Springs-gruwelhuis: Ma ‘vertel leuens’

Die ma in die beskuldigdebank (19 Junie 2018). Foto: Phillip Bruwer

ʼn Spesialisgetuie ter verdediging van die ma wat saam met haar eksman verdink word dat hulle vir jare lank hul vyf kinders as “gyselaars” in hul huis in Spring aangehou, verwaarloos en mishandel het, hou vol sy het ernstige sielkundige probleme.

Die verhoor is sedert Oktober verlede jaar verskeie kere uitgestel sodat die vrou se verdediging vir haar sielkundige waarneming kon reël. Die verhoor het Maandag in die Pretoria-hooggeregshof hervat toe Franco Visser, ʼn kliniese sielkundige, sy sielkundige waarneming aan die hof voorgelê het.

Die vrou is reeds deur die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in die weste van Pretoria geëvalueer en geen diagnose van ʼn geestesversteuring is gemaak nie. Die instelling het ook bevind sy is toerekeningsvatbaar en geskik om verhoor te word.

Visser het getuig die vrou ly aan “mishandelde-vrou-sindroom” weens “voortdurende fisieke en emosionele mishandeling en erge aanranding”. Hy het ook bevind sy toon tekens van depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring.

Visser het Dinsdag onder kruisondervraging gesê hy stem nie saam met ʼn kliniese sielkundige by Weskoppies wat bevind het dat die ma toerekeningsvatbaar is nie.

“Ek is van mening dat sy nie alles verstaan wat reeds in die hof gebeur het nie. Alhoewel die verhoor nog plaasvind, het sy aan my aangedui dat sy reeds skuldig bevind is aan mishandeling. Volgens haar is sy klaar in haar kop skuldig bevind. Ek het haar getuienis en kruisondervraging gelees en die indruk gekry sy het net antwoorde gegee op konsepte wat sy nie verstaan nie.”

Visser het getuig dit is sy mening dat bewyse tydens die tydperk in die huis dui op ʼn persoon wat nie gefunksioneer het soos sy moes in die rol van ʼn ouer en ʼn ma nie.

“Sy was vir ʼn periode van nagenoeg 20 jaar saam met haar man. Sy het aan my gesê dinge het begin aggressief raak toe hul oudste dogter een jaar oud geword het. Dit is my opinie dat sy die sielkundige probleme toe ontwikkel het en nie sielkundig in staat was om te funksioneer soos daar van haar verwag is nie.”

Adv. Jennifer Cronjé het kapsie teen dié stelling gemaak en gesê die vrou het getuig dat sy wel die kinders versorg, klere gewas en huis skoon gemaak en by tye teen haar man opgestaan het.

“Ek stel dit dat die getuienis van die vrou weerspreek wat jy sê, want sy het opgestaan vir haar self,” het Cronjé gesê.

Die pa in die beskuldigdebank (19 Junie 2018). Foto: Phillip Bruwer

“Ek stem nie saam nie. Daar was wel tye wat sy opgestaan het, maar sy was nie bevoeg of in staat om dit oor ʼn lang tydperk vol te hou nie,” het Visser geantwoord. “Mishandelde-vrou-sindroom het ʼn groot impak op haar optrede gehad. Sy het aangeleerde hulpeloosheid ontwikkel weens haar onvermoë om haar situasie te verander weens die langdurige geweld en mishandeling wat sy ervaar het.”

Visser het ook nie saam met Weskoppies se verslag gestem wat bevind het dat sy ten tyde van die beweerde misdrywe die nagevolge van haar optrede kon verstaan of reg van verkeerd kon onderskei nie.

“Ek is van die opinie dat die span kenners by Weskoppies nie ʼn breedvoerige evaluasie op haar gedoen het nie,” het Visser gesê.

Cronjé het dit gestel dat die staat ʼn probleem het met die vrou se geloofwaardigheid en dat sy verskillende stories aan verskillende mense weergee. Cronjé het dit gestel dat die vrou leuens vertel en daarop uitgevang is.

