Spoegkobra-slagoffer weer tuis

Dawid saam met sy ma, Retha, en pa, Philip. Foto: Pray for Dawid / Facebook

Dinsdag, presies ʼn maand nadat ʼn Mosambiekse spoegkobra vir Dawid du Plessis (5) op sy hand gepik het terwyl hy in sy bed lê en slaap het, kon hy uiteindelik terugkeer na sy ouerhuis op ʼn kleinhoewe in Limpopo.

Dawid is op 23 Januarie omstreeks 23:30 op die kneukel van sy linkerhand se ringvinger gepik. Hy woon saam met sy ouers, Philip (39) en Retha (33) du Plessis, op ʼn kleinhoewe in die Bulgerivier-omgewing buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo. Retha en Philip is betrokke by The Fold-kinderhuis wat na 33 kinders omsien.

Nadat die slang vir Dawid gepik het, het Philip en Retha hom en sy sussie, Megan (11), na ʼn hospitaal in Lephalale gehaas. Dawid is daar in die waakeenheid opgeneem en teengif toegedien. Sy ouers het hom op 25 Januarie in die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria laat opneem nadat sy toestand verswak het. Hy is sedertdien in dié hospitaal versorg, waartydens hy talle operasies moes ondergaan. Ten spyte van volgehoue behandeling moes sy linker ringvinger egter op 11 Februarie noodgedwonge geamputeer word.

Personeel en Dawid se maatjies van die kinderhuis het hom Dinsdag met ʼn toejuiging en bederfgoedjies, soos ʼn Lego-stel en muffins, verwelkom toe hy uiteindelik uit die hospitaal ontslaan is en teruggekeer het huis toe. Selfs Jack, die gesin se miniatuur schnauzer, was uit sy nate om almal weer te sien.

“Dawid is baie bly om terug by die huis te wees en dinge kan nou in ʼn mate terugkeer na normaal. Hy moet nou nog baie arbeidsterapie ondergaan en handoefeninge doen en ons sal nog vir ʼn ruk lank een keer per week Pretoria toe moet gaan vir opvolgondersoeke en sodat sy wond versorg kan word,” het Retha Woensdag aan Maroela Media gesê.

Jack, die gesin se miniatuur schnauzer, was uit sy nate om almal weer te sien. Foto: Pray for Dawid / Facebook

Retha het gesê Dawid se hand is nog in verbande en hy dra ʼn sakkie wat Maandag opgesit is sodat die wond kan dreineer.

“Hy is aktief, maar nog nie soos hy altyd was nie. Hy raak nog vinnig moeg. Sodra hy sterk genoeg is, sal ons weer met sy tuisonderrig begin.”

Volgens Retha is Dawid sover “oukei” oor die amputasie en verstaan hy wat dit behels. “Al wat hy sê is dat hy nou nie meer tot tien op sy vingers sal kan tel nie. Hy sê ook nou hoef hy nie eendag ʼn trouring te dra nie, want sy pa dra ook nie een nie.”

Retha het gesê hulle het die hele huis omgekeer en kaste uitgepak om seker te maak dat daar nie weer ʼn slang in die huis ingekom het nie. “Nou begin die groot skoonmaaksessie,” het sy gesê.

Lees die vorige berigte oor Dawid op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ada ·

Ai moedertjie tog!
Bly hy is tuis.
Sterkte vorentoe sterk man!!

Blommie ·

So bly jy is tuis en dat liewe JESUS jou gespaar het vir jou ouers. Net een vragie hoe verseker mens dat slang se kind nie weer in die huis kom nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.