Sprinkaanplaag nóg ʼn las op boere

Die Voedsel- en Landbouoraganisasie (FAO) raam dat ʼn swerm sprinkane van een vierkante kilometer groot – met 80 miljoen volwasse sprinkane – die vermoë het om dieselfde hoeveelheid kos as 35 000 mense op een dag te verorber. (Foto: Verskaf)

Die sprinkaanplaag wat die afgelope paar maande in veral die Noord-, Oos- en Wes-Kaap voorkom, is net nog ʼn ekonomiese las op boere wat reeds jare lank sonder behoorlike hulp van die ANC-regering onder ʼn droogte gebuk gaan.

Noko Masipa, ʼn DA-LP en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê sonder doeltreffende ingryping kan verdere werksverliese die landboubedryf boonop in die gesig staar.

Die Voedsel- en Landbouoraganisasie (FAO) raam dat ʼn swerm sprinkane van een vierkante kilometer groot – met 80 miljoen volwasse sprinkane – die vermoë het om dieselfde hoeveelheid kos as 35 000 mense op een dag te verorber.

Masipa het vroeër gesê die departement van landbou was hopeloos onvoorbereid om die situasie te hanteer en probleme is onder meer ondervind met die opleiding van spanne om die plaag te bestry, asook met die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting.

Boonop skuld die departement sommige van die plaagbestrydingspanlede duisende rande vir werk wat hulle reeds gedoen het. Van hulle het reeds hul betrokkenheid by die projek gestaak weens die agterstallige betalings en die duisende rande wat hulle uit hul eie sak moes opdok om die sprinkane te bestry.

Die DA het reeds ʼn beroep op die minister gedoen om te verseker dié agterstallige betalings word verwerk en uitbetaal om ʼn voortgesette projek te verseker.

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryf- en rentmeesterskapbestuurder by CropLife, sê die ganse Karoo is ʼn broeibedding vir sprinkane.

“Enigiemand wat nou nog dink die situasie kan onder beheer gebring word, is verkeerd. Die plaag is te groot om te beheer. Dit was te wagte nadat die Karoo goeie reën gekry het.”

Hy meen die sprinkaanplaag gaan in die komende somer begin afneem en behoort hom teen 2024 uit te woed as gekyk word na vorige siklusse.

Volgens Verdoorn was daar in hierdie stadium nog nie werklike gewasskade nie, hoewel daar plekke in die Karoo is – plekke onder besproeiing – wat deurgeloop het.

“Ons graanmandjie is nog nie aangetas nie,” sê Verdoorn.

Hy sê daar is swerms wat tot 30 000 ha groot is.

Dele van die Karoo wat deesdae heeltemal onbevolk is, dra by tot die probleem omdat sprinkane ongesiens in sommige van hierdie gebiede uitbroei.

Sommige van die lede van plaagbestrydingspanne met wie Maroela Media gesels het, sê dít is een van die probleme wat hulle teëkom: Hulle word kilometers ver gestuur om bespuiting van ʼn spesifieke swerm te gaan doen, net om voor dooiemansdeur – of plaashek – te staan te kom.

Dit is onmoontlik om dan die bespuiting te doen, maar die omstandighede daarvoor is heeltemal buite hul beheer. Teen daardie tyd het hulle egter reeds die uitgawes aangegaan.

“Ek weet ook nie wie die moeite gaan doen om na ʼn plek te ry, niks te doen, terug te ry en dan daarvoor te eis nie. Dan kan jy mos veel makliker by die huis bly. Die afgevaardigde sprinkaanbeampte stuur jou na ʼn spesifieke plek.

“Dit is ʼn gekoördineerde proses en jy kan nie net maak soos jy wil nie.”

Zandisile Luphahla, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van landbou, sê die departement doen sy bes om te help verseker vee, weiding en plante is veilig.

“Ons moet verseker ons boere oorleef. As hulle hul oeste verloor, moet hulle mense aflê en dan sit ons weer met groter werkloosheid. Ons moet doeltreffend van die probleem ontslae raak.”

Luphahla sê die plaag is steeds nie in bedwang nie en minstens 33 dorpsgebiede in die Karoo-belt loop deur.

“Die meeste gebiede word geraak deur vlieërs – volwasse sprinkane – en daar is ook nuwe berigte van ʼn nuwe generasie voetgangers,” sê hy.

“Ons werk saam met belanghebbendes soos boerderyverenigings en individuele boere om die verspreiding te stuit.”

Hy sê al hoe meer boere ontvang opleiding om die sprinkane te beheer en opleiding is die afgelope ruk op onder meer Jan Kempdorp, Prieska, Niekerkshoop, Kliprand, Vosburg, Carnarvon, Britstown en omliggende gebiede gedoen.

Die departement het ook reeds lugbespuiting in gebiede soos Marydale, Groblershoop en Kenhardt gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Groot swerms verlede week gekry in ooskaap wat vlieg, moes op voetganger stadium al gespuit gewees het.

Voilet

Bly net vertrou op die Here boere

Kerrie

Baie proteïen om diere-voedsel van te maak . .

Suzette

Die anc gee nie om nie – hulle voel vere….. as ‘n probleem met voedselsekerheid ontstaan gaan hulle net se dis die boere se skuld

casper

Net nog een manier om boere van hulle plase af te dwing !!
Sien dit vir wat dit is !!!!