Springs-polisie glo slagoffers van haglike sanitêre omstandighede

Argieffoto: SAPD

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek ʼn brief aan die departement van arbeid gestuur waarin hy versoek dat dié departement ʼn dringende gesondheidsinspeksie van stapel stuur ten opsigte van die “haglike werksomstandighede” waaronder 200 polisielede na bewering in Springs werk.

Die vakbond het gesê die skrywe aan die departement volg nadat Solidariteit vandeesweek deur lede gekontak en meegedeel is dat die personeel glo al vir langer as ʼn week nie water by dié werkplek het nie.

Schalk de Bruin, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, sê die personeel is na bewering gevra om hul eie water kantoor toe te bring vir sanitêre gebruik. Daar is na bewering ook vir hulle gesê om alle sanitêre verrigtinge “buite onder ʼn boom” te doen.

Volgens De Bruin word die gebou deur die departement van openbare werke (DOW) ingevolge ʼn kontrak met die wettige eienaar gehuur. “Die eienaar het nagelaat om die rekeninge vir munisipale dienste te betaal en die Ekurhuleni-munisipaliteit het die watertoevoer gevolglik afgesny. Die uitstaande munisipale skuld beloop R329 066,” het De Bruin gesê.

Volgens hom het die vakbond vooraf met die SAPD en die departement van openbare werke (DOW) vergader en aangedring dat ʼn dringende oplossing gevind word. “Ons het voorgestel dat die DOW die uitstaande dienste-rekening direk aan die stadsraad vereffen en dan interne reëlings tref om die uitgawe van die eienaar te verhaal,” het hy gesê.

Die vakbond sê daar rus ʼn regsplig op die SAPD as werkgewer om ʼn veilige werksomgewing aan sy werknemers te voorsien. “Dit is duidelik dat die nalatigheid van die werkgewer, asook die ander staatsdepartement by name die DOW, ernstige gevolge vir die gesondheid van die meer as 200 SAPD-werknemers inhou. Dit blyk verder dat die probleem nie met die nodige erns bejeën word nie, aangesien geen oplossing nog op die tafel geplaas is nie.”

Volgens De Bruin sal die gebrek aan water as gevolg van wanbetaling verskeie nagevolge hê, soos regsimplikasies onder arbeidswetgewing, reputasieskade en gesondheidsrisiko’s.

Die departement van arbeid het volgens die vakbond onmiddellik op die versoek gereageer en gesê hy stuur ʼn inspekteur om die situasie te ondersoek.

Die vakbond het gesê hy gaan die situasie deurentyd monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Wat ‘n skande. Swak, blatant nalatigheid. Waar gaan alles heen. Alles stort in duie , ons weet wat is die wet van Transvaal. Maar ja, ons is in ‘n tregter en gaan nie maklik daar uitkom nie.

Jane ·

Help my iemand. Sover ek weet moet huurders hulle water en ligte self betaal en nie die verhuurder. So dit le dan in die verantwordlikheid van die departement om die rekening te vereffen.

Pik ·

Dit hang alles af van hoe die ooreenkoms geteken is deesdae is niks onmoontlik nie

Oom Kalahari ·

@Jane, ek is geneig om saam met jou te stem, tensy die kontrak tussen verhuurder en huurder anders lees met ‘n volle direkte verhurings betaling en die verhuurder die aanspreeklikheid aanvaar het om maandeliks die rekening te vereffen. Dit is waarlik ‘n straf teenoor hierdie SAPD werknemers om in sulke haglike toestande diens te verrig en om hul normale daaglikse skof pligte onder sulke omstandighede uit te voer. Waarom sulke instruksies deurgee om jou eie water saam te bring asook om privaat dinge onder ‘n boom te gaan uitvoer. Watter tipe bestuur doen dit in plaas van onmiddelike oplossing tot die uitdaging te verkry. Die DOW kan dan die rekening vereffen en met die verhuurder konsulteer of verdere ooreengekome maandelikse betalings staak om die uitstaande Munisipale skuld terug te win. Sterkte aan die lede.

Akademi Buktu ·

En dis seker net 200 Blankes namens wie die “rassistiese” Solidariteit optree, of hoe Max du Preez en Pieter du Toit???????????

cor ·

O nou verstaan ek hoekomdaar polisie voertuie bysomiges se huise is , hulle het net gaan toilet. Hier by ons is die water ook gereeld af en ons maak maar n plan want in hierdie sogenaamde nuwe SA is jy nie verseker van basiese dienste nie al betaal jy daarvoor. Dit gaan al so vir die afgelope 25 jaar en moet nie hoop dat dit in die nabye toekoms sal verbeter nie.

Leon ·

Maar is daar dan nie iemand soos ‘n stasiebevelvoerder wat dit moet raaksien op sy roetine stasie patrollie of roetine inspeksies nie??? Of hy is dalk te besig om die situasie te monitor? Want klink my omtrent al wat die meeste SAPS bevel strukture kan doen is die situasie monitor! Ek voel jammer vir diegene wat onder sulke leiers moet werk….jammer julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.