Sprinkaanplaag kom Vrystaat-boere duur te staan

Wanneer sprinkane op weiding of landerye toesak, kan dit ʼn boer binne ʼn paar minute in groot moeilikheid dompel. (Foto: Erika Krüger)

Boere in die Vrystaat het die afgelope week self ingespring om ʼn verwoestende sprinkaanplaag wat dié provinsie teister, in bedwang te bring. Honderde hektaar is tot dusver verwoes en die plaag het reeds kilometers ver versprei. Optrede om die plaag in bedwang te bring, wat eintlik die regering se plig is, jaag boere boonop duisende rande uit die sak.

Maroela Media het verlede week berig van groot swerms sprinkane wat op die Wes-Vrystaatse dorpe Hertzogville en Boshof toegesak het. Die jongste slagoffers is boere in die Bultfontein-distrik, wat vinnig plan moes maak en beheer neem oor die bekamping van die plaag.

Sterk winde vanuit die Noord-Kaap het hierdie plaag in ʼn seldsame verskynsel ver weswaarts gewaai. Pieter Kotze, die voorsitter van die Bultfontein-distrikslandbou-unie, sê 500 ha se koring is kaalgevreet. “Ons moes nou Sondag begin spuit want die kalf was in die put. Daar het ʼn swerm van omtrent 1 km breed by 4 km lank in ons distrik inbeweeg. Die insekte sit bankvas en selfs bo-op mekaar. Dit lyk soos ʼn mat.”

Volgens VL se streekverteenwoordiger in die Bultfontein-omgewing, André van Rensburg, “was die stelsel nie gereed om die swerms te hanteer nie en moes boere hul eie planne maak omdat ’n uitbreking van sprinkane ongeveer 15 jaar gelede só ver in die Vrystaat versprei het. Die boere het verantwoordelikheid geneem om dié uitbrekings deur middel van ’n WhatsApp-groep, wat deur Vrystaat Landbou (VL) geskep is, aan te meld en te help met die beheer.”

Wanneer die Vrystaat se lug donker word, beteken dit nie noodwendig dat reën aan’t kom is nie… (Foto: Erika Krüger)

Volgens dié aksiegroep het hierdie operasie egter aansienlike koste-implikasies gehad en Vrystaat Landbou (VL) het ingestem om R60 000 by te dra, wat die boere reeds aangegaan het om te voorkom dat die swerms na ander plase beweeg.

Die beheer van treksprinkane word deur die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet No. 36 van 1983), bestuur en is veronderstel om deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling geadministreer te word. Hulle het ook die verantwoordelikheid om treksprinkane vanuit hul De Aar-kantoor te beheer.

 

Martin Nel is die sekretaris van Agri Dealesville en hy het verlede week van Maandag tot Woensdag ernstig gespuit. “Ons is glad nie veronderstel om die werk self te doen nie – dit is die staat se verantwoordelikheid. Ons moes self bolwurm-gif koop wat baie duur is. Jy betaal R1 000 vir twee liter-konsentraat om dan 1 800 liter se gif aan te maak, wat ons met brandspuite toegedien het. Die staat het wel Dinsdag hulp van Upington af gestuur en hulle het baie gehelp met hulle blasers en gif. “Ons kon die aanval sonder veel skade afweer, maar die insekte hang nou by De Brug, Soutpan en Bultfontein rond,” sê Nel.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie doen ’n beroep op die publiek om bydraes vir lugbespuiting en gifkoste te maak. Sodoende kan hulle aanhou bespuit om te keer dat die swerms na ander provinsies beweeg. Bydraes kan óf direk in die Bultfontein-distriksboere-unie se rekening óf aan VL se rampbestuursfonds betaal word om naburige streke in Bultfontein en Glen, noord van Bloemfontein, ook te help.

Armour sê ook dat VL alle betrokke gebiede sal help om die nodige opleiding en toerusting in samewerking met die departement te kry. Sodoende kan voorbereiding getref word vir wanneer die eiers wat deur hierdie sprinkane gelê is, uitbroei na die lentereën en dringend beheer sal moet word terwyl hulle nog in die voetgangerstadium is.

Om tot die fonds by te dra kan André Janse van Rensburg by 082 573 8867 of dr. Jack Armour by 071 672 0271 gekontak word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Agge Nee! Het op Radio Rosestad gehoor dat dit nou Kwaggafontein (Brender weg) getref het. Sal moet sien wat is vannaand oor as ons tuis kom.

Piet parys ·

Stuur die rekening vir die regering want dis hulle plig om sulke plae in toom te hou en te vernietig . O askies hulle sit self met n plaag of is dit n vlaag van korrupsie.

Chris dupreez ·

En weer doen die slegte regering nie hulle werk nie

Karina ·

Dit is baie erg as die sprinkane ‘n landery takel, sover hulle trek bly niks agter nie. Dit is nie mooi om te aanskou nie. Dit laat my dink aan ander twee beniges wat ook rondloop en vernietig so ver hulle gaan.

Surfer ·

Watter regering???????? Kommunistiese klomp Comrades ja!!!!

marius ·

Die grootste plaag sit in hul duitse spog motors en bestel kits kos op die belasting betaler se rekening . Dis die waarheid .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.