Springstof, reusebedrag vervalste geld gevind

Die nagemaakte note waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

Drie mans is Donderdag in Pretoria in hegtenis geneem nadat springstof en meer as ʼn miljoen rand se vervalste banknote in hul besit gevind is.

Konst. Zanele Mtsweni, woordvoerder van die Soshanguve-polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê dié sukses volg op ʼn anonieme wenk wat die polisie ontvang het.

“Die polisie het inligting ontvang dat drie verdagtes in ʼn blou Toyota Tazz op pad is en springstoftoestelle en vervalste R100- en R200-note in hul besit het,” het sy gesê.

Beamptes van die Soshanguve-polisie het omstreeks 14:00 die verdagtes se voertuig by die Soshanguve Crossing-winkelsentrum opgemerk en die voertuig en insittendes deursoek, waarna die polisie op die springstof en vervalste banknote afgekom het.

Die mans is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisie se bomeenheid is ontbied om die springstof te verwyder.

Verdere ondersoek het die polisie na twee huise in Soshanguve gelei waar nagenoeg R1,4 miljoen se vervalste banknote gevind en waarop beslag gelê is.

Volgens ʼn bron na aan die ondersoek word die springstoftoestelle by myne gebruik, maar kriminele gebruik dit om kitsbanke en geldwaens tydens rooftogte mee op te blaas.

Die verdagtes, onderskeidelik 32, 34 en 44 jaar oud, moet binnekort in die Soshanguve-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van springstof en die besit van vervalste geld.

Die mans se inhegtenisneming het ook gelei tot die inhegtenisneming van ʼn 33-jarige man in Marikana naby Rustenburg, Noordwes, wat glo die toestelle verskaf het.

Van die springstof waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Speedguard ·

Dank Vader vir die inligting wat die SAPD ontvang het, dit bewys net met watse arogante krims ons mee te doen het !! Wel gadaan aan die CI en die SAPS !

Boerseun ·

Daar moet ook ‘n saak van terrorisme ondersoek word, want as die verdagtes wit was, was hul politieke verbintenisse uitgebassuin en was daar ‘n saak van terrorisme ondersoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.