Springbok-legende HO de Villiers oorlede

HO de Villiers (Foto: Ikey Tigers/Twitter)

Die Springbok-legende Henry Oswald “HO” de Villiers is Sondag in die ouderdom van 76 oorlede. Hy sou op 10 Maart sy 77ste verjaarsdag gevier het.

De Villiers is in Johannesburg gebore en het ná skool na die Westelike Provinsie verhuis om sy diensplig te voltooi. Hy het in 1965 by die Ikey Tigers-rugbyklub aangesluit en is binnekort gekies om vir die Universiteit van Kaapstad se eerste span te speel. Hy het dieselfde jaar sy provinsiale debuut vir die WP gemaak.

De Villiers het sy toetsbuiging in 1967 gemaak en nuwe maatstawwe in die nommer 15-trui gestel. Sy grootste bate was sy lyfswaaie, aftrappe en swenke op volle vaart – op nat en droë velde. Hy was ook in van die toetswedstryde die Bokke se stelskopper.

Dok Craven het op ʼn dag vertel dat HO, ondanks sy groot bates, nie in sy eie vermoë geglo het nie en die aand voor wedstryde nie kon slaap nie.

Maar met hom as heelagter het die Bokke 67,85% van hul wedstryde gewen.

Hy het in 1970 sy 14de en finale toets teen Wallis by Cardiff Arms Park gespeel. As dit nie vir sy ernstige kniebeserings was nie, sou hy waarskynlik baie langer vir die Springbokke uitgedraf het.

The South African het verlede jaar Maart berig De Villiers moes ʼn operasie ondergaan om ʼn breingewas te verwyder.

Huldeblyke stroom in op sosiale media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Rus in vrede H O.As klein seuntjie het ek maar altyd die rugby oor die draadloos geluister want daar was nie televisies nie met trots aan ons gebring deur spiekeris Viviers.

Annamarie

Rus Sag, ou Grote. Ons verjaar op dieselfde dag, sal altyd aan jou dink.

Frank John

Die uurglas loop aanhoudent en raak maar leeg vir ons almal en kan ons maar net terug kyk en sê: Ek het die pad geloop, die stryd ent uit volgehou, ek het die wenpaal behaal en die geloof behou. Mag hy nou lekker rus.

Albert Willem

Rus in vrede my innige sympatie aan sy familie en vriende

Sanet

Hartseer nuus. Ek kan nogal n boek skryf oor daardie glorie jare waarin H O de Villiers vir SA op heelagter uitgedraf het. Ek was n Laerskool dogtertjie daardie jare wat my Pa en broer na rugby toetse vergesel het. Sal die een in Bloemfontein op 25 Augustus teen die Britse Leeus altyd onthou. H O sal onthou word as nie net my hero as speler nie, maar was ook sekerlik die aantreklikste speler ooit op n Rugby veld. Innige simpatie aan sy Familie en vriende.