Springs-gruwelhuis: Kenner getuig oor ma se ‘toestand’

Die egpaar van Springs tydens ‘n vorige hofverskyning op 25 Julie 2014. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die verhoor van ʼn 39-jarige man en sy 39-jarige eksvrou in verband met die sogenaamde Springs-gruwelhuis-saak het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria hervat.

Die verhoor is sedert Oktober verlede jaar verskeie kere uitgestel sodat die vrou se verdediging vir haar sielkundige waarneming kon reël.

Die vrou is reeds deur die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in die weste van Pretoria geëvalueer en geen diagnose van ʼn geestesversteuring is gemaak nie. Die instelling het ook bevind sy is toerekeningsvatbaar en geskik om verhoor te word.

Die vrou is tydens vorige hofverrigtinge deur ʼn spesialisgetuie van haar verdediging bestempel as iemand met simptome van Stockholm-sindroom en wat tekens van depressie, posttraumatiese stresversteuring en angs toon. Die staat het egter dié getuie se bevindings betwis, aangesien sy slegs ʼn kriminoloog is en nie oor die nodige kwalifikasies beskik het om sekere sielkundige toetse op die vrou uit te voer nie.

Franco Visser, ʼn kliniese sielkundige wat vanjaar aangewys is om die vrou te evalueer, het Maandag sy bevindings aan die hof kom voorhou. Hy het getuig die vrou ly aan “mishandelde-vrou-sindroom” weens “20 jaar se voortdurende fisiese en emosionele mishandeling en erge aanranding”.

Die vrou het aan Visser gesê die man het haar en die kinders soms vasgebind, met ʼn toestel geskok, gebrand, met ʼn sambok geslaan en soms geweier om hulle kos te gee. Die man het glo selfs die vrou een keer met ʼn mes gesteek.

Visser het getuig, nes ʼn vorige kenner, dat dit een van die ergste vorms van huishoudelike mishandelings is wat hy nóg gesien het. “Dit was gruwelik om die minste te sê. Daar was ernstige verwaarlosing en mishandeling in die huishouding. Almal het onder die aanranding deurgeloop. Die mishandelde-vrou-sindroom het ʼn groot impak op haar optrede gehad. Sy het aangeleerde hulpeloosheid ontwikkel weens haar onvermoë om haar situasie te verander,” het Visser getuig.

Volgens hom het die vrou haar man as “’n baie magtige wese” beskou vir wie sy baie bang was en sy was afhanklik van hom. “Sy kan sekere aspekte van die tyd in die huis onthou, maar nie alles nie. Dit is myns insiens van die onderdrukking van onaangename situasies wat sy wil uitblok.”

Visser het getuig alhoewel Weskoppies haar vroeër geëvalueer het, die instelling sekere aspekte van die vrou nie ag geneem het vir ʼn diagnose nie. “Sy het gesê sy het vir vier jaar dwelmmiddels gebruik wat haar man by Nigeriërs aangeskaf het om te herverkoop. Toe sy dwelmmiddels gebruik het, het sy ook Rum-en-Coca-Cola misbruik. Sy het dwelms begin gebruik omdat sy dan nie sou seerkry as haar man haar aanrand nie.”

Op ʼn vraag oor hoekom die vrou so lank by die man gebly het, het Visser geantwoord: “Sy was bang vir hom. Sy was ook afhanklik van hom en het ook nie oor die nodige sielkundige eienskappe beskik [om die man te verlaat] en dit suksesvol deur te voer nie. Sy het ook gesê die man het hulle toegesluit, daar was kameras oral om die huis en die man het met die sleutels onder sy kussing geslaap. Haar familie is ook belet om hulle huis te besoek.”

Staatsaanklaer Jennifer Cronjé wou tydens Visser se kruisondervraging weet of hy enige diagnose gemaak het. Visser het geantwoord het hy haar net geëvalueer om sy indrukke aan die hof voor te lê om haar persoonlikheidsomstandighede aan te dui. “Die toetse wat ek op haar gedoen het, is slegs vir my indrukke. Die toetse is nie genoegsaam om ʼn formele diagnose van ʼn geestesversteuring te maak nie.”

Cronjé het gesê al was die vrou bang vir haar man, was daar verskeie geleenthede waar sy van hom kon wegstap en sy het vroeër in die hof getuig dat sy wel teen hom opgestaan het.

Cronjé het ook begin om sekere aspekte van die toeste, wat gedoen is, te bevraagteken voor die hof vir die dag moes verdaag. Regter Eben Jordaan het die saak tot Dinsdag uitgestel wanneer Cronjé se kruisondervraging gaan hervat.

