Springs-gruwelhuis: Kinders ondergaan IK-toetse

Die sogenaamde gruwelhuis in Springs. Foto: @POWER987News

Die sogenaamde gruwelhuis in Springs. Foto: @POWER987News

Die vyf kinders wat glo jare lank deur hul pa in ʼn huis in Springs, oos van Johannesburg, aangerand en aangehou is, het almal intelligensiekwosiënt (IK)-toetse ondergaan, het Beeld Donderdag berig.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het die IK-toetse en persoonlikheidstoetse gedoen om te bepaal of die kinders, onderskeidelik twee, drie, vier, 11 en 16 jaar oud, skoolgereed is of remediërende onderrig benodig.

Linda de Rooster, ʼn opvoedkundige sielkundige, het gesê die kinders moes geëvalueer word omdat albei hul ouers leerprobleme het. Dit was ook nodig om te bepaal of hulle geestes- of neurologiese probleme het.

Volgens De Rooster gaan dit makliker vir die drie jonger kinders wees om by enige skool aan te pas as vir die twee ouer kinders.

Die pa, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie om die identiteit van die kinders te beskerm, gaan na verwagting Donderdag weer in die Springs-landdroshof verskyn. Hy het verlede week glo probeer selfmoord pleeg nadat sy aansoek om borgtog afgekeur is.

Die man is op 23 Mei in hegtenis geneem nadat sy 11-jarige seun vroeër daardie week uit die huis kon ontsnap en by die bure om hulp gaan aanklop het.

Die verdagte staar aanklagte van aanranding en ontvoering in die gesig. ʼn Bykomende aanklag van verkragting kan ook moontlik teen hom gebring word, ná bewerings dat hy glo sy vrou gedwing het om met hom seks te hê. Hy kan moontlik ook van meineed aangekla word omdat hy ʼn vals verklaring afgelê het toe hy beweer het sy seun word vermis, en kan ook van poging tot moord aangekla word. – SAPA

Lees ook:
Springs-gruwelhuis: Pa uit hospitaal ontslaan
Springs-gruwelhuis: Pa sny glo polse in aanhouding
Springs-gruwelhuis: Applous toe hof nee sê vir borgtog
Springs-gruwelhuis: Hof hoor ma rand ook kinders aan
Springs-gruwelhuis: Skokgetuienis oor marteling
Springs-gruwelhuis: Pa vra borgtog voor volgepakte hof
Springs-gruwelhuis: Pa weer in hof
Springs-gruwelhuis: Kinders, ma vir berading gestuur
Springs-gruwelhuis: Pa in hof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AmY ·

Die drie jonges mag dit dalk maak, maar ek weet nie van die oudste twee nie. Hulle ik-vlakke mag dalk laer as die van ‘n graad een leerling wees. Ek hoop hulle kry die regte hulp en bystand van hier af.

Ek glo ook nie hulle moet by familie geplaas word nie, want van die familie het geweet wat aangaan en stilgebly.

En wie gaan vyf kinders op een slag by hulle inneem? Ek glo nie hulle moet nou van mekaar geskei word nie. Dit mag sleg wees vir hulle.

Moet sê, ek het nie geweet mens kan ‘n kind van twee al vir ‘n ik-toets neem nie.

Biki ·

Die hele gebeurtenis het my regtig onkant gevang. Soos ek gelees het en die gebeure meer en meer ontvou het, het dit doodeenvoudig erger geraak.

My hele menswees is saam met hierdie kinders. Mens wil nie voorspellings maak nie, maar ek sien swarigheid vir hulle, veral die oudste twee.

Ek stem saam met jou AmY, moenie die kinders skei nie.

Leana ·

Die oudste dogter was glo al in Graad 6 toe die pa haar uit die skool haal.

Elizabeth ·

Die hele storie is sleg. Ek kan glad nie sien, maak nie saak hoe hoog hul IK dalk is dat die oudste twee nou sommer in gewone skole kan geplaas word nie. As ek dink aan vakke soos wiskunde en wetenskap – mens se kind kan net een dag uit die skool afwesig wees en as daar ‘n spesifieke iets daardie dag verduidelik is, is hul basies agter. So, hoe kan hulle nou skielik met geen skolastiese agtergrond by wees met alles. Dis jammer daar is nie geld dat die twee privaat onderrig kan kry en hul sodoende kan min of meer kan bykom. Mens dink ook aan hul toekoms – hierdie storie is eintlik honderd maal erger as wat mens besef – hoe gaan hul ooit regtig aanpas (ten spyte van hulp/terapie ens, jou brein kan nie die verlede negeer nie, dit WERK nie so nie)in die samelewing. Hoe en waar gaan hul werk kry en in ons vinnige lewenspas kan aanpas sonder allerhande probleme. GEEN, maar GEEN straf vir die amebe “ouers” gaan genoeg wees om hierdie wandade aan hierdie kinders minder te maak nie. Ek wil nog steeds weet hoekom word die “ma” nie vervolg nie en wat van almal wat geweet het van die wandade? Hier moet ‘n voorbeeld gestel word deur toepaslike straf sodat ‘n duidelike boodskap uitgestuur word aan ALMAL dat so iets NIE geduld behoort te word en nie MAG gebeur nie! Ek het nie genoeg woorde om uit te druk HOE laakbaar ek hierdie goed vind nie en werklik, my hart kry so seer vir die arme kinders.

AmY ·

@Biki en Elizabeth: ek stem ook saam julle. My hart bloei vir daai kinders. Sal hulle (veral die oudste twee) ooit normaal kan aanpas in die samelewing? Of gaan hulle in Beskermende Werksplekke opeindig?

Babs ·

Kan nog nie glo die ma het die pa laat wegkom met die aanrandings. Ek glo enige ma, wat omgee vir haar kinders, sal baklei tot die dood om hulle uit sulke omstandighede te red.. Die kinders moet nou spesiale onderrig kry. Hulle kan soos baie met ‘n lae IK in die parlement op-eindig.

Belinda ·

Omdat ek in die dorp bly ry ek elke dag verby daai huis en vrees wat daai kinders alles moes aanskou van die PA en die MA en ek dink ook hulle en die hele spul wat daar gebly het en die familie is almal ewe skuldig wat n wrede lewe vir sulke klein kinders en breek my hart om te dink my seuntjie is ook 11 jaar oud en dis darem nog so klein…………………..maar ek glo en hoop hulle sal die 5 kinders kan help waar nodig is maar die oudste 2 gaan meer hulp nodig he……………………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.