Sprinkaan-chaos wag op Noord-Kaap

Argieffoto. (Foto: Erika Krüger)

Die eerste bruinsprinkaan-uitbreking vir die seisoen is besig om oor die Noord-Kaap te versprei en kenners voorspel ʼn reuse-springkaanplaag aangesien dié provinsie die afgelope tyd goeie reën gekry het.

Sprinkane is reeds wydverspreid in die gebiede van Upington, Gordonia-Wes, Pofadder-Wes, Springbok/Concordia, Marydale, Langklip/Cnydas, Bladgrond, Groblershoop, Niekerkshoop, Sutherland en Richmond opgemerk.

Die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming (DALRRD) in die Noord-Kaap sê die uitbreking kan toegeskryf word aan die onlangse reënval in dié provinsie. Veranderinge in weerpatrone kan ook ʼn rol speel.

Maroela Media het berig dat sprinkane ses weke gelede in die Oos-Kaap, na ‘n sneeustorting, uitgebroei het.

Kenners verwag ook uitbrekings in ander distrikte.

Willem Symington, hoof van rampbestuur by Agri SA, sê die somerreënseisoen het nou aangebreek en die omstandighede lyk gunstig vir ʼn groot uitbreking. “Sprinkane broei nou oral in klein kolletjies uit, maar die boere kan dit nog self spuit en onder beheer hou.”

Hy sê dit lyk of die regering se kontrakte met die beheerspanne gereed is, maar weens die finansiële druk wat die departement ervaar sal die boere heelwat moet bydrae tot die bekampingsaksies.

“Indien al die omstandighede reg is, kan daar baie sprinkane uitbroei. Omdat ons nou deur ʼn paar sprinkaansiklusse is en omdat die sprinkane gedurende die vorige seisoen dieper as gewoonlik in die Vrystaat inbeweeg het, kan dit groot uitdagings inhou,” sê hy.

Dr. Gerhard Verdoorn, CropLife SA se bestuurder van operasionele sake en rentmeesterskap, het aan Maroela Media gesê hy verwag dat chaos hierdie seisoen gaan uitbreek. “Daar gaan ʼn sprinkaanontploffing in die Karoo en die Kalahari wees.

“Saam met goeie reën is daar gewoonlik elke vierde jaar ʼn ontploffing as die sprinkane die vorige drie jaar nie voldoende bekamp is nie,” sê hy.

Die wye uitbrekings van die afgelope paar jaar voorspel dus niks goeds nie.

“Gelukkig is die boere op en wakker en rapporteer enige uitbrekings dadelik. Ek verwag ook dat die oproepe binnekort gaan instroom.”

Hy sê hy hoop net die regering het hulle rekeninge aan die gifverskaffers vereffen en dat die produkte reeds aangekoop is.

Volgens hom het sprinkane verlede Sondag in Cookhouse voorgekom en toe in De Aar en in Upington en hulle beweeg altyd oos.

DALRRD sê hulle het gehelp dat ʼn span sprinkaanbeheerders uitgestuur word om onder streng Covid-19-regulasies die verspreiding in die geaffekteerde gebiede en nabygeleë plase te beheer.

Zandisile Luphahla, woordvoerder van die LUR vir DALRRD in die Noord-Kaap, sê sy doen ʼn beroep op grondeienaars om met departementele beheerspanne saam te werk deur die spanne toegang tot hul persele te bied en só die swerms makliker te beheer.