Maroela Media het vroeër berig die man, ʼn sakeman van die Oos-Rand, is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die sogenaamde gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook glo, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie. Die man is in hegtenis geneem toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings gevind en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die ma en pa staan sedertdien op aanklagte tereg wat verband hou met die beweerde mishandeling en verwaarlosing van hul vyf kinders, poging tot moord van hul oudste, wat erg aangerand is nadat hy “ontsnap” het, en dwelmsmokkelary. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Die vrou het skuld ontken op al die aanklagte teen haar.

Die man het skuld beken op een van die 22 aanklagte teen hom deur te erken hy het met die polisie se ondersoek ingemeng. Die ma sou aanvanklik ʼn staatsgetuie wees, maar wou toe nie teen haar man getuig nie.

Die man bly in aanhouding. Die vrou is uit op borgtog van R2 000.

Die egpaar se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm. Die kinders is tans in veilige sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Luister ·

Niemand sal ooit verstaan wat hierdie arme vrou en kinders deurgemaak het nie. Dit is maklik om te sê sy moes die mishandeling gekeer het, maar as ons nie in haar skoene was nie, kan ons nie oordeel nie. Hoop hulle kry goeie berading.

Rissiepit ·

Gaan deur my lewe want ek het deur soortgelyke omstandighede beleef en was selfs met die dood gedreig! Vandag 30 jaar gelede behandel my dogter my dat ek niks vir my kleinkinders mag gee nie, want sy gooi alles in die asblik! Ek mag hulle gladnie sien nie en skielik na my gesondheid verswak mag ek hulle sien vir 1 uur lank en ‘n week daarna mag ek hulle nooit weer sien nie!!! Presies dieselfde gaan met my kleinkinders se kinders gebeur.. want dit gebeur in hedendaagse lewe… Ek het 2 keer R150.00 onderhoud van haar pa gekry in 1988 nooit weer 1 sent nie. Ek het betaal vir alles tot sy matriek geskryf het..MBA studeer.. toe los sy dit..getroud en 2 kinders.. ek het alles van troue betaal (2 weke vakansie in die Kaap, haar man se trouring en alles wat sy wou he het sy gekry) doeke, geskenke en Apteekrekening met baie rande vandat die kinders gebore was en tans is hulle 12 en 10! Nou word ek belet om my kleinkinders te sien..ek het geen werk, medies, huis of kar nie.. bloeddruk was 266/146..ek het my alles gegee en opgeoffer vir haar! Dit is hartverskeurend en my hart is in duisende stukkies! Wie kan my help asb?

LB S ·

Ai, Rissiepit, hoe verskriklik hartseer. Ek kan my net indink hoe jy moet voel. Ek weet nie wie en hoe jy gehelp kan word nie, maar sal bid vir jou. Mag jy berusting en vrede in jou lewe vind en onthou, ander mense dink aan jou. Is daar nie ‘n familielid wat kan help nie?
Selfs my kinders wat goeie kinders is, moet somtyds “herinner” word daaraan dat hulle nog ‘n Ma het. Dit is die gejaagde lewe vandag wat almal opgeslurp het! Hulle het skaars tyd vir hulself, wat nog van iemand buite die huisgesin.

Koos de Meyer. ·

Ek verstaan nie hoe kan ‘n ma dit toelaat nie. Sy kon polisie toe gegaan het. Die hele samelewing het siek geword. Sulke gemors is nie werd om kinders te hê nie. Daardie kinders se lewe is alreeds verwoes, die ma is net so skuldig. Kom ons wag maar vir die howe en hoop geregtigheid seëvier. Hulle is nie werd om ouers genoem te word nie. Skuim van die aarde.

ek ook ·

Liewe koosie ek weet presies wat hierdie ma deurgaan, ja soos die berig lui, sy het baie “kanse” gehad om hulp te ontbied maar ek was self in so n “huishouding” my stiefpa het altyd n rede gesoek om ons (3 kinders) te voeter, ek was 12 toe loop ek al met verskeie blou oe wat ek moes se ek het teen iets vasgeloop want bewaar my siel sou die waarhied uitkom. my ma was hulpeloos, sy sou die ergste deurloop as sy sou keer en sou dit steke of dokters aandag verg dan was die leviete mooi neergele. geen ou wil deur so iets gaan nie maar wees asb die ma genadig, sy was verkeerd maar sy sou, soos my ma eerder deel wees van die “sonde” as om nooit weer haar kinders te kon sien nie. dis harsteer maar daar is baie sulke mense en huishoudings. ek bid elke dag vir daai kindertjies want ek was daar deur, dink tog aan die situasie ons mag nie judge nie, net die Here mag die dag as hy hulle kom haal.

