Sprake van nuwe amnestietydperk

Minister Bheki Cele maak Vrydag die misdaadstatistieke bekend. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Daar is waarskynlik goeie nuus vir vuurwapeneienaars wie se lisensies verstryk het. Uit ʼn parlementêre vraag Woensdag aan die minister van polisie, Bheki Cele, of hy dit sal oorweeg om ʼn verdere amnestietydperk toe te staan vir die indiening van vuurwapens, het die minister gesê so ʼn versoek is “billik”.

AfriForum het reeds in Februarie ʼn brief aan die minister gerig waarin die organisasie versoek dat ʼn tweede amnestietydperk oorweeg word. Dit is omdat vuurwapeneienaars in Januarie by polisiestasies weggewys is en nie hul vuurwapens kon inhandig nie.

Van die probleme wat algemeen voorgekom het, was ʼn tekort aan voorgeskrewe vorms en polisiebeamptes om die werk te doen.

Cele het Woensdag erken die tweede en laaste amnestietydperk is erg ontwrig en baie vuurwapeneienaars is daardeur geraak. Hy het gesê daar is steeds baie onafgehandelde “papierwerk” rakende die vorige amnestietydperk wat op 31 Januarie vanjaar verstryk het.

Die warboel in die administrasieproses rakende die afhandeling van aansoeke om die hernuwing van vuurwapenlisensies het twee weke gelede duidelik geblyk uit ʼn parlementêre ondersoek na die aangeleentheid.

Volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, was die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, en sy span generaals nie eens in staat om aan die portefeuljekomitee oor polisie te sê hoeveel vuurwapens in die laaste amnestietydperk ingehandig is nie.

Die komitee het daarop aan die minister geskryf oor probleme wat die amnestiesyfers betref, asook die onvermoë van die polisie om die groot agterstande by die Sentrale Vuurwapenregister uit te wis rakende die duisende lisensie-aansoeke van vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het.

Maroela Media het destyds berig dat slegs 10% van die 400 000 onwettige wapens teen einde Januarie vrywillig ingedien is.

“Die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika, veral wat geweldsmisdade betref, is ontstellend en dit sal onbillik wees om wetsgehoorsame burgers te ontwapen ten koste van misdadigers wat gewis nie hul vuurwapens sal inhandig nie, ongeag enige amnestie,” het Groenewald gesê.

“Gegewe die aanslag teen boere, is dit veral belangrik dat hulle ʼn behoorlike en billike geleentheid gegun word om hul lisensies te hernu.”

Die VF Plus vind die minister se antwoord bemoedigend, maar meen dat hy geen ander keuse het nie, gegewe die onbevoegde wyse waarop die polisie die amnestieproses hanteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

BoepensVark ·

Die SAPD het nie die kapasiteit om die aansoeke te hanteer nie. Dit maak die vuurwapen wet ongeldig omdat dit nie geimplimenteer kan word nie aangesien een van die vereistes vir ‘n wet is dat dit billik is en effektief geimplimenteer kan word. Verder hoe kan bevoegdheid afgekeur word as ‘n persoon dit klaar geslaag het wat gee die SAPD die mandaat om te sê hulle aanvaar nie die uitslae nie so dus is dit ‘n onnodige stap in die proses, en tweedens, vuurwapen aansoeke moet in die stasie wyk verwerk en goedgekeur word want hoe kan ‘n persoon wat nie die aansoeker “ken” nie ‘n besluit maak oor die nut en bevoegdheid van die aansoek?

Persheks Adri ·

Natuurlik is die versoek billik! Dis beslis nie ons skuld as die polisie nie hulle werk kan doen nie pffft! Ons moet alles doen om te verseker hulle ontwapen ons nie. In vandag se lewe is dit van kardinale belang om jouself te beskerm!

Sterkte aan die mense wat hulle lisensies wil hernu en ASB moet niks vir die staat gee nie doen lank voor die tyd aansoek.

Frank ·

‘n Hernuwing middel Januarie ingegee by ons plaaslike SAP. Lê nou nog op sy lessenaar. My probleem is ek probeer nog my kwitansie uit hulle uitkry. Werk in skofte. DFO een week en kassier ander week. So gaan dit week in en week uit. Verlede week afspraak gehad met die DFO. Net eenvoudig nie opgedaag nie, kamstig uitstedig.

Persheks Adri ·

Dis patesiese diens om die minste te sê! Dit vat so verdomp lank Frank ek weet dis hoekom ons ten minste 8 maande voor die tyd aansoek doen, want ek’s 6 maande gewag vir hernuwing voor die lockdown storie. Sterkte en ek hoop jy kom gou reg. Verstaan nie hoekom hulle so in weke werk nie en nog minder net 1 kassier…

Alp ·

Dit is duidelik dat die Polisie nie gerat en voorbereid is om hul werk te doen nie.

koos10 ·

Raak ontslae met die verval datum van die vuurwapen lisensies, dis ‘n stuk yser. Lisensieër ‘n wapen slegs as dit ‘n nuwe wapen is of as dit van eienaar verwissel. Konsentreer op bevoegdheid, dis die mens wat die wapen moet/mag dra en die sneller kan trek. So sal 70% van die papierwerk uit gesorteer word.

Anton ·

Hoekom het die regering enige iets hiermee te doen? Watter persentasie van misdaad word met “wettige” wapens uitgevoer? Hoeveel misdade is opgelos deur die stelsel te gebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.