Springs-gruwelhuis: Ouers hoor dán hul lot

Die pa kom by die trappe die hof binnegestap (14 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die verhoor van die 39-jarige man en sy 39-jarige vervreemde vrou wat teregstaan op ʼn reeks aanklagte as deel van die sogenaamde Springs-gruwelhuis-hofsaak het Dinsdag in die Pretoria-hooggeregshof hervat.

Die staat en die regsverteenwoordigers van die man en die vrou, wie se name nie genoem mag word nie om die identiteite van hul kinders te beskerm, het almal hul slotbetoë voor regter Eben Jordaan ingedien.

Jordaan het aangedui dat hy reeds aan sy uitspraak begin werk het en dat dit byna afgehandel is. Die hofverrigtinge is tot Donderdag uitgestel wanneer Jordaan uitspraak sal lewer.

Die man, ʼn sakeman van die Oos-Rand, is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die sogenaamde gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook glo, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie.

Die man is in hegtenis geneem toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Die ma in die hof (14 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings aangetref en die kinders het geen speelgoed gehad nie.

Die ma en pa staan sedertdien op aanklagte tereg wat verband hou met die beweerde mishandeling en verwaarlosing van hul vyf kinders, poging tot moord van hul oudste, wat erg aangerand is nadat hy “ontsnap” het, en dwelmsmokkelary. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Die vrou het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar. Die man het slegs skuld beken op een van die 22 aanklagte teen hom deur te erken hy het met die polisie se ondersoek ingemeng. Die ma sou aanvanklik ʼn staatsgetuie wees, maar wou toe nie teen haar man getuig nie.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lola ·

Hoekom noem julle elke keer dat dit sy ‘vervreemde vrou’ is? Hulle het dan saam in die huis gebly net voor hulle gearresteer was. Hulle is dan in aanhouding van toe af.

Francois Joubert ·

Sy was nog nooit ‘n vervreemde vrou. Sy was destyds met die man getroud en sedert hy in die tronk is wettiglik van hom geskei. Maroela kan maar regtig dit regstel.

christa ·

en die vrou het aan Huisgenoot vertel sy is nou verloof aan haar man se neef, met haar foto daarby.

Theo ·

Van n GRUWELHUIS na GRUWELTRONK …. dis waar hulle hoort vir n baaaaaie lang tyd

Johanna ·

Hoop dit gaan n baie swaar vonnis wees. En hoop julle sien nooit weer julle kinders nie. Ve

Gesiggie ·

Ja nee stem… hul verdien nooit weer om die son te sien skyn… na als wat hul aan hul eie kinders gedoen het, ek hoop ook net die kinders kry nou goeie sorg en baie liefde,,, dit moet gruwelik wees om te dink…my ouers doen dit aan hul eie vlees en bloed”’ jul moet hard betaal vir die skade wat jul gerig het aan die kinders… jul dag sal kom…

Nettie ·

@Gesiggie – die ergste is dat talle gevallestudies en navorsing bewys het dat die mishandelde in hul latere lewens die mishandelaar ráák. Dié arme kinders is vir die res van hul lewens geskaad en dit alles vanweë twee mense – wat in die eerste instansie níé kinders moes gehad het nie – se verwronge idee van ‘ouerskap’.

Nie noodwendig ·

@Nettie. Nee, dit is nie waar nie. Die meeste mense wat mishandel word en deur ‘n traumatiese kinderlewe is, mishandel nie ander nie. Dit is maar enkele mishandelde kinders wat ook so uitdraai, maar die meeste kies om die regte ding te doen. Hul het wel baie emosionele skade waardeur hul moet werk. Dis wel so dat die meeste misdadigers/mense wat ander mishandel, ook ‘n slegte opvoeding of ongesonde huishouding, mishandeling en geweld deurgemaak het. Ek glo nie daardie kinders sal soos hul ouers uitdraai nie.

treurgrond ·

Stem saam met almal – laat hulle gevonnis word en gaan uitvind waaroor dit gaan om onskuldige kinders te martel. Die kinders vergeet so iets nie net sommer nie – dink net wat het julle gedoen het aan hulle – julle moet ‘n baie lank tyd gaan sit en dink by julself. die vrou was daar – maak nie saak of sy deur haar man gemartel is nie – dit was haar kinders wat net liefde nodig gehad het net liefde nie marteling nie.

Stuiwer ·

Watse “ma” is dit? Ek dink nie sy is die titel werd nie. ‘n Ma beskerm haar kinders met haar lewe. Ongelukkig voldoen hierdie vrou nie aan die “vereistes” nie. Hoe kan sy die man, ten koste van die kinders, beskerm. Nou was haar beurt om uit te praat, maar sy het haar kinders (weereens) in die steek gelaat.

Carlien ·

Ek hoop die kinders sien hulle ouers nooit weer nie!!!!! Hulle lewe moes elke dag loutere hel gewees het.. My hart breek vir hulle. Vir die ouers voel ek NIKS! Mag julle julle eie hel beleef as julle gevonnis word. Ek het van trauma in my kinderlewe erg gehakkel wat my selfvertroue erg geknou het. Tot vandag toe is ek n baie angstige mens wat sleg slaap en altyd op die edge voel.. Jy vergeet NOOIT wat jy as kind deurgemaak het nie. Jy cope van dag tot dag en smile na buite toe terwyl jy aan die binne kant eintlik so stukkend en verniel voel.. Niemand, nie eers my man en kinders weet watse stryd die lewe elke dag vir my is nie.. Fake it till you make it..

Alet ·

Nou wil sy ook n victim speel. Sy was glad nie n victim nie. Hoop sy word ook toegesluit. Sy is net so skuldig soos haar x man.

Elske Lane ·

Die 11 jarige seun behoort as ‘n held aangewys te word. Hy het immers meer moed as die ma gehad om hulp te soek en het hul lewens gered. Knap gedaan seun.

Amelia ·

Die kinders was saam met my kinders in die jeug. Die dogter het so goed gedoen in sports. Het baie goed gegaan met hul en was so gelukkig in hul nuwe blyplek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.