Springbokke oefen weer, Kolisi ook onder positiewe gevalle

Rassie Erasmus sal die Bok-oefeninge lei. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Ná ’n spul Covid-19-toetse en ’n voorkomende isolasietydperk van ses dae kan ’n groep Springbokspelers weer op die oefenveld vir die komende toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus voorberei.

Volgens SA Rugby (Saru) het al die spelers wat gister vir die virus getoets is negatiewe toetsuitslae ontvang.

Tog het die Delta-variant amok gemaak en vroeër het vier rondes polimerasekettingreaksie- (PCR-)toetse vir Covid-19 getoon dat spelers soos Siya Kolisi, Dan du Preez, Ox Nché, Bongi Mbonambi, Scarra Ntubeni en Makazole Mapimpi ook positief vir die virus getoets het.

Die hele span en bestuurspan selfisoleer sedert Maandag in hul hotelkamers om die moontlikheid van oordrag deur middel van nabye kontak te verminder.

Omdat Jacques Nienaber (afrigter) nog moet isoleer nadat hy ook positief vir die virus getoets het, sal Rassie Erasmus (SA Rugby se direkteur van rugby) die leisels op die oefenveld oorneem.

As voorsorgmaatreël – veral onder die voorspelers – is Lizo Gqoboka (Bulle) en Fez Mbatha (Haaie) nadergetrek.

Volgens Nienaber kan die spelers nie wag om weer te oefen nie.

“Ons is baie bly dat ons na die oefenveld kan terugkeer om vir die toetsreeks voor te berei. Dit was ’n uitdagende week met die toets teen Georgië wat gekanselleer is en die hele span wat as voorkomende maatreël moes selfisoleer. Dit is buitengewone tye dié waarby ons as span moet aanpas en ek moet die spelers en spanbestuur vir hul toewyding loof.”

Intussen het die Leeus – wat vir die tweede keer teen die Haaie moes speel nadat die Bulle-wedstryd weens Covid-19-gevalle afgelas is – verspot maklik met die tuisspan op Loftus Versfeld afgereken. Die eindtelling was 71–31 in die besoekers se guns.

Dan word die moontlikheid al hoe groter dat al die toetse in die Kaap gespeel kan word om die derde Covid-19-vlaag in Gauteng te probeer ontduik.

Die Leeus se besturende direkteur, Ben Calveley, het juis verlede week gesê die spanlede sal alles in hul vermoë doen om van die toer ’n sukses te maak.

Die span se bioborrelmaatreëls is baie streng en ’n mediese raadgewende span – gelaai met onafhanklike viroloë en spesialiste – bepaal amper al wat ’n beweging is.

“Dieselfde maatreëls geld vir die Springbokke ook: Ons word ’n minimum van drie keer per week getoets, ons het geen interaksie met lede van die publiek nie en ons speel op baie minder plekke as op vorige toere. Ons doen alles in ons vermoë om toe te sien dat die toer voortgaan,” het Calveley gesê.

Maar oorsese joernaliste begin mor dat die toetse eerder na Brittanje geskuif moet word.

“As jy ’n skuif van Johannesburg na Kaapstad vir die tweede en derde toets kan maak, dan sal dit mos ook moontlik wees om hulle na Twickenham te skuif, of hoe?” het Andy Goode op die rugbywebblad RugbyPass gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

piet ·

Nou hoe toets hulle positief as hulle nie in aanraking is met die publiek nie? Die spanpersoneel kom en gaan seker soos hulle wil en steek so die spelers aan anders maak dit nie vir my sin nie.

MakersMark ·

Dissipline is SA is “doen wat jy wil”……ek stem saam – hoe kry hul CV19 as hul in ‘n “bioborrel” lewe…..??

Karin ·

En hulle is ook nog ingeënt……..? Laat mens wonder……

Anel ·

Om positief te toets is nie te sê jy is siek nie. Soos mense in hospitale. Hulle mag nie besoekers ontvang nie, maar personeel en selfs skoonmakers kom en gaan soos hulle wil.

Jr ·

” Doesn’t matter anymore ” soos Dwayne Johnston the Rock sê, want die 15 man span wat die wêreld beker gewen het naamlik no 1 Kolisi,
No 2 Kolisi, no3 Kolisi, no 4 Kolisi, ens ens……
no 15 Kolisi kon nog nooit ‘n 80 minute game klaarmaak. So who cares

Marius ·

Een swaeltjie maak nie n somer nie kan regtig sonder hom klaar kom

Gideon ·

Absoluut veregaande om voort te gaan met die toer. Soos dinge nou uitspeel gaan hulle weer vir Victor moet nader trek, die virus floreer en spelers steek aan links en regs, sinneloos

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.