Springs-gruwelhuis: Verhoor hervat dán

Die pa in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die verhoor van die 39-jarige man en sy 39-jarige vervreemde vrou wat teregstaan op ʼn reeks aanklagte wat verband hou met die sogenaamde Springs-gruwelhuis is Maandag weereens in die Pretoria-hooggeregshof uitgestel.

Regter Eben Jordaan het gesê ʼn senior amptenaar van die regshulpraad het Vrydag met hom in verbinding getree en gesê ʼn sielkundige is aangewys om die vrou se sielkundige waarneming te doen. Die sielkundige het aangedui hy het twee maande nodig vir die evaluasie en om die verslag te voltooi voor die verhoor kan voortgaan.

“Die regshulpraad verstaan die dringendheid van die saak en het onderneem om oor twee maande gereed te wees,” het Jordaan gesê. Die saak is tot 7 Mei uitgestel en is vir twee weke op die hofrol geplaas. Die man bly in aanhouding. Die vrou se borgtog van R2 000 is verleng.

Die vrou is tydens vorige hofverrigtinge deur ʼn spesialisgetuie bestempel as iemand wat simptome van Stockholm-sindroom toon, asook tekens van depressie, posttraumatiese stresversteuring en angs. ʼn Kenner het ook toegegee dit was van die ergste vorms van huishoudelike mishandeling wat hy nóg gesien het. Die kenner het gesê die vrou is reeds deur ʼn paneel deskundiges beoordeel, maar sy het behoorlike sielkundige waarneming nodig vir ʼn vonnisverslag.

Die man, ʼn sakeman van die Oos-Rand, is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die sogenaamde gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook glo, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie. Die man is in hegtenis geneem toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Die ma in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Toe die polisie ná die inhegtenisneming in die huis kom, was daar rotte en muise in die vuil kombuis en geen kruideniersware nie. Die hof het vroeër gehoor daar is ook hope pornografiese DVD’s, toue en kettings aangetref en die kinders het geen speelgoed gehad nie. Die ma en pa staan sedertdien op aanklagte tereg wat verband hou met die beweerde mishandeling en verwaarlosing van hul vyf kinders, poging tot moord van hul oudste, wat erg aangerand is nadat hy “ontsnap” het, en dwelmsmokkelary. Die kinders was in hierdie tydperk tussen twee en 16 jaar oud.

Die egpaar se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm. Die kinders is tans in die sorg van familielede.

Die vrou het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar. Die man het slegs skuld beken op een van die 22 aanklagte teen hom deur te erken hy het met die polisie se ondersoek ingemeng. Die ma sou aanvanklik ʼn staatsgetuie wees, maar wou toe nie teen haar man getuig nie.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronel ·

Die kinders is steeds in my gebede. Maroela weet iemand of dit darem goed gaan met hulle onder die familie se toesig? Pas hulle aan en kry hulle behandeling? Mag Jesus hulle seen met goeie herstel en geluk.

ontevrede leser ·

ek sien die saak kom al seker voor mei 2014, hoeveel geld word nie verkwis van toe tot nou, herhaaldelik uitgestel, g’n wonder hof rolle is so ver agter want niemand wil iets daaraan doen nie, seker meer as een regter ook

snoefie ·

vier jaar en steeds word daar voete gesleep en ondersoeke en waarnemings aangevra. sy is net so skuldig soos haar man. vervolg hulle of laat hulle gaan. hou net op voete sleep.

Elrine ·

Hoe kan die vrou nie teen haar man getuig nie???? liewe hemel daai arme kinders… dat n ma n sleg man bo haar kinders kies gaan my verstand te bowe!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.