Springbokke in Japan geskok ná nuus oor Chester

Chester Williams. Foto: Moeletsi Mabe

Die Springbokspan in Japan het Saterdag met die nuus wakker geword van Chester Williams se dood.

“Dit was aaklige nuus om mee wakker te word,” het Springbok-afrigter Rassie Erasmus gesê. “Daar was ʼn baie somber gevoel in die eetsaal vanoggend, dit is ondenkbare nuus.” Japan is sewe uur voor Suid-Afrika.

Williams is Vrydag in die ouderdom van 49 in Kaapstad dood. Hy het vermoedelik ʼn hartaanval gehad.

“Ek het saam met Chester gespeel en baie lede van ons bestuurspan het hom baie goed geken en is erg geskok vanoggend. Baie van ons spelers was jonk tydens die 1995 Wêreldbeker-toernooi maar hulle het die hoogtepunte daarvan gekyk soos hulle grootgeword het en hulle ken Chester as ʼn rugbyspeler wat ʼn ikoon vir die land geword het.”

Volgens Erasmus was die bestuurspan nog vroeër die week met Williams in gesprek oor sy planne om na die toernooi in Japan te kom kyk. “Dit sal tyd vat om oor die skok te kom. Ons gedagtes en gebede is in die tyd saam met Chester se familie, saam met Maria en die kinders. Ons het ʼn legende verloor en hulle het ʼn man en pa verloor.”

Erasmus het gesê Williams sal in die geskiedenis opgeteken word as een van die grotes van Suid-Afrikaanse rugby. “Dit is ʼn baie hartseer dag vir Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse rugby.”

Mark Alexander, president van SA Rugby, het intussen gesê die nuus oor Williams se afsterwe is met skok en ongeloof ontvang.

Rassie Erasmus. Foto: (AP Photo/Florencia Tanjun)

“Hy was nog jonk en skynbaar in goeie gesondheid,” het Alexander gesê oor die Springbokvleuel wat die Springbokke in 27 wedstryde verteenwoordig en 14 drieë gedruk het.

“Chester was ʼn ware pionier in Suid-Afrikaanse rugby. Hy was passievol oor rugby en oor Suid-Afrika en as afrigter het hy onbaatsugtig op verskeie vlakke teruggee aan die spel nadat hy sy stewels opgehang het.”

Williams is op 8 Augustus 1970 in die Paarl gebore. Hy het tydens sy provinsiale loopbaan vir die WP en Leeus gespeel en het ook vir twee Superrugby-seisoene vir die Cats gespeel. Williams het sy Springbokdebuut in 1993 teen Argentinië gemaak. Sy laaste toets was in 2000 teen Wallis. Hy is in 1994 as SA Rugbyspeler van die jaar aangekondig.

Sedert sy uittrede was hy aktief by afrigting betrokke. Hy was onder meer as breier betrokke by die Springbok-sewesspan, die Cats, die Pumas en was ten tyde van sy afsterwe die hoofafrigter van die Universiteit Wes-Kaapland se Varsitybeker-span.

Williams is die vyfde lid van die 1995-Springbokspan wat gesterf het. Afrigter Kitch Christie (58) is in 1998 weens kanker dood, Ruben Kruger (39), flank is in 2010 weens breinkanker dood, Joost van der Westhuizen (45), skrumskakel, is in 2017 aan motorneuronsiekte dood en James Small (50), vleuel, is in Julie vanjaar aan ʼn hartaanval dood.

Williams word oorleef deur sy vrou, Maria, en drie kinders, sy stiefseun Ryan en die tweeling Matthew en Chloe. Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Christine ·

Baie hartseer sterkte aan vrou en kinders n legende is oorlede

Ig ·

Bokke, bring die beker huistoe vir Chester, James , Joost, Ruben en Kitch, You can Do It

Bossie ·

Mens se hart wil breek. Ek stem saam met lg. Rassie, daar sit ‘n span engele tussen die skare wat jul grootste ondersteuners is. Jul is die beste en kan dit doen. Sterkte met die hartseer tyd maar indien Chester nou iets kon sê dink ek dit sou wees BRING DAARDIE BEKER HUIS TOE.

Se maar net ·

Klink werklik vir my na laster, pasop, moenie jouself en mense tot engele verhef, kan jou lelik laat val

Josua Keys ·

Sal ons hom ooit vergeet, Chessie rus in vrede, ek weet jy kan dit nie meer lees nie maar jou familie wel, jy was n legende, dankie vir jou mooi persoonlikheid en die goeie herinneringe wat jy agter gelaat het, vir jou kan hulle maar ‘ n standbeeld oprig want jy verdien dit sodat jou kinders een dag vir hul kroos kan sê dit was oupa daardie, Chester jy James Small, Pieter Hendriks en die res van die bok span 1995 het daardie wereld beker reeks die beste reeks ooit gemaak, dit is net jammer jy moes ‘n Suid Afrika in Chaos agter laat waar alles verwoes vernietig en verbrand word beslis nie waarvoor jy en die res van die span geveg en gespeel het nie. Groetnes!!!!!

kolla ·

Baie mooi beeld na buite uitgedra meestal met ‘n glimlag op sy gesig. Baie kan leer by hom wat gesindheid aanbetref.

Speedguard ·

@Se Maar net, jy is ongevoelig en is jou kommentaar uiters ongevraagd, wie dink jy is jy …..sies man !

barend ·

as dit nie was vir die rooi kaart wat Pieter Hendriks gekry het in Port Elizabeth teen Kanada sou hy nooit bekend geword het nie .Sy beste rugby by die leeus gespeel .sterkte aan sy famielie en vriende .

kolla ·

Jy’s verkeerd. Hy was beseer net voor die wereldbeker en is daarom nie aanvanklik gekies nie. Hy het toe in so ‘n mate herstel dat hulle hom kon oproep vir die kwarteindstryd teen Samoa waar hy toe 4 driee gedruk het. Hy het ook sy beste rugby vir WP gespeel en was al half oor die muur toe hy Lions toe is. Ek dink hy is ‘n groter legende onder die publeik as Hendriks maar laat ons nou nie daaroor hare kloof nie.

Swartwolf ·

Chester was ‘n great springbok en persoon maar hy sou nooit Campese soos Hendriks aan die buitekant geklop het nie. Bedekte seen dat Hendriks gespeel het.

Jan ·

Hoekom is dit tragies? Hy is aan natuurlike oorsake dood. Nie vermoor op ‘n plaas nie

Pietsnot ·

In die game teen Samoa was Hennie Le Roux op 10 en te danke aan sy balverspreiding kon die buite-agterspelers soos Chester baljaar. Dis sag my maat en sterkte Maria.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.