Springs-gruwelhuis: Skokgetuienis oor marteling

Die man wat daarvan verdink word dat hy sy vrou en vyf kinders in die Springs-gruwerlhuis aangehou en mishandel het. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die man wat daarvan verdink word dat hy sy vrou en vyf kinders in die Springs-gruwerlhuis aangehou en mishandel het. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die Springs-landdroshof het Woensdag skokkende getuienis aangehoor tydens die aansoek om borgtog van ʼn pa wat glo sy vrou en vyf kinders aangerand en gemartel het.

Rudolf Jansen, die ondersoekbeampte, het getuig oor die vermeende mishandeling en marteling van die kinders, tussen twee en 16 jaar oud. Die man se 11-jarige seun beweer onder andere dat sy pa hom vir twee dae lank met ʼn tou om sy polse laat hang het. Toe hy gepleit het dat sy pa hom moet los maak, het sy pa glo traangas op hom gespuit en hom aangerand.

Jansen het ook die seun se mediese verslag aan die hof voorgehou en verduidelik watter kneusplekke en letsels die seun opgedoen het. Die kind het glo ʼn letsel op sy kop nadat hy met ʼn knopkierie geslaan is.

Die verdagte, wie se naam nie genoem mag word nie om die identiteit van sy kinders te beskerm, staar aanklagte van aanranding en ontvoering in die gesig. ʼn Bykomende aanklag van verkragting kan ook moontlik teen hom gebring word, ná bewerings dat hy glo sy vrou gedwing het om met hom seks te hê.

Jansen het ook getuig die huis waarin die gesin aangehou is, was in ʼn nare toestand. “Daar was rotte en rot-ontlasting in die kombuis,” het hy gesê. “Daar was ook baie pornografiese materiaal in die huis.”

Volgens Jansen het die man blyplekke op sy perseel uitverhuur. Die huurders was glo baie bang vir hom.

Jansen het ook gesê die verdagte is ʼn vlugrisiko.

Die man is op 23 Mei in hegtenis geneem nadat die 11-jarige seun vroeër daardie week uit die huis kon ontsnap en by die bure om hulp gaan aanklop het. Die bure het daarna die polisie ontbied.

Die borgtogaansoek duur voort. -SAPA

Lees ook:
Springs-gruwelhuis: Pa vra borgtog voor volgepakte hof
Springs-gruwelhuis: Pa weer in hof
Springs-gruwelhuis: Kinders, ma vir berading gestuur
Springs-gruwelhuis: Pa in hof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

margaret ·

As julle hom borgtog gee,hoop en bid ek die gemeenskap vat reg in eie hand,want hy is totaal laer as vrot skuim

Bettie ·

Hierdie monster verdien nie een asemteug verder nie ! Ek wat ‘n volwassene is, kan my nie in die 11-jarige kind se posisie stel nie, ek kan wragtig nie !

Mag die Here gee dat hierdie kinders veilig is en eendag, miskien eendag ‘n normale gesin sal hê, net die Here se genade sal hulle daardeur kan dra.

colleen ·

Volgens berigte was die kinders nooit by n skool nie en niemand het van hul bestaan geweet nie. Hoekom die man se identiteit geheim hou vir die kinders wat niemand ken nie. Hy moet gemartel word soos sy kinder gee hom vir die gemeenskap as niemand iets wil doen nie.

Elizabeth ·

Ek probeer altyd met empatie na my medemens kyk maar ek KAN waaragtig nie in hierdie geval nie. Dit skrei ten hemel wat hierdie amebe gedoen het. Ek dink die aakligste gedagtes – goed soos: ek wens ek kon by die hofsaal uitkom want ek wil sommer suur in sy gesig gooi of hom met ‘n krieketkolf ‘n paar houe oor sy kop gee voordat iemand my kan stop en al sulke verskriklike dinge en sal met liefde in die tronk gaan sit vir my daad. Mag ek maar my aaklige gedagtes vergewe word want ek is nie so tipe mens nie. Tronkstraf is eintlik nie eers goed genoeg vir hom nie, hy moet SEERKRY soos hy aan die arme weerlose kinders gedoen het. Hy moet VOEL… nee o hene, ek dink Maroela gaan my kommentaar verwyder maar dis ongelukkig hoe ek voel.

Marieta ·

Elizabeth, ek voel regtig net soos jy! Maar ek voel dat sy vrou net soveel skuld, indien nie meer nie, dra. Selfs in die diereryk sal ‘n ma haar kinders tot die dood toe probeer beskerm. In DIE geval het die DING maar te lustig meegedoen! En dan is daar nog mense wat na haar as “die ma” verwys. Sy is net so groot stuk GEMORS as haar man!

Patricia ·

Ek stem saam. Die ma moes ook in beskuldigde bank gestaan het. Sy is net so skuldig soos hy! Nou wil sy ook slagoffer speel!

Henriette ·

Die bure, by we die seun help gaan soek het, behoort ook aangekla te word. Het hulle nog nooit van die KBE gehoor nie? Wat van die SAP? Op watter planeet of wereld won die mens? Hul 18 jarige dogter het meer verstand as hulle saam. Miskien omrede sy op skool is.

Hannetjie ·

Iets maak nie sin nie ..as die vrou wat namens die man getuig so geweet het van die ma se” speelgoed ” en dat sy in die kamer meestel deurgebring het, moes sy geweet het onder watter omstandighede die kinders in geleef het? Hoekom het sy nie opgetree nie? Klink my eerder die vrou hou nie van die ma nie en probeer haar so bykom. Ongelukkig kry jy in elke famlie die skinnerbek wat haar eie stories glo….

AmY ·

Dit is BAIE BAIE WREED. Ek hoop hy kry dieselfde behandeling in die tronk. Hulle moet hom ook vir dae vasmaak en hom slaan en met pepersproei spuit. Gee hom van sy eie medisyne terug…

O nee askuus, ek het vergeet. Hy het mos ‘menseregte.’

Ek wonder of daai kindertjies ooit ordentelik geeët het? Het hulle ooit ‘,n bord gekookte kos gesien? En lekker nagereg? Ek ‘n lekker eet dingettjie so nou en dan vir sommer maar net?

Ek glo nie so nie. My hart gaan uit na die kindertjies.

Jannie Nell ·

Dit is vir sulke wreedaardige mense waarvoor die doodstraf terug gebring moet word asseblief.

catrien ·

waarom kan daarvan die monster nie n voorbeeld indie publiek gemaak word nie?
maar volgens mensregte as die monster berou toon- en volgens die SA regstelsel- kan hy vry gelaat word.
en dan? seker om net weer met sy monster neigings aan te gaan.

suid-afrika is n land met n siek gemeenskap (voorbeeld van die bure wat die kind terug gegee het vir sy pa) en n siek regstelsel.

Leonie van der Westhuizen ·

Mense neem net aan dat hierdie man skuldig is, dat hy ‘n “monster” is. Die pers gooi ‘n etiket om sy nek, en dan wil die mensdom hom vermorsel? ‘n Saak het twee kante, maar vanwee die menslike aard om die slegste van ander te verwag en te glo, staan hy nie ‘n kat se kans teen die gemeenskap se vooroordeel nie. Dink vir ‘n slag twee keer voor jy oordeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.