‘Springs-monster’ het vrou én kinders gemartel

Die man kom die hof binne kort voordat die regter sy uitspraak gelewer het (16 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

ʼn Volgepakte hof het Donderdag die gru-dade aangehoor wat ʼn ma en vyf kinders moes verduur aan die hand van die sogenaamde Springs-monster, ʼn 39-jarige voormalige sakeman aan die Oos-Rand.

Hy is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die berugte gruwelhuis in Springs aangehou het. Die vrou is later ook in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat sy ʼn medepligtige in die mishandeling en marteling van die kinders was. Sy het ook, soos haar man, nie toegesien dat die kinders skool bywoon nie.

Regter Eben Jordaan het sy uitspraak Donderdag in die Pretoria-hooggeregshof gelewer. Die verhoor het reeds in 2016 in dié hof begin. Dit is een van die laaste verhore wat voor Jordaan dien voordat hy later vanjaar gaan aftree.

Waar net ʼn handjievol belangstellendes die verhoor gewoonlik bygewoon het, was die hof Donderdag byna volgepak. Een van die ouerpaar se kinders was ook in die hof om die uitspraak aan te hoor. Verslaggewers is gemaan om nie die kind nie af te neem of op enige wyse te identifiseer nie.

Mense in die openbare galery het aandagtig gesit en luister terwyl Jordaan sleutelpunte uit sy vonnisverslag van meer as 500 blaaie voorgelees het. Daar is onder andere gru-besonderhede gehoor van wat die vrou en haar vyf kinders jare lank moes verduur.

Jordaan het die dade as marteling beskryf en alhoewel die 39-jargie ma nie skotvry daarvan gaan afkom nie, het hy erken hy stem saam met kenners dat sy aan mishandelde-vrou-sindroom ly.

Sy was in ʼn spesiale skool en is ongeletterd. Sy het hom ontmoet toe sy 17 jaar oud was en hulle is op die ouderdom van 20 jaar getroud toe sy swanger was met hul eerste kind, ʼn dogtertjie. Die dogtertjie en haar boetie, die tweede kind, het die ergste onder die pa se marteling deurgeloop toe hulle ouer was. Hulle het ook die rolle as versorgers van hul drie jonger sibbe oorgeneem aangesien die ma hulle almal verwaarloos het.

“Ek is oortuig sy ly aan mishandelde-vrou-sindroom weens jare lange fisieke en emosionele mishandeling en aanranding. Sy is ook verkrag. Kenners het verder bevind sy toon tekens van depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring wat haar afgestomp en hopeloos laat optree het. Sy het dwelms gebruik en getuig dit het haar laat beter voel,” het Jordaan gesê.

“Maar ek is egter nie oortuig dat sy niks in die huis kon doen toe haar man nie daar was nie. Sy kon toesien dat die kinders skool toe gaan, huis skoongemaak het en gesorg het dat daar behoorlike kos in die huis was. Die hof het gehoor hoe vuil die huis was en dat dit vol rotte en rotmis was.

Die ma in die hof (14 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

“Daar het pornografiese materiaal rondgelê en die klein kinders se tandjies was in ʼn slegte toestand. Al vyf kinders moes in een kamer op ʼn vuil matras slaap. Sy het erken sy moes hulle versorg en beskerm het, en het dit nie gedoen nie. Maar daar moet onderskeid getref word tussen mishandeling en verwaarlosing,” het hy gesê.

Die hof het grafiese inligting gehoor van hoe die oudste dogter, toe sy 16 was, op vier geleenthede deur haar pa seksueel misbruik is. Maroela Media het besluit om nie dié inligting te publiseer nie.

Die hof het ook gehoor hoe die oudste boetie, wat 11 jaar oud was toe hy daarin kon slaag om in Mei 2014 uit die gruwelhuis te ontsnap en by die bure gaan aanklop het om hulp, aan twee pilare vasgemaak sou word waaraan hy moes hang, met ʼn nat kombers oor hom en ʼn waaier wat op hom waai sodat hy moes koud kry. Sou hy in sy broek urineer, sou hy met pepersproei gespuit word.

“[Die pa] was verantwoordelik vir talle beserings, veral op die oudste twee kinders. Die ouer kinders is met ʼn kierie geslaan en ook by tye met ʼn blaasvlam gebrand. Daar is ook met ʼn gaspistool op hulle geskiet. Die seun en die meisie het getuig hulle is byna elke dag aangerand as hulle nie die huis sou skoonmaak nie. Dit is nie mishandeling nie, dit is marteling.”

Die kleiner kinders is nie so erg aangerand nie, maar die ma het getuig dat hy hulle hard teen hul koppe geklap het.

