Sportman dalk been kwyt ná spuitvliegtuig hom glo tref

Tiaan Daffie (21) in die hospitaal na die voorval. Hy is intussen ontslaan. (Foto: Verskaf)

Daar is vrese dat ʼn kranige jong sportman sy been kan verloor nadat ʼn spuitvliegtuig se vlerk hom glo op ʼn plaas in die Fochville-omgewing in Gauteng getref het.

Tiaan Daffie (21) was Saterdag op sy vriendin se ouers se plaas toe hy ʼn video van die spuitvliegtuig in die landerye gemaak het. In die video kan gesien word hoe die vliegtuig aankom, laag vlieg en bespuiting doen. Die vliegtuig pyl dan byna reg op Daffie af en die video eindig skielik – vermoedelik op die oomblik dat die vlerk van die Air Tractor 502 die jong man tref.

Die vlieënier was op die plaas om bespuiting vir die boer – op wie se plaas Daffie woon – te doen.

Michael Ellis, ʼn Potchefstroomse prokureur, sê sy kliënt is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan. Hy moes egter intussen weer na ʼn hospitaal geneem word nadat sy infeksietelling kommerwekkend hoog gestyg het. Volgens Ellis is Daffie intussen weer ontslaan, maar medici hou hom fyn dop.

“Hy is terug op die plaas en sterk daar aan.”

Daffie sal na verwagting nog verskeie operasies aan sy been moet ondergaan en daar is kommer dat hy die been kan verloor. “Dit is nou die probleemtyd. Die dokter wat hom geopereer het, het gesê hulle het herstel wat hulle kon, maar daar is skade aan sy been en hy sal weer operasies moet ondergaan.

“In hierdie stadium is die dokters egter bekommerd oor die infeksie. Die bloedtoevoer na die been kan ook ʼn probleem wees.”

Daffie is ʼn ywerige sportman en veral ʼn goeie rugbyspeler en Ellis sê die voorval het sy toekoms onherroeplik verander.

“Ons oorweeg moontlike stappe, maar is nou eers besig om ons van die feite te vergewis. Hy is ʼn goeie sportman en sou nou ook begin werk het. Sy hele toekoms het verander en afhangend van wat met sy been gebeur – en dit dalk nie ten volle herstel nie – sal hy nie alles kan doen wat hy vantevore kon nie,” sê Ellis.

“Hy het boonop geweldige trauma ondervind; dit is iets wat hy nooit sal kan vergeet nie.”

Ellis sê Daffie se vriendin is boonop net so erg getraumatiseer. Sy was naby Daffie toe die vliegtuig hom getref het, maar is nie beseer nie.

Marie Bray, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), sê ʼn ondersoek na die voorval is reeds van stapel gestuur en amptenare is besig om inligting in te samel. Die vliegtuig het vroeër op die plaas Elandsfontein, waar die voorval gebeur het, opgestyg en sou weer daar land.

“Die bevindings en oorsaak van die ongeluk sal in die finale verslag bekend gemaak word. Dié verslag sal binne 12 maande ná die voorval bekend gestel word en indien dit nie moontlik is nie, sal ʼn tussentydse verslag bekend gemaak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Swerwer ·

Sterkte met die herstel.
Is daar nie ‘n wetgewing wat die afstand uiteensit , wat jy van laagvlieënde vliegtuie se gebied moet wees nie? Dalk het dit ook al verval .

Anel ·

Nou hoe kan dit die vlieënier se skuld wees? Ek voel jammer vir die jongman, maar hy kon mis sien die vliegtuig kom nader. Die vlieënier kon hom mos nie sien nie en verwag mos nie iemand in ‘n land wat bespuit word nie? Dat mense vandag nie meer hulle gesonde verstand wil gebruik nie en dan as daar iets gebeur die skuld op iemand anders pak. Ai tog!!!

Vonkprop ·

Ek stem 100% saam. Tensy die Daffie vooraf met die vlieënier gepraat het en ooreengekom het waar hy gaan wees en dat Daffie hom wil afneem, MAAR NOG STEEDS, jy sien die vliegtuig aankom en enige normale mens sou spore maak. Die vlieënier vlieg teen so ‘n spoed hy sou Daffie beslis nie gesien het nie. Vlieënier is skuldig om so laag te vlieg, maar Daffie is skuldig vir sy hele situasie.

tweeling ·

Die vlieenier is nie skuldig om so laag te vlieg nie dit is die hoogte wanner gespuit word ek stem saam hy moes vir Daffie gesien het.

