Springboksterre doen brandwonde op tydens ‘vuurput-ongeluk’

RG Snyman. (AP Photo/Mark Baker)

Die Ierse rugbyklub Munster het bekend gemaak dat Wêreldbeker-wenners Damian de Allende en RG Snyman behandeling ontvang nadat hulle brandwonde in ’n “vuurput-ongeluk” oor die naweek opgedoen het.

CJ Stander (losvoorspeler) en Mike Haley (heelagter) het ook brandwonde aan hul hande opgedoen en sal na verwagting weer binnekort na die oefenveld kan terugkeer. Daar sal later ’n besluit geneem word oor hul beskikbaarheid vir Vrydag se kragmeting teen Zebre.

Daarteenoor sal die twee Springboksterre later die week weer ’n spesialis moet besoek om die brandwonde aan hul arms, hande en gesigte te monitor.

Volgens Johann van Graan (Munster-breier) is die klub verlig dat die spelers “oukei” is.

“Hulle het almal behandeling ontvang en daar word goed na hulle omgesien. Damian en RG sien later die week ’n spesialis om met die herstelproses te help,” het Van Graan gesê.

Al twee spelers is in Jacques Nienaber se Springbokgroep vir die komende Britse en Ierse Leeus-reeks opgeneem en hulle sal ná hul Munster-verpligtinge by die span aansluit.

De Allende is saam met Jessie Kriel, Lukhanyo Am, Frans Steyn en Wandisile Simelane deel van die Suid-Afrikaners se senterplanne.

Snyman – wat ook van ’n kniebesering herstel – is deel van ’n slotgroep wat ook vir Eben Etzebeth, Lood de Jager, Franco Mostert, Nicolaas Janse van Rensburg en Marvin Orie insluit.

Nienaber en sy afrigtingspan is al besig met ’n oefenkamp in Bloemfontein waar spelers soos Kwagga Smith, Frans Steyn, Jesse Kriel en Willie le Roux reeds deel van die aksie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fritz ·

Net soos wat drank en vuurwapens nie meng nie, net so meng drank en vuur ook nie.

Lourens ·

Volgens ierse koerante het een persoon petrol op die vuur gegooi waarna die houer met petrol ook vlam gevat het en ontplof het…..

Kirst ·

Brandewyn het nie brieke nie en dan ry jy in die vuur in. Ek hoop nie die beserings is te ernstig nie.

Kirst ·

Ek lees elders dat een van die Munster spelers volgens Damien petrol op die vuur gegooi het. Sy hand het toe begin brand en die houer het ontplof. Dis hoe Damien en RG brande opgedoen het.

Androclus ·

Drank is die oorsaak,net soos die polisie wat dronk mense , lyk dit drank is net vir hulle.Springbok of nie hulle drink dan verdien hulle so baie geld.PUNT

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.