Sprinkane saai verwoesting in die Karoo

(Foto verskaf deur die Wes-Kaapse regering)

Swerms sprinkane het die afgelope week op die Klein-Karoo-streek toegesak. Die Tuinroete se rampbestuursentrum het Dinsdag berigte ontvang van swerms in die Calitzdorp-gebied.

“Daar is later bevestig dat boere in Kruisvallei en Buffelskloof ook swerms sprinkane opgemerk het wat van ʼn westelike na oostelike rigting beweeg aan die voetheuwels van die Swartberg,” sê Marlene Nqumse, woordvoerder van die Wes-Kaapse regering.

“Sprinkane het die afgelope jaar verwoesting gesaai en die departement van landbou het verskeie plaagbesproeiingsoperasies in die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Sentrale Karoo van stapel gestuur. Die sprinkaanplae was in die verlede grootliks beperk tot die noordelike dele van die Wes-Kaap en Sentrale Karoo en meeste proaktiewe opleiding vir plaagbeheerbeamptes is dus in die Sentrale Karoo-distriksmunisipaliteit gedoen.”

Nqumse sê die mandaat om sprinkane te hanteer berus by die nasionale departement van landbou, omdat dit ʼn migrerende plaag is.

“Die rampbestuur-eenheid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het op 16 Maart sy gesamentlike bedryfsentrum geaktiveer in reaksie op die sprinkaanplaag. ʼn Vergadering is belê in reaksie op die sprinkane in Calitzdorp en Oudtshoorn. Verskeie belanghebbendes, insluitend die munisipale bestuurder van Groter Oudtshoorn, Agri-Wes-Kaap en die provinsiale departement van landbou, het die vergadering bygewoon.

Hulle het die volgende uitgelig:

  • ʼn Tekort aan chemikalieë om die sprinkaanplaag te bestry. Daar is tans slegs 54 000 liter Decis (plaagdoder) beskikbaar in Suid-Afrika.
  • Opleiding vir sprinkaanbeheer wat van die nasionale departement van landbou versoek is en na verwagting op 23 Maart in Oudtshoorn sal begin. Kannaland en Oudtshoorn word by die opleiding ingesluit.
  • Die uitdaging om die “voorpunt” van die swerms te bepaal. Dit maak dit moeilik om te bepaal in watter rigting die sprinkane beweeg. Dit raak ook moeilik om die swerms sonder lugbesproeiing te beheer hoe hoër die swerms teen dele van die berg beweeg.

“Volgens Agri SA is dit een van die grootste sprinkaanplae in jare en met die bystand van skenkers en die departement van landbou doen boere alles in hul vermoë om hul oeste te red en voedselveiligheid te verseker,” voeg Nqumse by.

Die Wes-Kaapse departement van landbou het R5 miljoen beskikbaar gemaak om PPE-toerusting, sproeipompe, plaagdoder en lugbesproeiing-bystand aan te skaf vir spanne wat die plaag in die Wes-Kaap takel. “Dit is uiters noodsaaklik vir voedselsekuriteit dat ons die sprinkaanplaag beheer.”

Boere in die omgewing wat belangstel in opleiding vir sprinkaanbeheer word versoek om kontak te maak met Adel Supra-Vertue, bestuurder van die rampbestuurdiens in die Oudtshoorn-munisipaliteit. Kontak haar by 064 125 9227 of 044 203 7810.

“Ons versoek ook dat boere en inwoners nie brande begin as ʼn maatreël teen sprinkane nie. Ons Karoo-gebied is steeds baie droog en dit kan tot wegholbrande lei.”

Opleiding vind plaas op 23 Maart om 09:00 – 14:00 by die De Hoek Mountain-oord. RSVP by Lonwabo Luthango by [email protected] of skakel hom by 084 881 5853.

Proaktiewe en reaktiewe aksies word deur Vuyokazi Mpumlwana van die departement van landbou gekoördineer. Kontak haar by 084 760 8176.

Nog ʼn koördineerder van die nasionale departement van sprinkaanbeheer is dr. Ikafeng by 072 198 9882.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ratel ·

Hoekom herhinner dit my aan n soortgelyke gebeurtenis wat in een van ons buurlande plaasgevind het..
Loop ons dieselfde pad?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.