Die departement doen verder ʼn beroep op lede van die publiek en boere om enige teken van swerms in hul gebiede aan die volgende departementele amptenare te rapporteer:

  • Mulalo Matodzi by 083 326 7773
  • Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 en
  • Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882

Boere kan ook Verdoorn by 082 446 8946 bel as hulle bruinsprinkane gewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Die ANC oorheers inderdaad die plaaslike verskiesingsuitslae in die Noord-Kaap.

annie ·

… en nou? Springkane en insekte eet nie aan gm-saad-oeste van Monsanto nie. Dis met gif behandel. Waarom dan spuit? Eers is dit aardverwarming en dan sneeu in die woestyn en wat nou? Miskien is gif die aarde se antwoord op alles. Spuit broers dat die voëls kan vrek en mens en dier en dan is ons terug in die tyd van Farao en Josef… Mens wonder net hoekom nou al die peste deesdae. Ons is dan sulke goeie mense… Kopseer26 is juis aan die gang en prins Charles amper koning…

Jan Seerot ·

Ai Liewe Annie, daar in die Kalahari, Boesmanland, Namakwaland en in die woestyn (waar die sneeu geval het) plant die boere nie juis regtig nie. Hulle eet vleis, behalwe as hulle regtig groente wil eet; dan slag hulle ‘n vark. (Een van die drie v’s.)

Ja, dit sneeu darem so af en toe in die woestyn.

Ek had mos so paar jaar daar loop bly, en Monsanto se gifprodukte vir mielies en koring was nie regtig beskikbaar beskikbaar by KLK op Askham nie. Ook nie veel mielies en koring gesien op Noenieput nie. Ook nie op Springbok, Nababeep, Brandvlei en Garies nie. Miskien sal die radioaktiewe afvalstortingsterrein op die plaas Stofkloof die springkane afskrik, maar dis te betwyfel. Nader aan Vryburg by Coetzersdam het die manne wel geplant onder sirkels.

Ek het springkane teëgekom naby Askham, seker 25 jaar gelede al. Met eie twee blou oë gesien.

Ek is nie heeltemaal seker wat sprinkane met wingerd aanvang nie. Grootdrink se boere sal dan moet op die uitkyk wees.

annie ·

Nou as daar dan niks op aarde aangaan nie, waarom die springkane spuit of is dit vir wanneer hulle wegtrek na daar waar wel Monsanto-graan is vir mense wat wel eet.

Zombie ·

ń Baie goed deurdagte, voortreflike, kritiese en logiese argument, @annie.

Andre ·

Annie, ja. Ongelukkig dink ek ons het baie min kos oor wat nie GMO produkte is nie. Selfs mense word al minder.

AW ·

Kan mens Kos van hulle Maak?

Springkaan Biltong ?
Sprinkaan Sop ?

Jan Seerot ·

Man ja, jy gryp die springkaan aan sy kop en agterlyf en sleep die voorkant saam met sy binnegoed uit sy sagte agterlyf uit. Dan gooi jy die karapaks weg, droog die agterlyf in die son, maal dit fyn en gooi by mieliepap. Dit gebeur gereeld met elke groot wêreldwye depressie.

Francois Le Cochon ·

Knoffel botter gebraaide Karoo prawns, heerlik!

Harley Davidson ·

Ek dink dit is hulle straf om dat hulle so ANC goedgesind is terwyl die munisipaliteite tot niet gaan.

Pieter ·

Jy spreek darem maar maklik straf uit oor die boere daar. Is dit nou jou god wat die mense daar straf. Die een wat die “gelowige” mense uitgelewer het?

Karina ·

Ek hoop die swerms kan uitgeroei word voor skade aangerig word. Dit is skrikwekkend om te aanskou hoe so ‘n swerm sprinkane landerye “aanval” en opvreet dat daar niks oorbly nie. Aan AW :- die ou boeremense het die sprinkane gebraai – blykbaar lekker krakerig en voedsaam. Ek sal maar nie probeer nie.

anniekiewiet ·

annie, klink of jy 2 goeters nie weet nie.
Een, hier word nie veel met gesaaides geboer in die warm woestynstreke nie, om vanselfsprekende redes dat woestyne gewoonlik droog en warm is.
Twee, wild en vee leef van die veld- en natuurplante wat ook deur ‘n swerm sprinkane tot niet vernietig word. Sprinkane vreet nie net koring en mielies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.