Oe la la ·

Presies wat ek dink! Die jong man staan net daar terwyl die groot vliegtuig op hom afgepyl kom!

tweeling ·

Die vliegtuig is so ontwerp dat die vlieenier hoog sit om beter uitsig te hê. So my afleiding is dat die vlieenier hom mos sien. Soos wat ek spuit vliegtuie dopgehou het begin die vliegtuig onmiddellik hoogte te kry wanneer die einde van die land bereik word, hoekom die vliegtuig sywaards gedraai het sal net die vlieenier weet,so

Di ·

Genade, dan moes die vlieenier baie laag gevlieg het! Hoop hy word gou gesond en dat sy been volkome sal herstel

Oe la la ·

Ek weet nie van die res daar buite nie, maar as n vliegtuig om my afgepyl kom gaan ek verseker nie staan en dit af neem nie.. ek gaan hol!

Pieter ·

Ja. Die vlieenier het baie laag gevlieg. Hy moet want hy is besig om die lande te spuit. Vyf meter hoog en jy kan net sowel nie spuit nie. Hoe laer hoe beter.
En enige persoon wat dink dit is ‘n goeie idee om naby die lande te staan terwyl daar GIF gespuit word is dom. Die reels spesifiseer niemand mag daar wees nie, en die vlieenier het dus nie iemand daar verwag nie.. As jy op die hoofweg gaan speel, moenie kla as ‘n trok jou tref nie. Ek dink nie hierdie jong man het ‘n saak nie.

Sandra ·

Dit is baie beslis nie die vlieenier se skuld nie. Die outjie het die video geneem en was in die vliegtuig se vlugroete. Die vliegtuig het baie beslis nie skielik op hom afgepyl nie. Ek dink die feit dat hy sommer skielik na die voorval regsadvies soek, baie verdag is. Dit was bloot ‘n geval van verkeerde tyd, verkeerde plek.

Herman ·

Hoe laag moet jy vlieg om iemand se been te tref? En hoe onosel moet jy wees om naby te staan waar iemand gif spuit? Special verby.

Elmarie ·

Iets klink nie vars nie. As jy sien die vliegtuig pyl op jou af, hoekom nie padgee nie? Selfs al staan die vliegtuig stil, is sy vlekte te hoog om ‘n mens se been te trek, hoe het dit gebeur?

Hoop die jong man herstel vinnig en behou sy been en gebruik daarvan

Vonkprop ·

Kan bly wees die vlerk het hom getref en nie die propellers nie.

Mariaan ·

Mens kan eintlik sien die vliegtuig kom reguit aan en wil dan draai..dus is een vlerk meer laag…maar genade..ek sou lankal gehol het…die jongman het hom misgis..slegte ongeluk…hoop hy word beter…

Annelize ·

Dis bitter sleg wat met hierdie jongman gebeur het, my eie seun is byna 21, maar die skuld kan nie voor die vlieenier se deur alleenlik gele word nie. Albei dra skuld aan hierdie ongeluk.

Eerstens vlieg daardie vliegtuig bitter gevaarlik laag, en tweedens, jy staan nie in die pad van ‘n aankomende vliegtuig nie. Nalatigheid vanaf beide partye wat nou tot groot drama en pyn gely het.

Rhona ·

Vir my gelyk of vlieënier aspris vliegtuig kantel om outjie te tref.

SomeOne ·

strekte ou maat, maar ai……
om lande te spuit kos geld
elke minuut wat vlienier talm kos dit hom geld
gaan kyk maar na ‘n vliegtuig wat spuitwerk doen, hulle vlieg baie laag oor gewasse, almal se wiele is groen en daar is dalk nog gewasse aan die wiele van die toppe van lang aanplantings
hy vlieg volgens ko-ordienate en draai so gou moontlik om die terug roete te begin
om in gifspuit area te wees is baie onnosel

Hendrik ·

Die vraag sal wees of die boer en lugspuitmaatskappy die regte prosedure geneem het om die areas rondom die land te beveilig. Die mense moes nie daar gewees het nie. Of hulle het die waarskywings geïgnoreer, of daar was nie voldoende waarskuwings nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.