
Die bekende en geliefde spotprentkunstenaar Fred Mouton is Woensdag aan kanker oorlede. (Foto: Bun Booyens)
Die bekende spotprenttekenaar Fred Mouton (75) is Woensdagmiddag aan kanker dood nadat die siekte in 2018 by hom gediagnoseer is.
“ʼn Mens het dit verwag, maar dit verander nie die feit dat dit ʼn skok is wanneer iemand se stem stil raak nie,” het Bun Booyens, oudredakteur van Die Burger en vriend van Mouton, vanmiddag gesê.
Mouton het 52 jaar lank vir Die Burger gewerk, het meer as 10 000 spotprente geteken en was maar die derde spotprenttekenaar in die koerant se geskiedenis. Hy het ook spotprente vir onder meer Landbouweekblad, Weg!, WegRy&Sleep en Huisgenoot geteken.
“Fred het detail in sy prente geplaas. Fyn besonderhede. En dit was dikwels die belewenis van gewone mense oor groot politieke gebeure. Hoe beleef mense dit as die brandstofprys styg. Of as die Springbokke verloor. Gewone mense se verslaentheid oor die onbekwaamheid van iemand soos Jacob Zuma,” sê Booyens.
Benewens politiek was hy ook uitstekend met die uitbeelding van sportpersoonlikhede en het hy ʼn besondere simpatie met die landboubedryf gehad.
Condolences to the family and colleagues of legendary cartoonist Fred Mouton . Here are some of the sketches he made for us! #RIP pic.twitter.com/l7jI10tqwH
— Arrive Alive (@_ArriveAlive) May 4, 2022
“Hy was ʼn persoon met deernis in dié sin dat hy nie die mes gedraai het wanneer hy iemand geteken het nie.
“Hy was een van die invloedrykste politieke joernalistieke stemme – maar in visuele taal,” sê Booyens.
“Ek onthou hom as ʼn introvert met ʼn kurkdroë sin vir humor. Sy woordspeling was besonder fyn.
“Oor 50 jaar en in meer as 10 000 spotprente word sy werk ʼn strokiesprent van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die hele sirkus, van begin tot einde, kan jy volg in Fred se spotprente. Die triomf. Die nederlae. Die Springbokke, die droogte, die vloede, die politieke kansvatters en die onbesonge helde.
“Dit was ʼn wonderlike voorreg om hom te gehad het,” sê Booyens.
Mouton het onder sewe van Die Burger se tien redakteurs gewerk en Booyens sê sy 52 jaar by die koerant is selfs internasionaal moontlik ongeëwenaar.
“Wat oorbly is om dit onomwonde te stel: Fred was ʼn wêreldklas kunstenaar en sy werk vergelyk met die beste ter wêreld.”
Die ATKV neem met leedwese kennis van die afsterwe van die geliefde en veelbekroonde Fred Mouton. Hy sal onthou word vir sy kreatiwiteit en insig om die humor te vind in gebeure wat dikwels glad nie snaaks was nie. Fred, dankie dat jy ons laat lag het. Jy het 'n verskil gemaak. pic.twitter.com/gXbrBTeP3c
— ATKV (@ATKVSA) May 4, 2022
Op sosiale media het talle huldeblyke oor en staaltjies van Mouton ook ingestroom.
“Fred was ʼn introvert, maar het soveel deur sy kuns gesê. Ons simpatie aan Annemarie en die kinders. Hy is onvervangbaar in die pos wat hy sedert die sewentigerjare beklee het,” skryf Francois Verster op Facebook.
“Daar was maar een Fred Mouton. Hoe leeg sal sy plek nie wees nie? Wie sal ooit sy skoene kan volstaan?” sê die skrywer, oudredakteur en voormalige uitvoerende hoof van Naspers se koerantafdeling, Hennie van Deventer, in ʼn huldeblyk.
Mouton se vrou, Annemarie, en hul twee dogters was by hom toe hy gesterf het. Die egpaar het ook ʼn seun en twee kleinkinders.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Jammer .
Dit is regtig die einde van ‘n Era….daar was maar net een soos hy…
Het sy spotprente baie geniet!
Ek het altyd sy spotprent tekening so geniet.
Rus in Vrede and dankie vir al die humor.
RIV Fred.