Sprinkaanplaag kan tot werksverliese, finansiële probleme lei

Sprinkane pak ‘n bos toe in die Middelburg-streek. (Foto: Eben du Plessis)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moes ʼn sprinkaanplaag in dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap te wagte gewees het, aangesien vorige uitbrekings in dele van Oos-Afrika en ander dele van suidelike Afrika aangemeld is.

Noko Masipa, die DA se lid op die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die departement het versuim om te reageer op die waarskuwings, met buurstate in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in gesprek te tree en planne in werking te stel om die impak van die sprinkaanplaag te verlig.

“Alhoewel ʼn bedrag van R495,1 miljoen in die 2019/20- finansiële jaar vir bioveiligheid aan die departement toegeken is, het die departement versuim om dié begroting te gebruik om die taak uit te voer, weens ʼn gebrek aan kapasiteit en fokus.”

Die DA wou by minister Thoko Didiza hoor of haar departement gereed is om die sprinkaanplaag te hanteer. “Sy het gesê die departement is gereed, maar die DA het bevind die departement is absoluut onvoorbereid op die verskeie uitdagings wat strek van opleiding van kommando’s, klerasie en ander logistiek.”

ʼn Tweede golf sprinkane het die reeds geteisterde Oos-Afrika getref (Foto: Voedsel- en Landbou-organisasie via ANA)

Die DA het later weer by Didiza opgevolg oor vordering wat gemaak is teen die sprinkaanplaag. “Sy het aangedui ʼn helikopter-diensverskaffer is aangestel om grondbeheerspanne by te staan om ontoeganklike gebiede te bereik. Die helikopter het nog nie geland nie, en byna R75 miljoen is reeds spandeer.”

Agri-Noord-Kaap het intussen lug-ondersteuning gereël vir die naweek van 26 Februarie 2022 danksy ʼn donasie van Agri SA se rampverligtingstiging om die plaag tussen Marydale en Kenhardt te beheer – teen R16 000 per uur.

“Die Noord-Kaap is tans in ʼn kritieke fase van die plaag en lug-ondersteuning is nie onderhandelbaar nie. Die sprinkane moet gestop word voor hulle ʼn groot ramp vir die plaasgemeenskap veroorsaak.”

Die sprinkaanplaag het verdere ekonomiese druk op boere geplaas wat reeds deur jare se droogte in die gesig gestaar is sonder voldoende hulp van die ANC-regering, sê Masipa. “En alhoewel onlangse reën verligting gebring het, is dit nog nie naastenby genoeg om die impak van byna ʼn dekade se droogte te verlig nie.

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbouorganisasie (FAO) beraam dat ʼn swerm van slegs ʼn enkele vierkante kilometer tot 80 miljoen volwasse sprinkane kan bevat, met die kapasiteit om dieselfde hoeveelheid kos in een dag te verorber as 35 000 mense. “Sonder dringende ingryping sal die landboubedryf ernstige werksverliese ly.”

Die DA versoek minister Didiza om dringend:

  • privaat sektor satelliet-tegnologie in te span wat sal help met die versameling, interpretasie en vooruitskatting van migrasiepatrone om habitat-ontwikkeling, uitbrekings, toenames en plae te voorspel;
  • ʼn kaart op te stel met die ruimtelike verspreiding van sprinkane en hul ontwikkelingsfases om beheerbedrywighede in alle betrokke streke op hoogte te hou;
  • vliegtuie te gebruik om spesifieke gebiede te besproei om moontlike verdere skade te verhoed;
  • finansiering te verskaf om die lug-ondersteuning van Agri SA by te staan; en
  • ʼn behoorlike begroting saam te stel wat die werk onverpoosd kan laat voortgaan sodat die sprinkaanplaag in sy geheel uitgeroei kan word.

Die DA doen ook ʼn beroep op die departement om dringend klagtes te takel van vertraagde betalings van sommige van die kommando’s en die teenstrydighede wat betref reis-eise deur lede van Agri SA wat aktief besig is om die sprinkaanplaag te bestry sodat bedrywighede sonder probleme kan voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willi ·

Ek dog gebraaide springkane is so voedsaam, kan al die honger pyne stil in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.