Springs-gruwelhuis: Ouers weer in hof

Die pa in die beskuldigdebank. Foto: Phillip Bruwer

ʼn 39-jarige man en sy 39-jarige eksvrou verskyn Maandag weer in die hooggeregshof in Pretoria in verband met die sogenaamde Springs-gruwelhuis-saak.

Die verhoor van die man en vrou was veronderstel om verlede Maandag in die Pretoria-hooggeregshof hervat te word nadat dit op 19 Oktober verlede jaar uitgestel is sodat die vrou sielkundige waarneming kon ondergaan.

Die vrou is tydens vorige hofverrigtinge deur ʼn spesialisgetuie bestempel as iemand met simptome van Stockholm-sindroom en wat tekens van depressie, posttraumatiese stresversteuring en angs toon. ʼn Kenner het ook toegegee dit was van die ergste vorms van huishoudelike mishandeling wat hy nóg gesien het. Die kenner het gesê die vrou is reeds deur ʼn paneel deskundiges beoordeel, maar sy het behoorlike sielkundige waarneming nodig vir ʼn vonnisverslag.

Harry Prinsloo, die vrou se regsverteenwoordiger, het verlede Maandag aan die hof gesê die sielkundige verslag is nog nie gereed nie en het uitstel versoek. Staatsaanklaer Jennifer Cronjé het gesê sy begryp die situasie en het nie die aansoek teengestaan nie.

Regter Eben Jordaan het daarna die saak tot vandag uitgestel. Hy het gesê as die verslag nie gereed is nie, sal ʼn verantwoordelike party van die regshulpraad verantwoording in die hof moet kom doen oor wat die stand van sake is.

“In vier maande het nog niks gebeur nie; inteendeel, niemand is nog aangewys om die verslag te lewer nie. Ons kan nie weer so lank wag nie. Daar moet nou opgetree word,” het hy gesê.

Die ma in die beskuldigdebank. Foto: Phillip Bruwer

Maroela Media het vroeër berig die man, ʼn sakeman van die Oos-Rand, is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die sogenaamde gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook glo, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie. Die man is in hegtenis geneem toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings gevind en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die ma en pa staan sedertdien op aanklagte tereg wat verband hou met die beweerde mishandeling en verwaarlosing van hul vyf kinders, poging tot moord van hul oudste, wat erg aangerand is nadat hy “ontsnap” het, en dwelmsmokkelary. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Die vrou het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar.

Die man het skuld beken op een van die 22 aanklagte teen hom deur te erken hy het met die polisie se ondersoek ingemeng. Die ma sou aanvanklik ʼn staatsgetuie wees, maar wou toe nie teen haar man getuig nie.

Die man bly in aanhouding. Die vrou is uit op borgtog van R2 000.

Die egpaar se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm. Die kinders is tans in die sorg van familielede.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nita ·

Hoe kan die kinders in die sorg van familielede wees? HOE het daardie familielede nie geweet wat aangaan nie??

Cherokee ·

So daar is ‘familielede’ wat nooit gewonder het waar daardie kinders is.

Johanna Botha ·

In SA sit ons nou met die mense en die res is weg oorsee …wat n blink toekoms

Elize Louw ·

Dis baie gewaag om die kinders by familie te sit. Liewe genade hoe kon GEEN familielid of vriende hiervan geweet het nie?? Waar is die grootouers?? Dis ‘n bol twak, dat niemand geweet het nie.

Alida ·

Daardie kinders is verwoes vir die res van hul lewens. Ek wens Regter Eben Jordaan wil die ouers vir ewig toesluit. Albei is skuldig.

Suzie ·

Die vrou is net so skuldig soos haar man want sy het van die mishandeling geweet en niks daaraan gedoen nie, nou ly sy skielik aan Stockholm-sindroom nadat hulle gevang is.

Theresa ·

Kommerwekkend hoeveel sindrome gediagnoseer word deesdae. Kinders vra nie om gebore te word nie. Wat ‘n vreeslikheid om die lewe in te kom sonder keuse en dan so mishandel te word. Die woord tragies kan dit nie ordentlik beskryf nie!

Alida ·

Die samelewing het nie hierdie mense nodig nie. Sluit die gemors toe en vergeet van enige sogenaamde “sindroom”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.