Sportster sê jammer ná jaagtog

Argieffoto

Die sportster wat Maandagoggend in hegtenis geneem is toe hy glo vinniger as 220 km/h in Johannesburg gejaag het, het om verskoning gevra vir sy optrede.

Maroela Media het vroeër berig Happy Quinton Jele, ʼn sokkerspeler vir Orlando Pirates, is in die vroeë oggendure op die M1-snelweg naby Sandton vasgetrek waar hy volgens die owerhede in ʼn 135i BMW teen ʼn gemiddelde spoed van 223 km/h in ʼn 120 km/h-sone gejaag het.

“Toe verkeersbeamptes daarin kon slaag om hom te stop, het hy beweer hy was op pad na sy siek kind toe,” het Busaphi Nxumalo, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, gesê. “Daar is later vasgestel dat dié inligting onwaar is en net ʼn verskoning was.”

Jele is kort daarna in hegtenis geneem en na die Sandton-polisiestasie geneem waar hy formeel van roekelose en nalatige bestuur asook ʼn spoedoortreding aangekla is. Hy is later op borgtog vrygelaat.

Jele het Maandagaand in ʼn verklaring erken hy is in hegtenis geneem nadat hy teen ʼn hoë spoed gery het.

“Ek wil opreg om verskoning vra vir my roekelose optrede en dat ek Orlando Pirates se naam in oneer gebring het,” lui die verklaring. “Ek neem volle verantwoordelikheid vir my optrede. Ek het geen verskoning vir my optrede nie en hoop die klub, aanhangers en publiek aanvaar my verskoning want ek weet ek het ʼn klomp mense teleurgestel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marous ·

Tot hy ‘n slim prokurower kry wat tegnies begin raak …. hoop sy lisensie word weggevat.

Jacques ·

Dit is poging tot moord indien daar nog voertuie op die pad was en hy se net jammer en alles moet vergeet en vergewe wees . Regtig ??

neels ·

Al hierdie sogenaamde selebs en wie weet wat nog hulle status in die samelewing is, dink hulle kan jaag en maak wat hulle wil en as hulle uitgevang word dink hulle deur omverskoning te vra is alles reg en sal hulle net n ligte boete of straf kry. Die beste straf vir n jaag duiwel is, le beslag op sy voertuig , skort sy lisensie op , sit sy naam op n lys van jaagduiwels wat sal bydra dat hulle nie voertuig finansiering kry nie en gee hom n jaar gemeenskap diens in by n inrigting waar gestremdes as gevolg van motor ongelukke versorg word. Dit mag dalk net help om hulle arrogansie weg te neem.

Kiepie ·

Neels, daar is ‘n paar praktiese probleme met jou voorstel soos dat hierdie sportsterre gewoonlik met geborgte voertuie ry of, indien hulle wel self daarvoor betaal, genoeg verdien om hierdie sportmotors uit hulle gatsakke te koop en dus nie vir finansiering aansoek doen nie. Ek twyfel ook of die banke (lees geldwolwe) die geleentheid om nog in bietjie meer geld te verdien van die hand sal wys oor iets so banaal soos ‘n geskiedenis van spoedoortredings.

Niccy ·

Haha, jaag vinnig…word gevang en dan word hy weer uitgevang omdat hy LIEG! ai ai

Jan Jacobs ·

Ek se laat die een wat totaal onskuldig is die eerste klip gooi. Dit het niks met sport sterre of geld te maak. Die man het n kans gevat. Daarmee se ek nie dit is korrek nie maar sy dag in die hof sal kom. Hy moet maar verantwoording doen vir sy doen en late.

Dalena Coetzee ·

Lieg, lieg, lieg – ons is so so moeg daarvoor in hierdie land!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.