet hy ook maar getoets word vir ‘n mindere mate van vergifting.

bolletjie blom ·

Mosambiekse spoegkobras is bekend daarvoor dat hulle in ‘n bed gaan skuil. Meeste van die ander gevalle was ook waar kinders in die bed gepik is. Dit kon baie tragies gewees het as dit ‘n mamba was. Bid dat pa en seun volkome sal herstel.

Danie ·

Ek glo dis n nare ondervinding en so bitter bly hulle is nou veilig.Ek glo nie in die bewaring van die spesie daar baie ander spesies wat hulle plek kan vat.

Bolandse Nooi ·

Sjoe, dit was “quick thinking” van die man en veertjie-in-die-hoed vir die dokter en mediese span wat paraat was! Dankie, julle – en sterkte aan Pa en seun met die herstelproses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.