Sport óók ’n slagoffer van Covid-19

Die sokkerster Neymar van Paris Saint Germain vier ’n doel voor ’n leë stadion.(UEFA via AP).

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Covid-19 tot ʼn pandemie verklaar en verskeie sportgebeure is reeds uitgestel of gekanselleer in ’n poging om die virus te stuit.

Hier is van die sportgebeure wat al in die slag gebly het:

Atletiek:

Wêreldatletiek se beheerliggaam het die halfmaraton-wêreldkampioenskap tot 17 Oktober uitgestel. Die wedloop sou op 29 Maart in Pole plaasgevind het en meer as 25 000 deelnemers is verwag.

Intussen het Kenia se sportbase ook hul atlete belet om aan internasionale byeenkomste deel te neem.

“In ’n poging om ons atlete en land teen die virus te beskerm vra ons dat alle atlete hul reisplanne vir die volgende maand moet kanselleer,” het die Keniaanse regering in ’n verklaring gesê.

Die organiseerders van die Olimpiese Spele in Tokio hou voet by stuk dat die internasionale skouspel in Julie sal voortgaan, ten spyte van die wêreldwye toename in Covid-19-gevalle.

“Dit is ons standpunt dat ons sal voortgaan met ons voorbereidingswerk om ’n veilige Olimpiese Spele aan te bied. Ons dink glad nie daaraan om ons planne te verander nie,” het die organiseringshoofbaas, Yoshiro Mori, gesê.

Die Olimpiese vlam word agter geslote deure aangesteek. (AP Photo/Thanassis Stavrakis).

Die Olimpiese vlam is intussen Donderdag in Griekeland aangesteek. Lede van die publiek mag egter nie die geleentheid bygewoon het nie en slegs ʼn bepaalde aantal amptenare en joernaliste is na die geleentheid genooi.

Die fakkel sal na agt dae in Griekeland na Japan gevlieg word waarna dit op ʼn afloswedloop van 121 dae na Tokio sal vertrek.

Rugby:

’n Paar wedstryde in die Sesnasiesreeks in Europa het reeds in die slag gebly, waaronder die kragmeting tussen Italië en Ierland. Frankryk se wedstryd teen die Iere in Saint-Denis is ook uitgestel.

Dan het die Australiese media berig dat ’n persoon, wat later positief getoets het vir Covid-19, die Superrugby-kragmeting tussen die Lions en die Rebels in Melbourne bygewoon het.

Die HSBC-sewestoernooie in Hongkong en in Singapoer is reeds uitgestel.

Krieket:

Hoewel verskeie internasionale toernooie nog voortgaan, waaronder die Proteas se huidige toer na Indië en Engeland se avontuur na Sri Lanka, kan die komende Indiese Premierliga (IPL) voor leë pawiljoene gespeel word.

“Ons stop nie die spel nie. Ons probeer net verhoed dat daar ’n skare mense by ’n spesifieke plek byeenkom. Voorsorgmaatreëls is baie belangrik vir die gesondheid van die land,” het Indië se sportminister, Kiren Rijiju, gesê.

Sokker:

Juventus se Daniele Rugani is positief vir die koronavirus getoets. (AP Photo/Peter Dejong, File).

Real Madrid se sokkerspan is in kwarantyn geplaas nadat ’n basketbalspeler by die klub positief vir die virus getoets is. Wedstryde in die gewilde La Liga-kompetisie is ook vir minstens twee weke gestaak.

Italië se Serie A-wedstryde is tot 3 April gestaak, terwyl ’n hele paar UEFA-wedstryde agter geslote deure gespeel sal word.

Dan is verskeie Bundesliga-wedstryde in Duitsland in leë stadions gespeel in ’n poging om die verspreiding van die virus te keer.

Geen toeskouers sal ook by een van die land se taaiste tweestryde, Borussia Dortmund teen FC Schalke, toegelaat word nie.

Spelers van Arsenal in Engeland is ook in afsondering geplaas omdat hulle in kontak met Olympiakos se baas gekom het wat die virus onder lede het. Hul wedstryd teen Manchester City is tot ’n latere datum uitgestel.

Verskeie bofbalwedstryde het in die slag gebly. (AP Photo/Eugene Hoshiko, File).

Bofbal:

Die bofbalseisoen in Suid-Korea is tot April uitgestel.

Basketbal:

Alle basketbalwedstryde in Europa is vir die voorsienbare toekoms uitgestel, terwyl kwalifiserende wedstryde vir die Olimpiese Spele in Junie hervat sal word.

Die NBA in die VSA het reeds sy wedstryde gekanselleer.

Gholf:

Ten spyte van toenemende koronavirus-vrese, sal The Players-kampioenskap in Florida se eerste ronde steeds voortgaan.

Organiseerders het wel op Twitter gesê dat toeskouers wat nie meer die kampioenskap wil bywoon nie, hul toegangskaartjies se geld kan terugeis.

Die spelers sal egter nie hul handtekeninge tydens die toernooi uitdeel nie.

Formule Een:

McLaren se F1-span het hom aan die Australiese Grand Prix onttrek nadat een van hul spanlede positief vir Covid-19 getoets het.

Die F1-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het gesê dit is skokkend dat die wedren nog kan voortgaan te midde van die koronavirus-bedreiging. Volgens Hamilton stel organiseerders finansiële probleme bé die publiek se gesondheid.

Daar is egter vandag bevestig dat die Australiese wedren inderdaad uitgestel is.

Die F1-wedren is Shanghai is ook uitgestel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boertjie ·

Jongste nuus: F1 se base het intussen besluit om die naweek wél die Australiese GP te kanselleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.