Spuitverf-verdagtes se borgtog afgekeur

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn man se arm met ʼn byl gebreek en hom van kop tot tone in wit spuitverf bedek het, se aansoek om borgtog is Donderdag in die Pietermaritzburg-landdroshof afgekeur.

Avikar Lutchman (27) en Shadrack Wayne Naidoo (28) staan tereg op aanklag van poging tot moord van die Malawiër Bilaz Asan.

Asan moes na die aanval op 7 Januarie in die hospitaal opgeneem word. Dokters en verpleegsters het lank gespook om die verf af te kry, veral van sommige kritieke dele.

Die twee verdagtes word ook van aanranding met verswarende omstandighede beskuldig nadat hulle Landren Chetty met ʼn pyp geslaan en ʼn 17-jarige meisie geklap en haar hare getrek het.

Al die beweerde aanrandings het in Violetstraat in Pietermaritzburg plaasgevind.

Landdros Ashin Singh het gesê die misdade is ernstig en skrikwekkend. Dit is nie in die belang van geregtigheid dat die mans vrygelaat word op borgtog nie. Hulle bly in aanhouding tot 12 Maart wanneer hulle weer in die hof moet verskyn.

Lees alle vorige berigte oor Bilaz Asan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.