Spoggerig, Proteas!

Die Proteas het die toetsreeks met 2-1 beklink. Foto: Hansie Linde.

Die Proteas het – wat Dean Elgar as een van die span se belangrikste toetse in jare beskryf het – met sewe paaltjies gewen om die reeks teen Indië op Nuweland te beklink.

Die Suid-Afrikaners het vanoggend hul beurt op 101/2 hervat; nog 111 lopies weg van die wenteiken van 212 wat die besoekers vir hulle gestel het.

Keegan Petersen (82 lopies) het sy waarde tot die span met ’n skitterbeurt onderstreep. Hy is goed op die agtervoet, sterk op die voorvoet en staan hoegenaamd nie vir Indië se battery snelboulers terug nie.

Hoewel Cheteshwar Pujara hom met sy telling op 59 in die glippe misgevang het, het die jong Kapenaar die wind heeltemal uit die Indiërs se seile gehaal.

Rassie van der Dussen en Temba Bavuma vier die Proteas se sege in die derde en beslissende toets teen Indië. Foto: Hansie Linde.

Rassie van der Dussen (41 lopies) en Temba Bavuma (32 lopies) het daarna uitstekend gekombineer en Bavuma het met ’n grenshou van Ravichandran Ashwin se boulwerk die wedstryd vir die tuisspan gewen.

Om die wêreld se voorste toetsspan vir die tweede agtereenvolgende toets met sewe paaltjies te troef, is ’n verstommende vertoning.

Veral wanneer jy in ag neem wat alles in die aanloop én gedurende die reeks gebeur het: Die administratiewe warboel waarin Krieket Suid-Afrika homself bevind, Anrich Nortjé se ontydige besering, die transformasie-verhore, Quinton de Kock se skielike toetsuittrede en die nederlaag in Centurion.

Tog het Elgar volgehou dat sy span hul beste sal lewer.

“Eintlik het al hierdie vreemde tye gesorg dat ons band as spelersgroep net soveel hegter geword het. Selfs al gaan dinge sleg langs die veld, moet ons dit nie as ’n verskoning gebruik nie. Ons moet altyd daarop bedag wees. Ons is ’n professionele span wat op krieket fokus, en hopelik sal krieket na ons omsien.”

En krieket het beslis na hulle omgesien.

In Petersen en Marco Jansen het Suid-Afrika nuwe kriekethelde gekry, terwyl Elgar, Ngidi en Rabada se vertonings ook vir glimlagte gesorg het.

Indië is behoorlik gelooi.

Soos wat Sunil Gavaskar in die kommentatorshokkie gesê het: Die besoekers se droom om ’n toetsreeks in Suid-Afrika te wen het in ’n nagmerrie verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Groot pakslae vir die sogenaamde nommer 1 span in die wereld. Welgedaan manne, trots op julle.

Herman ·

Virat Kohli is n slegte verloorder. Alle respek vir hom as kaptein verloor.

Jacobus ·

Veels geluk. Wys die administreerders dat hulle julle nie sal ontwrig nie.

Philip ·

Dit sal net gepas wees as julle dank dan op julle kniee na die Christus opdra in plaas van n kniebuigery voor blm en hulle aanhangers/krieketbeheer in SA.

Koen ·

LoL….Jy is seker nou baie ontseld dat jou span verloor het. En gaan dweep op ‘n ander blad. Nie almal deel jou sogenaamde “christenskap” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.