Jordaan het die pa skuldig bevind aan verkragting, poging tot moord, regsverydeling, die verhindering van polisiebeamptes om hul pligte uit te voer, vyf aanklagte van kindermishandeling, vyf aanklagte van kinderverwaarlosing, die handel van dwelms en die besit van dwelms. Hy is onskuldig bevind op aanklagte van die vervaardiging en besit van springstof.

Die ma is skuldig bevind op vyf aanklagte van kinderverwaarlosing, regsverydeling, die verhindering van polisiebeamptes om hul pligte uit te voer en dwelmgebruik. Sy is onskuldig bevind op die res van die aanklagte waarop sy tereg gestaan het, wat poging tot moord, die vervaardiging en besit van springstof, die handel van dwelms en kindermishandeling insluit.

Hul name mag nie bekendgemaak word nie om hul kinders se identiteit te beskerm.

Die saak is tot Oktober uitgestel vir voorvonnisverrigtinge. Die man bly in aanhouding. Die vrou se borgtog van R2 000 is verleng.

Die ma wou ná die tyd nie met die media praat nie. Sy het net gesê sy is uitgeput, maar tevrede met die uitspraak.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Peter ·

Die vrou is skielik n slagoffer, ag please. Sy behoort ook agter tralies.

se net ·

Peter, weet jy wat dit is om dinge te doen wat jy nie wil doen nie omdat jy bang is en mishandel word? Nee ek glo nie jy het n benul nie, so hou eerder jou mond. In elk geval as sy opgesluit is en daar word nie kos gekoop nie, hoe moes sy maak. As daar nie seep gekoop word nie en jy is opgesluit, hoe moet jy skoonmaak. Vir die regter wil ek dit vra: antwoord my en dan praat ons weer. selfs verwaarlosing voel ek kan nie hier ingesluit word nie.

Cherokee ·

Aan julle mense wat sò graag sê “jy mag nie oordeel nie”, en dit dan so onoordeelkundig gebruik, as julle ‘Sê maar net liewer nie’ daarmee gaan laat wegkom sonder kommentaar, dan is julle net praters, want dit is die heel eerste keer waarvan ek weet, wat julle dit met reg kan sê.

Peter ·

@Se Net, ag asseblief, “te bang” maar sy kan gaan en doen wat sy wil? Sy’t geweet, sy’t niks omgegee nie, sy’t gedink dis fine wat gebeur. Gaan jy bietjie na daai kinders toe en verduidelik vir hulle dat hul “ma” “te bang” was, toe laat sy dit maar toe.

Rens ·

Blerrie pateties …
Eendag gaan hulle rekenskap neem aan ons Hemelse Pappa en daardie dag kry ek hulle jammer. My hart voel n fy aan die ouers maar ek voel so bitterlik hartseer vir al die kinders. En al wat ons as mens kan doen is om n gebed uit te stuur dat hulle lewe van nou af n droom sal wees en nie die nagmerrie waarin hulle letterlik gewoon het vir jare nie. Mag die ouers kry wat hulle toekom ….

Stuiwer ·

Peter, ek stem 100% met jou saam. ‘n Ma is veronderstel om haar kinders te beskerm. Sy kan nie nou sê sy het vir haar lewe gevrees nie! Wat van die lewens van haar 5 kinders? Dis baie fishy dat sy in al die jare kwansuis nie kon gaan hulp kry het nie. Ek het geen simpatie met haar nie. Ek hoop net nie sy kry weer die kinders nie. Hulle het genoeg deurgemaak.

Daan Erasmus ·

Nou kry hy kos en slaap plek op my en jou rekening. Hoe lekker.
Sy huis moet verkoop word en die geld in die staatskas gestort word. Die hofsaak het honderde duisende gekos.

Cherokee ·

Waar het jy die koste van die hofsaak gesien? Ek dink jy oordryf.

Stuiwer ·

Die kinders moet eerder die geld kry vir toekomstige uitgawes. Hulle het dit meer nodig.

Tammy ·

Sy hoort agter tralies saam met hom. Sy was niks minder as medepligtig nie, Y probeer nou om haar straf vry te spring….

Tammy ·

Se net, sy wat slim genoeg om kinders te he sommer 5 van hulle ! wil jy nou voorgee sy was te dom om haar familie in te lig of enigsins n plan te maak? Neewat, jy oortuig niemand nie.
Dankie!!!!!!

