Spogskool in KZN gesluit weens Covid-19

‘n Skermskoot van Cowan House Preparatory School se skoolgronde. (Foto: Google Maps)

’n Privaat skool in Hilton naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal is Vrydag gesluit, nadat die eerste bevestigde geval van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 in dié dorp aangemeld is. Die pasiënt se twee kinders is vermoedelik leerders aan dié skool.

Cowan House Preparatory School het Donderdagaand in ’n verklaring gesê die skool het verskeie navrae van ouers ontvang of die skool vandag gesluit sal wees, waarna die skool die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) genader het om raad.

Hoewel Nios aangedui het dat dit onnodig sou wees, het die skool tog besluit om vandag te sluit.

“Weens die tekort aan duidelikheid en onsekerheid in dié stadium, het ons die konserwatiewe besluit geneem om Cowan House Vrydag te sluit. Dit sal ons die nodige tyd en geleentheid bied om bykomende raad en leiding te bekom,” sê die skool in die verklaring.

Alle buitemuurse aktwiteite wat oor die naweek sou plaasvind, is ook gekanselleer. Popo Maje, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, sê die skool is gesluit ná ’n aankondiging dat een van die ouers positief getoets het vir Covid-19.

Die regering het Donderdag aangekondig ’n 38-jarige man van Hilton het positief vir Covid-19 getoets.

Maroela Media het vroeër berig die man het onlangs saam met sy vrou vanuit Italië teruggekeer. Hy het Sondag saam met ’n groep van tien mense in Suid-Afrika geland en Dinsdag dokter toe gegaan met simptome van koors, hoofpyn, ’n seerkeel en ’n hoes. Die man, sy gesin en sy dokter word tans tuis in kwarantyn gehou.

Die Nios sal na verwagting 14:00 ’n mediakonferensie vanuit Hilton hou om Suid-Afrikaners op die hoogte te bring van verwikkelinge.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Goeie besluit! Die NICD trust ek so ver ek hul kan gooi…

Sandra

Ek wil nou nie hoes of nies nie, maar my beskeie mening is dat die ding nou totaal oordryf word. Word daar so tekere gegaan wanneer iemand met meningitis of enige ander aansteeklike siekte gediagnoseer word?

Estelle

Ek hoop so hierdie virus sal die mense in ons land leer om higienies te leef. Ek loop in Kaapstad en alles ruik na urine, daar word teen elke paal, pilaar en muur geurineer. Dan het daar darem iets goeds daarvan gekom.

Jakes

Die persoon en familie sowel as die geneesheer is onder kwarentyn geplaas en is bekende inwoners van Hilton.

AJ

Die ou is gemis by die lughawe … eers toe hy by ‘n ORDENTLIKE DOKTER uitkom is die Corona Virus korrek identifiseer.

Wat is die kanse dat die virus by gewone arm mense gediagnoseer sal word?

Die virus is moontlik LANKAL in sirkulasie tussen arm mense … net nog nie identifiseer nie.

Die virus was dalk reeds LAAS WINTER hier in SA … en het van hier na China versprei?