Springs-gruwelhuis: ‘Ma kon opgetree het’

Die ma Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Hoewel die 39-jarige ma van Springs wat saam met haar eksman beskuldig word dat hulle jare lank hul vyf kinders “gyselaar” gehou, mishandel en verwaarloos het dalk mishandeldevrou-sindroom het, sal dié faktor geen verweer vir haar in die hof kan wees nie.

Die vrou en haar 39-jarige eksman, wie se name weerhou moet word om die kinders se identiteit te beskerm, het Woensdag weer in die landdroshof in Pretoria verskyn waar die verdediging en die staat amptelik hul sake gesluit het.

Melissa Fernihough, ʼn kliniese sielkundige by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in die weste van Pretoria, was die laaste getuie in die getuiebank.

Fernihough en ʼn span kenners by Weskoppies het in 2016, voor die verhoor in die hooggeregshof begin het, geen diagnose van ʼn geestesversteuring by die vrou gemaak nie. Die instelling het ook bevind sy is toerekeningsvatbaar en geskik om verhoor te word. Hulle het ook bevind die vrou sou tussen reg en verkeerd kon onderskei ten tyde van die misdrywe. Die vrou het 30 dae in Weskoppies deurgebring.

Fernihough het Dinsdag tydens kruisondervraging deur adv. Harry Prinsloo, die vrou se regsverteenwoordiger, erken sy was destyds bewus dat die vrou mishandel is. Sy het ook erken dat die moontlikheid dat die vrou mishandeldevrou-sindroom het, nie uitgesluit kan word nie.

Franco Visser, ʼn onafhanklike kliniese sielkundige wat vir die vrou getuig het, het bevind sy ly aan “mishandeldevrou-sindroom” weens “20 jaar lange fisieke en emosionele mishandeling en erge aanranding”. Hy het ook bevind sy toon tekens van depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring.

“Mishandeldevrou-sindroom het ʼn groot uitwerking op haar optrede gehad ten tyde van die misdrywe. Sy het aangeleerde hulpeloosheid ontwikkel weens haar onvermoë om haar situasie te verander weens die langdurige geweld en mishandeling wat sy ervaar het,” het Visser getuig.

Fernihough het Woensdag getuig sy het geen aanduiding tydens haar evaluering gevind dat die vrou ten tyde van die misdrywe ʼn gebrek aan vermoë gehad het om op te tree nie. “Sy kon optree, maar het na haar goeddunke gekies om nie op te tree nie,” het sy gesê.

Staatsaanklaer Jennifer Cronjé het dit Woensdag gestel dat mishandeldevrou-sindroom volgens Suid-Afrikaanse wetgewing nie ʼn verweer is nie. Dit kan slegs as versagtende omstandighede in ag geneem word, sou die vrou skuldig bevind word.

Regter Eben Jordaan het die verhoor tot Augustus uitgestel vir slotbetoë.

Die pa Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Jordaan het die staat en verdediging gevra om in hul betoë spesifiek aan te dui watter van die nagenoeg 20 aanklagte waarop die ouers teregstaan steeds van toepassing is ná die verhoor, aangesien sommige aanklagte kan oorvleuel. Hy het verwys na die feit dat die kinders nooit skool toe gestuur is nie en dat dié aanklag as verwaarlosing beskou kan word.

Die ander aanklagte is onder meer mishandeling, die besit en handel van dwelms en dat die ouerpaar die kinders aan pornografie blootgestel het.

Jordaan wou spesifiek weet of die partye die aanranding op die egpaar se oudste seun, wat 11 jaar oud was toe hy in Mei 2014 uit die sogenaamde gruwelhuis kon ontsnap het, as poging tot moord of aanranding met doel om ernstig te beseer, beskou.

Die seuntjie het destyds uit die huis ontsnap en by die bure gaan aanklop om hulp. Die seun is in goeder trou terug in sy ouers se sorg geplaas, waarna die man hom glo erger aangerand het omdat hy weggeloop het. Hy het die kind glo ook in die swembad gegooi voor hy hom in die huis se plafon weggesteek en vir die polisie gesê het die seun het weer weggeloop. Die man is om dié rede van dwarsboming van die gereg aangekla en het reeds, en net, op dié aanklag skuldig gepleit. Die ma het ook erken sy het dwelms gebruik en skuld beken op die besit van dwelms.

Toe die polisie ná die ouerpaar se inhegtenisneming in 2014 in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings gevind en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Die vrou is tans uit op borgtog van R2 000 en die man is in aanhouding nadat sy borgtogaansoek van die hand gewys is.

Die man en vrou is intussen geskei.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Se maar net ·

Geen ma laat so iets toe nie, al doen hy WAT aan jou. As sy nie kon besef wat gebeur verkeerd is nie, is sy nie ‘n ma se voet nie.

Tammy ·

Die regstelsel het weereens in die grond geduik, soos in baie gevalle is hierdie kinders twee keer in hulle lewe in die rug gesteek, eerstens deur die ouers en tweedens deur ons wonderlike regstelsel wat die ma borg gegee het. Ek voel skaam hieroor, sies hulle is in die steek gelaat deur die mense wat hulleself ouers genoem het, die ouers wat hulle lief gehad het. Ek hoop dat die ma en pa albei lewenslank tronkstraf sal kry omdat al hierdie kinders lewenslank geskend is. Hulle sal nooit n normale lewe ken nie, nie eers met n sielkundige se hulp nie…dit help net mooi niks. Hulle is geskend, soos iemand wat n been of arm verloor het, dit is so bitter jammer. Asseblief geen gelyklopende vonnis nie, hulle moet vergaan in die tronk. Die kinders se lyding, van jare, was erger as om in die hel te wees!!

Alida ·

Sy sal hopenlik nie toegelaat word om die kinders te sien nie.

Anoniem ·

Ek het die saak effens gevolg, en keur glad nie goed wat gebeur het nie en is dankbaar die kinders is bevry, maar ek het ook al geleer dat as jy nog nie self in n situasie was nie jy nie regtig weet waarvan jy praat nie.

Andrea ·

Maar hoe kan jy toekyk hoe jou kinders gemartel, mishandel en verniel word? Ek praat nie van eenmaal se beserkeraanval nie, ek praat v jare se mishandeling.

E ·

Ek dink hulle kan altwee toesluit en die sleutel weggooi! Daai kinders gaan nooit normaal wees nie en vir die res van hulle lewens met horrible nagmerries moet saamleef.

A ·

Weet nie hoe kan iemand wat nog nooit mishandel, of aangerand oor jare, besluit as hul nie self daar deur is nie.
Men’s se denke vanuit so ‘n onstabiele konstante vrees situasie is nie die van n normal persoon nie.

LVH ·

2014 in hegtenis geneem???? dis nou 4 jaar later….wat sloer hulle so!

Leser ·

Hoeveel sake gaan nou nog uitgestel word na Augustus?? Die howe gaan absoluut oorvol wees om al die sake te akkommodeer wat al vir jare en maande aankom.

nie 'n ma se .... ·

mishandelde vroue sindroom, – maar sy bly kinders maak en dwelms gebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.