Springs-seun se skielike dood ‘kan ander kinders red’

Nathan Helberg. Foto: Verskaf

Die ouers van Nathan Helberg, die gr. 7-leerder aan die Laerskool PAM Brink in Springs aan die Oos-Rand wat verlede week sy eie lewe geneem het, vind berusting in die feit dat hul seun se dood moontlik die lewens van ander kinders kan red.

Barend van Heerden, familievriend en woordvoerder van Nathan (12) se ouers, Eldie en Gerhard Helberg, het Dinsdag aan Maroela Media vertel dat Nathan se organe reeds kort ná sy dood uitgehaal is om geskenk te word. “Sy ouers vind berusting daarin dat sy skielike dood dalk die lewens van ander kinders deur orgaanskenking kan red,” het Van Heerden gesê.

Volgens Van Heerden is die Helberg-egpaar ook dankbaar dat Nathan se liggaam Dinsdag omstreeks 12:00 vrygestel is nadat ʼn private lykskouing gedoen is te midde van ʼn sloerstaking by die staatslykshuis in Germiston waar Nathan se liggaam aanvanklik was.

Forensiesepatologie-dienste in Gauteng is onderbreek ná minstens 40 lykshuiswerkers, hoofsaaklik van die Germiston-fasiliteit, op ʼn onwettige staking gegaan het oor ʼn formele opleidingsprogram. Die Gautengse departement van gesondheid moes ʼn hofbevel verkry om stakende beamptes van patologiedienste te beveel om hul pligte te hervat.

Die werkers het geweier om hul dissektering- en verwyderingspligte uit te voer. Begrafnisse kon dus nie gehou word nie, aangesien hangende nadoodse ondersoeke eers voltooi moes word. Die departement het Donderdag aansoek gedoen om ʼn interdik teen die stakende lede. Die interdik is Vrydag beteken en werkers het hul pligte hervat.

“Daar is egter ʼn agterstand van byna 86 lyke waarop lykskouings gedoen moet word, wat twee tot drie weke lank kan neem om in te haal. Ons kon nie so lank wag om Nathan ter ruste te lê nie en ʼn barmhartige Samaritaan het ingegryp sodat die private lykskouing gedoen kon word,” het Van Heerden gesê.

Van Heerden het bygevoeg Nathan se begrafnis sal Vrydag om 10:00 uit die AGS Kerk Fonteinedal op die hoek van 4de Straat en 6de Laan in Geduld in Springs plaasvind. Nathan laat sy ouers, grootouers, twee boeties en ʼn sussie agter.

Maroela Media het Maandag berig Eldie, bure en paramedici het verlede week vergeefs geveg om Nathan se lewe te red nadat hy gepoog het om sy eie lewe te neem.

Die tragedie het hom Dinsdagmiddag by Nathan se ouerhuis naby die laerskool in Springs afgespeel.

“Nathan was nog die dag skool toe. Hy het by die huis gekom, sy ma gegroet en nog iets geëet. Hy is daarna na sy kamer waar hy gepoog het om sy eie lewe te neem,” het Van Heerden vroeër gesê.

“Eldie het gehoor dit raak stil in sy kamer en het op hom afgekom.” Van Heerden het versoek dat meer besonderhede oor die daad weerhou word om sy ouers verdere trauma oor hul oudste seun se dood te spaar.

Van Heerden het gesê Eldie het dadelik hulp ontbied. Sy en bure het begin noodhulp toepas tot paramedici daar opgedaag en by hulle oorgeneem het.

“Paramedici het hom vir nagenoeg 40 minute behandel. Hulle kon later ʼn geringe pols voel. Nathan is daarna per ambulans na die Netcare N17-hospitaal geneem vanwaar ʼn helikopter hom na die Unie-hospitaal in Alberton geneem het. Hy is daar in die hoësorgeenheid opgeneem en verder behandel.”

Nathan se ouers en grootouers het vir ʼn dag en ʼn half lank om die uur by sy hospitaalbed gewaak voordat hy Woensdagaand omstreeks 00:00 dood verklaar is.

“Sy ouers en ons almal is platgeslaan. Sy ma wou nie sy bed verlaat het nie. Ons vermoed die poging spruit uit ʼn voorval wat by die skool plaasgevind het. Daar is egter geen kwade gevoelens teenoor enigiemand by die skool nie en die Gautengse departement van onderwys het ʼn ondersoek daaroor van stapel gestuur. Verder word leerders en onderwysers met berading bygestaan en is Nathan se ouers in gesprek met die skool,” het Van Heerden gesê.

Van Heerden het Nathan as ʼn kranige en passievolle voorryrugbyspeler beskryf. Hoërskool Hugenote se tweede rugbyspan het Saterdag met swart bande om hul arms uitgedraf ter nagedagtenis aan Nathan.

“Hy was ʼn regte yster en baie lief vir rugby en kon in enige posisie in ʼn skrum speel. Hy was ʼn saggeaarde seun met ʼn goeie hart en het graag ander kinders en grootmense fluks met takies gehelp. Hy was baie besorg oor sy familie en het sy skoene as ouboet mooi volgestaan,” het Van Heerden gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marianne ·

Dit skeur ‘n gat deur my hele wese. So ‘n pragtige kind. Mag God sy familie en sy vriende krag en genade gee. Ek bid dat hulle agter die rede vir sy self dood sal kom.

E.K. die eerste ·

Orgaanskenking is ‘n wonderlike daad – baie baie mooi gebaar van hierdie ouers. Om in so tyd van hartseer aan ander te dink is so onselfsugtig en ek hoop hulle lees hierdie of dat iemand wat hul ken dit aan hulle sal gee – PRAGTIGE gebaar en ek hoop jul vind vrede en berusting met tyd. Dis ‘n baie moeilike pad vorentoe maar staan sterk en staan saam! Namens alle orgaanontvangers bedank ek jul van harte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.