Springs-ma vang ‘wonderwerk-baba’ in badkamer

Nevaeh Herholdt. Foto: Verskaf

Nevaeh Herholdt. Foto: Verskaf

ʼn Ma van Springs aan die Oos-Rand moes haar babadogtertjie noodgedwonge vang toe die nuweling onverwags haar opwagting in haar huis se badkamer gemaak het.

Therisa Herholdt (23) se baba is verlede week Dinsdag gebore terwyl sy die badkamer gebruik het. Sy het aan Maroela Media gesê haar babadogtertjie is niks minder as ʼn wonderwerk nie. “Sy het nie eers ʼn skrapie of ʼn merkie nadat sy so onverwags gebore is nie. Die Here het net oorgeneem en seker gemaak dat alles so goed verloop,” het sy gesê.

Herholdt het vertel dat haar dogtertjie op 9 Julie met ʼn keisersnee gebore sou word omdat die baba in ʼn brugposisie gelê het en die naelstring naby aan haar nek was. Herholdt het die dag ligte pyn ervaar, maar het gesê dit was nie so erg soos kraampyne nie.

“Ek is badkamer toe en terwyl ek op die toilet was, het ek ʼn drukking gevoel en toe het my water gebreek. Die volgende oomblik het sy net uitgeglip en ek het haar gevang. Dit was nie seer of enige iets nie,” het sy gesê.

Therisa Herholdt met haar driejarige seuntjie Demitri. Foto: Verskaf

Therisa Herholdt met haar driejarige seuntjie Demitri. Foto: Verskaf

Sy het die huishulp geroep om vir haar handdoeke te bring en het die baba styf toegedraai. Daarna het sy haar ma gebel. “My ma kon die baba oor die telefoon hoor huil en toe sê ek net vir haar die babatjie is hier.”

ʼn Vriendin van haar ma het die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum in kennis gestel en ʼn verpleegster het Therisa te hulp gesnel. Sy het die naelstring afgebind en Therisa gehelp totdat die ambulans opgedaag het. Ma en baba is na ʼn plaaslike hospitaal geneem en die volgende dag ontslaan.

“Ek het al lankal besluit dat ek eendag my dogtertjie Nevaeh gaan noem, want ek het die woord heaven gevat en dit omgedraai. Nou is die naam eintlik so gepas, want sy is regtig ʼn wonderwerk,” het sy gesê. “Sy is die soetste baba. Sy slaap partykeer sommer ses of sewe ure aaneen. Sy maak dit regtig baie maklik vir haar ma!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

So ‘n uitbreker van ‘n kleintjie !!
Veels geluk mamma.
‘n Pa en ma kan ‘n kind ewe lief hê maar daar is tog ‘n verskil.
Die verskil lê in daardie 9 maande wat ma die kind gedra het en ‘n band gesmee is wat nie vir die pa beskore is.
Daarom daardie alewige besorgdheid van moeder: “Ek wonder hoe gaan dit met hom/haar ?” Al is die bulletjie ook al hier by sy dertigs is mamma erg besorg.
Pa weer sê: “Nee wat hy sal regkom” al is die bekommernis ook moontlik daar.
Al opgemerk dat daar ook ‘n ‘oorkruisverhouding’ bestaan ? D.w .s. tussen pa en dogter en ma en seun ?
Kom ons kyk wat julle sê ?

Moeksie ·

Peet ek dink weer die oudste kind is geneig om “Pa se kind” te word en die tweede “Ma se kind”. By ons het die seun en sy Pa ‘n sterk band en ek en die dogter is onafskeidbaar! Miskien as hulle ouer word, verander dit.

CR ·

Daai “oorkruisverhouding” bestaan beslis! In ons huis is dit so. Ek en my seuntjie lyk dieselfde (donker oe en hare) en ons temperament is dieselfde. My dogtertjie en haar pa lyk dieselfde (ligter hare en blou oe) en hulle is “cope en paste” deur en deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.