Springs-gruwelhuis: Ma se ‘sindroom’ weer uitgelig

Die ma in die beskuldigdebank (19 Junie 2018). Foto: Phillip Bruwer

ʼn Kliniese sielkundige by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal het Dinsdag tydens die opspraakwekkende Springs-gruwelhuis-verhoor getuig die ma se mishandeling aan die hand van haar destydse man het nie veel gewig gedra toe ʼn verslag saamgestel is oor of sy geskik is om verhoor te word nie.

Die ma word saam met haar eksman beskuldig dat hulle jare lank hul vyf kinders as “gyselaars” in hul huis in Springs aangehou, verwaarloos en mishandel het.

Die verhoor is sedert Oktober verlede jaar verskeie kere uitgestel sodat die vrou se verdediging vir haar sielkundige waarneming kon reël. Die verhoor het Maandag in die Pretoria-hooggeregshof hervat toe Franco Visser, ʼn kliniese sielkundige, sy sielkundige waarnemings aan die hof voorgelê het.

Visser het getuig die vrou ly aan “mishandelde-vrou-sindroom” weens “20 jaar se fisieke en emosionele mishandeling en erge aanranding”. Hy het ook bevind sy toon tekens van depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring.

“Mishandelde-vrou-sindroom het ʼn groot impak op haar optrede gehad. Sy het aangeleerde hulpeloosheid ontwikkel weens haar onvermoë om haar situasie te verander weens die langdurige geweld en mishandeling wat sy ervaar het,” het Visser getuig.

Die vrou is reeds voor die verhoor deur die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in die weste van Pretoria geëvalueer en geen diagnose van ʼn geestesversteuring is gemaak nie. Die instelling het ook bevind sy is toerekeningsvatbaar en geskik om verhoor te word.

Visser het egter Dinsdag gesê hy stem nie saam met ʼn kliniese sielkundige, Melissa Fernihough, by Weskoppies wat bevind het dat die ma toerekeningsvatbaar is nie.

Staatsaanklaer Jennifer Cronjé het ná Visser se getuie vir Fernihough geroep om te getuig oor haar bevindings nadat die vrou 30 dae in Weskoppies deurgebring het.

Fernihough het getuig sy het haar bevindings by die instelling gemaak saam met ʼn span kenners, insluitende ander sielkundiges en ʼn maatskaplike werker. Daar is tydens haar evaluering onderhoude met die vrou gevoer en toetse, insluitend IK-toetse, is op haar gedoen.

Die vrou het in graad 9 ʼn skool vir leerders met spesiale behoeftes verlaat en het destyds aan Fernihough gesê sy het graad 10 geslaag. Fernihough het haar daarvolgens ʼn IK-toets laat aflê en bevind sy het ʼn gemiddelde intelligensie.

Fernihough het ook bevind sy verstaan die nagevolge van haar optrede en kan tussen reg en verkeerd onderskei, en is dus geskik om verhoor te word.

In kruisondervraging deur adv. Harry Prinsloo, die vrou se regsverteenwoordiger, het Fernihough erken sy was destyds bewus dat die vrou mishandel is.

“Het jy dit in ag geneem toe jy haar verslag saamgestel het?” wou Prinsloo weet.

“Ja, maar dit was nie my rol om daarop te reageer nie. My rol was slegs om vas te stel of sy by hofverrigtinge kan byhou en kan onderskei tussen reg en verkeerd, so die mishandeling het nie veel gewig gedra nie,” het Fernihough geantwoord.

“Sou die mishandeling en aanranding gewig dra, kan jy die moontlikheid uitskakel dat sy wel mishandelde-vrou-sindroom kan hê?” het Jordaan gevra.

“Ek sal die moontlikheid nie kan uitskakel nie,” het Fernihough geantwoord.

Die pa in die beskuldigdebank (19 Junie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Regter Eben Jordaan moes daarna die hof vir die dag laat verdaag. Fernihough se kruisondervraging hervat Woensdag. Jordaan het aangedui dat hy dan meer oor die mishandelde-vrou-sindroom gaan uitvra.

Die vrou is tans uit op borgtog van R2 000 en die man is in aanhouding. Hul name mag nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm.

Die sogenaamde Springs-gruwelhuis-ouers staan tereg op ʼn reeks misdrywe wat verband hou met verwaarlosing en mishandeling van hul vyf kinders. Hulle staan ook tereg op een aanklag van poging tot moord op hul oudste seun. Die beweerde dade het aan die lig gekom toe hul oudste seun, toe 11 jaar oud, in Mei 2014 daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap en by die bure om hulp gaan aanklop het. Die ouers is daarna in hegtenis geneem en die welsyn het die kinders uit hul sorg verwyder. Die man en vrou is intussen geskei.

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings gevind en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Luister ·

Hoop hierdie jammerlike verskoning van ‘n man kom NOOIT weer uit die tronk nie!

Gertruida ·

“in hul buis in Spring aangehou” – tweede paragraaf. Seker Springs?

Tania Heyns ·

Dagsê Gertruida

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

CAROL ·

Terwyl die nare storie aan die gang was – was sy baie gretig om te help – nou skielik het sy n mishandelde vrou sindroom??? Sy kon lankal plan gemaak het om weg te stap van dit!!!!

Driekie ·

Nee Carol….sy is ook n kind… Sy was nes die kinders behandel en mishandel.. Dit is juis die sindroom waaraan sy ly wat haar magteloos maak. Ek kan jou wed sy was nie “gretig om te help”‘soos jy se nie….maar met geweld gedwing….onthou sy kon nie soos n normale vrou of ma funksioneer nie…. Seker moeilik vir iemand andersb om so iets te verstaan …..

ES ·

Ek glo geen van haar verskonings nie… ek sidder om te dink aan die angs en vrees wat daardie kindertjies moes beleef het. Watter man rand sy kind so erg aan soos wat daardie 11 jarige seun aangerand was. Hulle hoort altwee virewig in die tronk.

dolphin` ·

sy is bang vir die tronk beland daar lieg vir die hof .geen verskoning en hoe voel die kids van erg traumatiseer en nooit skool nie veral mishandeling en kry die kids jammer en waarom die vrou nie hulp gekry het nie.

Sarel Strydom ·

Sy gaan nog later as “nie toerekeningsvatbaar”verklaar word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.