Springs-gruwelhuis: Hof lewer uitspraak

Die man kom die hof binne kort voordat die regter sy uitspraak gelewer het (16 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag uitspraak gelewer in die verhoor teen die 39-jarige man en sy 39-jarige vervreemde vrou van die sogenaamde Springs-gruwelhuis.

Die man is skuldig bevind op byna al die aanklagte teen hom insluitend verkragting, poging tot moord, kindermishandeling, kinderverwaarlosing, dwelmgebruik, dwelmhandel en regsverydeling. Hy is onskuldig bevind op ʼn aanklag van die besit van plofstof.

Sy vrou is skuldig bevind op aanklagte van kinderverwaarlosing, regsverydeling, dwelmgebruik en die verhindering van polisiebeamptes om hul pligte uit te voer. Sy is onskuldig bevind op die res van die aanklagte waarop sy tereg gestaan het.

Die egpaar se name mag nie bekendgemaak word nie om hul kinders se identiteit te beskerm.

Regter Eben Jordaan het die uitspraak gelewer in een van die laaste verhore wat voor hom sal dien voordat hy later vanjaar sal aftree. Jordaan het slegs die hoogtepunte uit sy uitspraak van meer as 500 bladsye aan die hof voorgehou.

Waar daar gewoonlik net ʼn handjievol belangstellendes die verhoor bygewoon het, was die hof Donderdag aansienlik voller as gewoonlik. Een van die ouerpaar se kinders was ook in die hof om die uitspraak aan te hoor. Verslaggewers is gemaan om nie die kind af te neem of op enige wyse te identifiseer nie.

Die man, ʼn sakeman van die Oos-Rand, is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die sogenaamde gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie.

Die ma in die hof (14 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die gruweldade het uiteindelik in Mei 2014 aan die lig gekom toe een van die egpaar se seuns, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings aangetref en die kinders het geen speelgoed gehad nie.

Die kinders was in die tydperk van mishandeling tussen twee en 16 jaar oud.

Die saak is tot Oktober uitgestel en die vrou se borgtog is tot dan verleng.

Hou Maroela Media dop vir meer oor die uitspraak.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

dolphin ·

ja albei moet tronk toe gaan jammer vir die kids .kids sal die beste toekoms in goeie hande met goeie pleegsorg inplaas.

Stuiwer ·

Ek hoop die vrou word net so swaar gestraf. Geen normale “ma” sal toelaat dat haar man vir so lank hulle kinders mishandel nie. Sy speel die victim en ek koop dit geensins nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.