Saartjie ·

Beste Tammy, ‘n mens het mos nie verstand nodig om kinders te hê nie? Die teenoorgestelde is juis waar – ‘n mens het verstand nodig om nie kinders te hê nie. Ek keur glad nie die ma se verwaarlosing van die kinders goed nie, maar ek glo nie die man sou haar toelaat om dokter/kliniek toe te gaan en voorbehoedmiddels te kry nie. Jy raak wel aan ‘n ander belangrike punt: Het sy nooit ‘n dokter gesien tydens haar swangerskappe nie? Is die kinders nooit kliniek toe vir inentings nie? Het hulle nooit siek geword sodat hulle ‘n dokter moes sien nie?

Callie ·

Maar in die rtonk gaan hy sy moses sien. Lekker bly my ou. Jy verdien wat jy gaan kry.

Rissiepit ·

Regter
EBEN JORDAAN u weet nie watter lewe het ‘n vrou wat verskeie kere met die dood gedreig word nie, aanrandings met vuiste op my arms, gesig en swanger maag in 1979 (1980 meer as 30 sambokhoue oor my hele liggaam en kop (my hande was 10cm geswel, die geweldadigde houe op my rug het oopgebars dat my rugbene gesien kon word!!!) belt, gegooi in bad dat die seepbakkie breek, langhare wat geruk-en-pluk word teen mure asook voertuie se vensters waar ek op passasierskant gesit het, gebreekte neus, stukkende tande, ens ens ‘n Sieklike manupileerde jaloerse sigopaat monster smeer altyd heuning op sy slagoffers en lag daarna! Sekere wit Afrikaanse mans kyk hulle slagoffers mooi uit! Wees streng met julle dogters asseblief????

Cherokee ·

Regter Jordaan, sal jou sê wat jy vir ekstra aftree-inkomste kan doen. Hier is ‘n hele klomp kommentators wat graag regters sal wil word. En hulself indink dit reeds te wees.
Oorweeg dit asseblief om daardie vrou weer ‘n kans te gee om waardig te lewe.
En leer my kollegas dat ‘n emosionele regter nie ‘n praktiese regter is nie.

rona ·

se net, ek is self ‘n ma en ouma en ek kan jou nou verseker dat ek hom sou vrekmaak, want ek sou nie toelaat dat hy aan my kinders vat nie. Gee nie om wat hy aan my doen nie , ek sou baklei tot die dood. Sy het net aan haar self gedink

Wiki ·

Sy was in n spesiale skool en was ongeletterd. Tammy, Dit vat ook nie n genie om swanger te raak nie. Ek kry die kinders uit my siel uit jammer. Almal kan maar praat maar glo my as jy bang is om te loop gaan jy nie kan nie. As jy net so hard emosioneel en fisies Mishandel word gaan jy nie die guts hê om op te staan nie. Almal kan maar klippe goou maar as jy afhanklik is van n persoon soos die ma was, is dit beter om jou sorge weg te drink en bedwelmd te wees. Die familie is net so skuldig dan…. Oupas oumas ens.

Stuiwer ·

Wiki, ek sal liewer op straat sit as om by ‘n man te bly wat my lewe so hel maak. Ek laat my nie vertel dat sy nie geleenthede gehad het om op te tree nie (jy hoef nie ‘n rocket scientist te wees om dit uit te figure nie). Ek sal ook graag wil weet waar die familie was. Waar het die “monster” se neef nou eweskielik vandaan gekom en is sy (soos ek gehoor het) aan hom verloof?

snoepie ·

Nie almal se familie wil help nie. Ekt jonk getrou teen my ouers se goedkeuring. Toe ek besef ekt n fout gemaak, en amper by die dood omgedraai het weens mishandeling. Was my ma se woorde, “jy is op jou eie, ons het nie gesê jy moet met hom tou nie” en sy was reg, maar ekt nie geweet wie anderste te vra vir hulp nie. So ja, nie alle familie is daar vir jou, maak nie saak wat nie.

Cherokee ·

Terwille van jouself snoepie, hoop ek jy het die fout later reggemaak. Ouers is nie altyd so slim nie. Veral in jonger jare want wanneer hul kinders trou is die ouers gewoonlik in hul vroeë middeljare. Later word teruggekyk en besef waar hulle foute gemaak het. Dit is wanneer dieselfde ouers in hul argiewe grawe en die song “If I could turn back the pages..” uithaal en speel.

Kay ·

Ek is jammer…sielkundiges help my hier reg as ek verkeerd is. Ongeletterd, ongeskoold…mishandel ens ens. Maar VADERLAND iets skop in as jy kinders het!! Jy kan hoe verdwaald wees maar regtig!!!!!, as dit by jou kinders kom skop n natuurlike vegtergees in en jy sal ALS doen om te beskerm!! Of is ek verkeerd??

