Spotprentkunstenaar ná herrie: ‘Ek staan by my beginsels’

Die spotprent wat die herrie ontketen het. (Skermgreep: Twitter/ Spotprent deur Jerm)

Die spotprentkunstenaar Jerm sê hy staan bankvas by ʼn spotprent wat die afgelope paar dae opnuut ʼn herrie ontketen het.

Jerm, oftewel Jeremy Nell, het in Junie 2019 die gewraakte spotprent vir The Daily Friend, die aanlyn koerant van die Instituut vir Rasseverhoudinge, geteken. In die spotprent sê ʼn swart persoon aan ʼn wit persoon hy moet die grond teruggee wat hy gesteel het. Dié antwoord dat die ander persoon in die tronk hoort vir die verkragting van sy vrou, waarop die man antwoord dat hy nie daarvoor verantwoordelik was nie. In die laaste raampie antwoord die persoon dan “presies”.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale dagbestuur, het die spotprent kort voor die nuwe jaar op haar sosialemediaprofiel gedeel en dit het soos ʼn veldbrand versprei.

“Dit was mal, maar ek het ʼn gevoel dit was meestal kunsmatige woede,” het Nell Maandag gesê.

“Ek is oorval met boodskappe. Ek het ook met Helen [Zille] gepraat en sy het gesê daar is groot woede daaroor. Vir my is dit fantasties, want dit veroorsaak gesprekvoering, soos dit veronderstel is om te wees.”

Nell sê hy meen die satiriese boodskap in die prent is duidelik – en dit is dat veralgemening op grond van ras nié aanvaarbaar is nie.

Facebook het egter naastenby dieselfde tyd sy aanhangersblad opgeskort. Jerm het nagenoeg 60 000 volgelinge op die blad. Nell sê hy het al verskeie kere waarskuwings van Facebook gekry dat sy plasings nie aan die maatskappy se beleid voldoen nie.

Hy het onder meer ʼn berig gedeel oor ʼn swart man wat van verkragting aangekla en tronkstraf opgelê is, maar jare later vrygelaat is nadat DNS-toetse sy onskuld bewys het. Sy kommentaar by die berig [dat mans vroue dikwels ook help en hulle nie altyd swak behandel nie] was glo net een van sy plasings wat aanstoot gegee het.

In die jongste voorval is sy spotprent, wat teen veralgemening op grond van ras gekant is, glo ook as rassisties beskou en die blad is gesluit. Daar was glo ʼn massa klagtes oor die bladsy wat tot Facebook se besluit gelei het. “Ek dink nie dit hou noodwendig verband [met die onlangse herrie oor die spotprent] nie, maar dit is darem baie vreemde toeval.

“Die sogenaamde oortredings was belaglik en dit is duidelik dat daar ʼn georkestreerde poging deur aanlyn trolle is om diegene wat hulle nie aanstaan nie, te laat verwyder.”

Nell sê hy het reeds teen Facebook se besluit geappelleer, maar nog nie terugvoer oor die kwessie van die maatskappy ontvang nie. “Daar is niks wat ek verder daaraan kan doen nie.”

Nell sê dit het hom boonop jare geneem om dié groot getal volgelinge op Facebook op te bou en dit sou hartseer wees as hy die bladsy permanent kwyt is. Hy oorweeg dit wel om sy werk nou op ʼn ander platform te plaas.

“Ek dink nie ek het enigiets verkeerd gedoen nie en die meeste redelike mense sal seker met my saamstem. ʼn Mens moet die goeie stryd stry en by jou beginsels staan en dit is wat ek doen,” het hy gesê.

Nell sê die verloop van gebeure was ook nie nét negatief nie en hy het reeds nuwe werksaanbiedinge gekry.

Zille, wie se delery van die spotprent tot die groot oproer gelei het, het die afgelope week gesê sy gaan begin om van haar kamma-volgelinge, of sogenaamde bots, op Twitter ontslae te raak. ʼn Bot word deur ʼn rekenaar geskep en dikwels gebruik om ʼn spesifieke agenda aan te vuur.

Van Zille se nagenoeg 1,4 miljoen volgelinge op Twitter is sowat 600 000 glo fop-rekeninge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Andreas Meyer ·

Die media-herrie (agv Helen Zille se twiet) het vir Jerm ‘n groot guns gedoen.

André André ·

Andreas, veral ook nou dat Facebook sy voet daarin gesit het!

Alida Engelbrecht ·

Ek kan nie glo dat iemand aanstoot kan neem as gevolg van hierdie spotprent nie ! Is ons lesers se intelligensie dan minder as 30 % ? Die Bybel se : selfs n dwaas sal wys ge-ag word as hy swyg. Daarom swyg ek liewer.

Gerrie ·

Waarom nie Jerm se kostelikhede vervolgens op hierdie media publiseer nie….?
Dis myns insiens dalk heel nodig…!

koos ·

So, dis nou amptelik.
Een bevolkingsgroep kan sê net wat hulle wil en niks oorkom nie en ‘n ander groep mag niks sê nie, al is dit ook nou die waarheid, en geensins rasisties, afbrekend, aanstootlik of watse aard ook al nie.
In die ou SA het die regering ook probeer om ‘n groep se monde te snoer en kyk waar is ons vandag. Gaan niemand ooit uit die verlede leer nie? Onderdruking lei tot teen druk.

Akademi Buktu ·

Word gedryf deur hul inherente minderwaardigheidskompleks.

André André ·

Dit lyk my dan nou dat Facebook het sommer ook, betreffende Jerm se gewraakte spotprent wat al 6 maande gelede geplaas is, ook as regter in hierdie sage opgetree. Hulle het dus besluit wat demokraties is en nuwe betekenis daaraan gegee. Hierdie sal verseker nie ongesiens in die wêreld verby gaan nie.

So het die plaaslike fanatiese sosiale-madiabendes (soos Rapport dit gister uitgedruk het) nou ‘n kolossale hupstoot gekry en sal hulle met alle mag die stang vasbyt in hul dryf na verdere sukses om dié wie van hulle verskil uit te dryf of dood te skree.

Wat ‘n nagmerrie lê voor as diesulkes soos Twitter of Facebook hulle in die huishoudelike politiek van ‘n land begeef en die mense so beloon. Ons het nou tien tree agteruit beweeg en is ‘n monster gevoed wat niks goeds inhou nie. Elke keer ervaar die sosiale-mediebendes, ook andere, as hulle hard genoeg skree, dat hulle as oorwinnaar uit die stryd tree.

Dus … hoe later hoe kwater … en met elke volgende keer tel hul geskree en optrede net in intensiteit op…

Natascha ·

Ek sien niks daarmee verkeerd nie, dis mos die waarheid, hul spreek dit oop en bloot uit in die openbaar, maar nou dat dit in n spotprent verskyn, het hul n mondvol daaroor te se.
Kyk in Die land is jy net n rassis as jy wit is.

pan ·

Die heilige waarheid ,ek sou dit nie beter kon stel nie,jy is my held en ons het meer joernaliste nodig wat nie bang is om die waarheid te sê soos dit is nie.

Hanna Hoekom ·

Waarheid maak seker maar seer, ne? Kyk, as die skoen jou pas moet jy hom maar aantrek!

Bucco ·

Sy moet haar twitter rekening sluit. Sy tik te veel en doen te min.

Herman ·

Die mense by FB het geen idee wat in hierdie land aangaan nie. ????

Sann ·

Ek sou baie versigtig wees vir daardie “werksaanbiedinge”. Moenie dat enige iemand jou besit nie, Jerm. “Wie se brood jy eet, dié se woord jy spreek”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.