“In my opinie is dit weens ʼn gebrekkige insig en sielkundige probleme. Dit sou moeilik vir haar wees om ʼn konstante prentjie van haarself deur te gee. Wat sy getuig het en wat werklik in die huis gebeur het, is twee verskillende dinge. Die vuil toestand waarin die huis en klere gevind is, is ʼn weerspieëling van my kliniese indruk dat sy nie in staat was daartoe nie. Iewers lê ʼn probleem oor hoekom dit nie gedoen is nie,” het Visser geantwoord.

Regter Eben Jordaan wou by Visser weet of dit dui op sielkundige probleme of “pure luiheid”.

Visser het geantwoord dit dui op ʼn baie groot sielkundige probleem wat slegs deur behoorlike evaluasie vasgestel kan word.

Visser het voorgehou dat in die breedvoerige toetse wat hy op die vrou gedoen het, hy nêrens kon sien dat sy hom probeer mislei het nie. “Daar is aspekte in die toetse om sulke goed op te tel,” het hy verduidelik.

Die verdediging het daarna voorlopig hul saak gesluit. Die saak duur voort. Die man bly in aanhouding. Die vrou is uit op borgtog van R2 000. Die beskuldigdes se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm.

Die sogenaamde Springs-gruwelhuis-ouers staan tereg op ʼn reeks misdrywe wat verband hou met verwaarlosing en mishandeling van hul vyf kinders. Hulle staan ook tereg op een aanklag van poging tot moord op hul oudste seun. Die beweerde dade het aan die lig gekom toe hul oudste seun, toe 11 jaar oud, in Mei 2014 daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap en by die bure om hulp gaan aanklop het. Die ouers is daarna in hegtenis geneem en die welsyn het die kinders uit hul sorg verwyder. Die man en vrou is intussen geskei.

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings gevind en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Self ook daar ·

My simpatie is maar min. Wat nou as die man ook “onbevoeg” verklaar word. Snert. Hier probeer iemand planne beraam om te sorg dat n MA nie skuld hoef te dra vir haar deel aan wat sy gedoen het nie.

aggenee ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg, hulle is nie bevoeg om kids te hê nie, moes nooit gehad het nie.

LF ·

Ek sien nie die logika agter die tyd mors om te bepaal of sy Mishandelde Vrou Sindroom het nie. Die kinders is mishandel – is dit nie waaroor die hofsaak moet gaan nie? Nie oor hoe sy as ma nie eintlik skuldig hoort te wees nie. Gaan sy nie tronk toe nie oor haar beweerde sindroom – maak sy kinders by ‘n nuwe man en die mishandeling sit voort.

Maggie ·

Ek stem saam dat Mishandelde Vrou Sindroom
nie gebruik kan word vir haar leuns nie. Sy is verseker goeie aktrise. Die kinders is geskaar for live en sy was deel daarvan.
Ek glo Regter Eben Jordaan sal deur die Toneelspel sien.
Eerlik waar dink ek die Weskoppies Psigiatriese Span het meer ondervinding met versteurde mense daagliks as Franco Visser.

Deloris ·

As die 1ste kind slegs een jasr oud was toe die probleme begin het soos sy sê…..hoekom dan nog 4 kinders kry…..

Oujongvrou ·

Die pu mense het gese die duiwel hou hom nie op met skoon huise en sindelikheid nie. Hier is n mooi voorbeeld

Driekie ·

Dit wil voorkom asof die ma ook soos ‘n kind behandel en saam met die kinders mishandel is…. My mening is dat haar gesag totaal ondermyn /oorheers was en dat sy geen seggenskap gehad het nie…. (n kwessie van ‘bly stil en maak soos ek se….. of….’) Moeilik vir ander mense om so iets te verstaan.. ..moenie te gou oordeel nie…

Nika ·

Dis tragies. Mense is vinnig om vinger te wys as iemand anders onder kruisverhoor is. So vêr ek weet was die ma ook as gyselaar aangehou. Sit jou in haar skoene… iemand wat jare mishandel is en nie n kaans staan teen so agresiewe man, hy het haar boonop met die dood gedreig as sy by die deur wou uitstap of om die kinders leed aan te doen. Onskuldig to skuldig bewys kan word, en troos julle daaraan…. God slaap nie as sy weg kom en sy is wel skuldig sal sy eendag haar straf kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.