Thea ·

Dit is n baie hartseer storie en die slagoffers is die kinders, die vrou is net so skuldig. ek volg die storie van die begin af, op n stadium het sy vir hom in die tronk gaan besoek as sy so bang was hoekom???sy tree op soos wat sy tans doen op aanbeveeling van haar regspan, as n jong kind kon plan maak om uit die huis te ontsnap hoekom nie sy nie? die kind is ook ongeletterd, sy was deel van hierdie arme kinders se aaklige lewe, nou weer nuwe liefde gekryby die man se neef sommer verloof sien die artikel in die huisgenoot, sy moet gestraf word vir haar aandeel, sy is net so skuldig, die reg het by loopholes en sy gebruik dit

Stuiwer ·

Thea, ek stem saam. Waarom inderdaad is sy nou by die “monster” se neef. As ek sy was, het ek ver weggebly van mans. Sy is mos ‘n battered woman?

Elize ·

Ek was ook aangerand toe ek met die kinders se pa getroud was. Het dit gekry omdat ek gekeer het dat my seun (toe 5 jaar oud) soos “‘n man” grootgemaak moet word met die vuis. Voos geslaan en verneder maar baklei vir my kinders tot ek genoeg gehad het. Net eendag besluit dat ek my kinders vat en loop en nog nooit teruggekyk nie. Hulle alleen groot gemaak en is trots op hulle. Die pa het soos mis voor die son verdwyn en in 38 jaar nog nooit probeer om sy kinders te besoek nie. So mense, party het die moed om dit te doen en ander nie. Moenie die vrou oordeel nie want staan eers in haar skoene en gooi dan klippe. Almal is nie sterk om weg te breek nie en as dit by familie hulp kom, nou ja, my familie was ook nie daar nie al het hulle geweet wat aangaan. Net bly die kinders het uit daardie hel gekom en bid dat hulle gesond deur die lewe sal gaan en nie die letsels weer oordra nie.

annalize ·

Wil graag weet as die vrou en kinders vir jare lank op gesluit was ,hoe het hul elke dag by springbok spar in springs gaan inkopies doen ,verder groot man oor die 6 voet en baie gewigtig sit op 11 jarige seun se bors en slaan hom met die vuis ,sonder dat enige bene breek (klink nie reg nie) die saak is nie mooi ondersoek nie. En sy het genoeg familie bystaan gekry ,maar sy het dit elke keer van die hand gewys , SY HET VIR HOM N VEILIGE OMGEWING GESKEP VIR SY DADE.

Leandi ·

My hart kry so seer vir elkeen van die kinders. Vir dit waardeur hulle moes gaan sowel as die pad vorentoe vir herstel. Seer en letsels word gelos want nooit ten volle sal herstel. Ek voel wel dat die vrou ( al was sy self ook in n moeilike posisie ) net so skuldig is. Waar le jou hart en gewete as ma en pa om “okay” te wees met dit wat jy as ouer en mens aan jou kind doen en laat gedoen word. Ek kan nie oordeel want ek as mens is nie in die posisie en omstandighede waarin die vrou en kinders hulself bevind het nie maar ek as mens kan wel nie verstaan hoe die mense vir 5jr lank dit kon doen en dink dis okay of selfs dit as “normaal” beskou. Met my hele hart wens ek , ek kan die tyd terug draai vir die kinders en elke bietjie seer weg vat ,oor ons nie altyd besef hoe bevoorreg ons is tot ons van sulke situasies tehore kom nie besef ek nou net weer hoe dankbaar ons moet wees vir wie en wat ons het want eintlik is ons sistuasies waaroor ons daagliks kla NIKS in vergelyking met dit waardeur die kinders gegaan het en met die letsels wat oorbly want ek kan nie dink dat jy ooit ten volle herstel as mens na sulke omstandighede nie

Weet nie ·

Dis vir my baie moeilik om te verstaan dat mens nie alles sal doen om jou kinders te beskerm nie! Wat my wel opgeval het, is toe die vrou gearresteer is die eerste keer het sy met “vars” french manicured naels in die Hof verskyn…mens kon dit duidelik op die foto sien. Hoe is ‘n mani vir jou belangrik net nadat al jou kinders van jou weggevat is en jou man is klaar in hegtenis geneem omdat julle julle kinders verniel en mishandel het??

Shaz ·

Ek hoop die kinders kan wel herstel na jare lank se hel, net om te dink wat deur hulle gedagtes moes gaan om te sien jou eie ouers haat jou al is jy net n onskuldige jong kind of peuter, hoop die gesin waar hulle nou is besef hoe gebreuk is die kinderjies, hulle het soveel liefde en aandag nodig net dat hulle belangrik kan voel vir n slag. Vir die so te se “MA” en “PA” ek sien n swaar pad vir julle baie baie swaar pad, dis n disgrace en siek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.