Springs-gruwelhuis: Ouers weer in hof

Die ma in die beskuldigdebank. Foto: Phillip Bruwer

Regter Eben Jordaan het Maandag harde woorde vir die regshulpraad gehad wat oënskynlik in vier maande min gedoen het om ʼn sielkundige verslag van die ma van die sogenaamde Springs-gruwelhuis te verkry.

Die verhoor van die 39-jarige man en sy 39-jarige vervreemde vrou was veronderstel om Maandag in die Pretoria-hooggeregshof voortgesit te word nadat dit op 19 Oktober verlede jaar uitgestel is sodat die vrou sielkundige waarneming kon ondergaan.

Die vrou is tydens vorige hofverrigtinge deur ʼn spesialisgetuie uitgemaak as iemand wat simptome van Stockholm-sindroom toon en dat sy tekens wys van depressie, posttraumatiese stresversteuring en angs. ʼn Kenner het ook toegegee dit was van die ergste vorms van huishoudelike mishandeling wat hy nog gesien het. Die kenner het gesê die vrou is reeds deur ʼn paneel deskundiges beoordeel, maar sy het behoorlike sielkundige waarneming nodig vir ʼn vonnisverslag.

Die man, ʼn sakeman van die Oos-Rand, is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die sogenaamde gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook glo, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie. Die man is in hegtenis geneem toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Die pa in die beskuldigdebank. Foto: Phillip Bruwer

Toe die polisie ná sy inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar was ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings gevind en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die ma en pa staan sedertdien op aanklagte tereg wat verband hou met die beweerde mishandeling en verwaarlosing van hul vyf kinders, poging tot moord van hul oudste, wat erg aangerand is nadat hy “ontsnap” het, en dwelmsmokkelary. Die kinders was in hierdie tydperk tussen die ouderdomme van twee en 16 jaar.

Die egpaar se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm. Die kinders is tans in die sorg van familielede.

Die vrou het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar.

Die man het slegs skuldig gepleit op een van die 22 aanklagte teen hom deur te erken hy het met die polisie se ondersoek ingemeng. Die ma sou aanvanklik ʼn staatsgetuie wees, maar wou toe nie teen haar man getuig nie.

Die ma was Maandag in ʼn netjiese swart pakkie in die beskuldigde bank. Sy het sowat vyf meter weg van haar eksman gesit wat in ʼn pers hemp en ʼn das verskyn het.

Harry Prinsloo, die vrou se regverteenwoordiger, het aan die hof gesê die sielkundige verslag is nog nie gereed nie en het uitstel versoek. Staatsaanklaer Jennifer Cronjé het gesê sy verstaan die situasie en het nie die aansoek teengestaan nie.

Jordaan het daarna die saak tot Maandag uitgestel. Hy het gesê as die verslag teen Maandag nog nie gereed is nie, sal ʼn verantwoordelike party van die regshulpraad verantwoording in die hof moet kom doen oor wat die stand van sake is.

“In vier maande het nog niks gebeur nie, inteendeel niemand is nog aangewys om die verslag te doen nie. Ons kan nie weer so lank wag nie. Daar moet nou opgetree word,” het hy gesê.

Die man bly in aanhouding. Die vrou is uit op borgtog van R2 000.

Die sogenaamde gruwelhuis in Springs in 2014. Foto: @POWER987News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

lizl ·

Sluit hom verewig weg. Vragie… Hoekom het die familie lede nooit voorheen navore gekom nie ? Hulle moes mos kon raai daar is fout as hulle vir jare nie die vrou of kinders kon sien nie ?

Loi ·

Daar is talle families wat geen kontak met mekaar het nie, en ook glad nie die wil sien nie.

Rudel du Preez ·

Daar moet geen genade wees vir enige een van die 2 nie,ons kan bly wees daar was nie sterf gevalle nie.

Tammy ·

Stem saam dit is onmoontlik dat die man en die vrou se hele familie nie navraag oor die kinders gedoen het nie. Hulle het dit doelbewus probeer wegsteek!!

Alida ·

Voels van eenderse vere. Sommige mense wil niks met sulke familie te doen he nie. Dit is gruwelik. Daardie kinders sal nooit aanpas in n normale huishouding nie.

Piet Pompies ·

As kinders meer verantwoordelikheid aan die dag lê as die ouers, is daar groot fout met die kinders. Die seun het geweet hulle word nie reg behandel en het gaan hulp soek. Dit is nogal vreemd dat die ma nie hulp gaan soek het en na die tyd besluit het om nie teen haar man te getuig. Mens ondersteun nie iemand in sy verkeerdere, ondersteun hom in sy goeie.

Helena ·

Dis maklik om die vrou te veroordeel ons weet nie wat sy self deurgemaak het nie, ek praat uit ondervinding nie ek nie maar my ma is vir jare deur my pa geslaan as hy dronk by die huis gekom het sy het na jare die moed gehad om te “ONTSNAP” my ouma het haar 3 slaapkamer huis beskikbaar gestel my ma ek my boetie en sussie het in een kamer gewoon want sy en haar suster was in die ander 2 kamers
Ek voel jammer vir haar en die kinders
Baie families stel nie in AL hul familie belang nie en het dus nie enige kontak nie, die vrou het dus dalk nie geweet waarheen sy moet gaan nie ja daar is die polisie maar ons almal weet dat hulle nou nie juis moeite doen in sulke of enige ander gevalle nie weereens uit ondervinding die stelling

Stella Berning ·

Nee wat. Te veel aandag word gegee aan die en daai. Die kinders se leed glip hier deur die krake. Vonnis hulle met die swaartste wat die weet voorskryf. Geregtigheid vir huerdie kinders moet geskied.

Poplap ·

Die vrou het ‘n sagte persoonlikheid gehad? Werklik? Hoe sag was sy toe sy deel was van die mishandeling? Toe sy toegekyk het hoe haar man haar kind verkrag, die seun brand met ‘n blaasvlam. Of hie sag was sy toe sy self slae uitgedeel het? Man dis absolute snert daai! Dis nie sag nie dis rugraatloos. Ironies dat hierdie “sagte” kant eers uitkom as sy in die bank staan. Sy was deel van die aanranding verkragting en wie weet wat nog. Maar nee siestog moet haar nie straf nie sy was sag. Snert man snert!

Amelia ·

Die huis waarin hul gewoon het, het vreeslike hoe mure om. Die hek is groot en swaar. Jy gaan nie sommer daar kan uit of in nie. Verstaan hoekom hul vasgevang was vir soveel jare. Dankbaar daar was tog n geleentheid om bure toe te vlug.

Jeanetta Taljaard ·

Geen simpatie met haar nie, was pal by die garage wat haar man besit het. Sy vertel ‘n pot bollie aan die hof. En voor julle besluit om my te kruisig, ek ken hulle baie jare, alhoewel ons nie oor en weer gekuier het nie. Ek sou my man iets in sy slaap aangedoen het as hy dit aan my kinders gedoen het. Familie het haar borg betaal en sy het by hulle gebly totdat die nuwe liefde opgeduik het. Dis ook waar die skielike skeiery vandaan gekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.