Empatie ·

Alida, partykeer het iemand net ‘n oor nodig of ‘n reddingsboei. Wat sal dit van jou as mens wegvat? Sit jouself in ‘n ander persoon se skoene en vra jouself af wat sou Jesus gedoen het? Ek twyfel hy sound dieselfde antwoord gegee het. Ons almal hey ons porsie seer in die lewe maar dit gee niemand die reg om iemand Anders af te skiet nie.

raponsie ·

jy kan staats kliniek toe gaan ook rissiepit. waar jou bloeddruk gemonitor en jy op medikasie gesit sal wors. mens het hare op jou tande nodig, maar dis gratis.

Was ook daar ·

Mense, as jy so af gekraak en mishandel word is jy net bang vir die persoon. Ek het as kind so groot geword. My menswees is so afgebreek dat ek na 35 jaar sukkel om vir myself besluite te maak. My stiefpa is nou al 13 jaar dood maar elke dag voel dit vir my of hy my nog beheer van uit sy graf. Maklik om te sê gaan kry hulp. Maar die kere wat mens vir iemand vertel het wat aan die gang is, is dit net van “ai, ek is so jammer”. Niemand is regtig lus om te help nie.

Self ook daar ·

Ons ken nie die hele omvang van die gebeurtenisse nie. Daar moet redelike twyfel geskep word hoekom die staat haar ook aangekla het as medepligtige. Ek mysel was ook daar. Vir 14 jaar met n man getroud wat my al hoeveel keer amper vermoor het, my geslaan en geskop het en glos het vir die dood, selfs toe ek swanger was. Ek was al op geskiet. Hy was ongekukkig in die polisie en niks het gekom van 2 klagtes wat ek teen hom gele het nie. My en my 2 kinders se lewens was hel maar ek het tot die einde geveg vir my kinders. Hy kon my dood maak vir al wat ek omgegee het maar ek was n skild tussen hom en my kinders. My kinders het al geroosterde, gemifde brood geeet, want dit was al wat ek gehad het om te gee want hyt ons ook op n plaas toegesluit gehou in n bou val. Maar my kinders het geeet wyl hy soos n koning aan sy ma se tafel eet. Ek was ook bang, ek was stukkend binne en buite tot een aand, toe vat ek my kinders en hardloop. Dis 12 jaar later. Tyd het verby gegaan, my kinders is redelik stabiele volwassenes nou. Ek sit met erge letsels, fisies en emosioneel. Die “bottomline” is, n vrou kan as sy wil. Daar is n manier uit. Dit verg net moed, deursettings vermoe en goeie beplanning.

christa ·

Ek as klein kindjie het die selfde mishandeling deurgemaak. Daar is in my kop in geprint dat as ek sou gaan kla, ek na ‘n baie erger plek gestuur sou word. Dus het ek ‘n vrees op gebou en nooit gepraat nie. Die vrou was ‘n volwasse person en kon sekerlik besluite neem. Al was dit dan net om in iemand se oor te fluister oor wat aangaan.

Robin ·

Was ook daar, dis so waar wat jy se, ek kom uit so verhouding uit was gelukkig net 13 Maande lank daar elke keer wat ek wou uitkom dan het hy almal om my vertel dit is ek en hy doen niks verkeerd nie ens, dat ek maar gevoel het hoekom my tyd mors, tot die eendag wat hy my gegooi het met n hammer …. daai selfde dag het die polisie hom verwyder (dankie vir die bure) en ek kon uit kom.

marous ·

Sy wil nie teen hom getuig nie , al is sy nie meer onder sy beheer nie. Dan moet sy maar saam die gevolge dra vir die vernietiging van kinders se lewens.

Veer ·

Ai dit breek my hart om al hierdie hartseer te lees. Respek vir elkeen van julle. Ek weet ek sal enige iets trotseer vir my kind om hom of haar te beskerm. Ek besef net elke dag meer en meer dat ons meer verdraagsaam teenoor mekaar moet wees..

Nog een ·

Ek was ook daar …..eers as kind en later as die vrou….. Die ma / vrou word in so n verhouding ook as n minderjarige behandel en oorheers. Sy is magteloos… Soms vertrou sy iemand en roep uit om hulp….maar niemand wil betrokke raak nie ( indien hulle haar storie glo) en verwag sy moet op haar eie van die ‘monster’ ontsnap…. Wie gaan help met hul ( haar en haar kind/ers se versoring tot sy weer op haar eie voete kan staam??… Geen antwoord…. ‘”Ons dink aan jou…hoop maar iemand (anders) kan jou help…hoop. jy kom reg”…..
En aan (baie) sielkundiges wil ek net se….julle laat julle lekker om die bos lei met die indrukwekkende, maar blatante leuens van hierdie tipe mishandelaars en bedrieers…. wat n totale valse front voorhou wanneer hulle in konsultasie is….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.