Spur ontken bewerings oor ontvoering

spur 3Die Spur-restaurantgroep het bewerings ontken oor ʼn teksboodskap wat die ronde doen dat ʼn verdagte vrou, wat glo kinders aan die Wes-Rand teister, ʼn werknemer versoek het om ʼn kind vir R2 000 oor ʼn muur te slinger.

“Daar was geen ontvoering by Spur nie, niks het by ons gebeur nie,” het John Fuller, senior vennoot van Spur, Dinsdag gesê. “Niemand weet daarvan nie. As daar so ʼn voorval was, en as die vrou bestaan, sal ons die publiek daarvan in kennis wil stel.”

Fuller sê daar is meer as 20 Spur-takke in die Wes-Rand en alle takke het kringtelevisiekameras. “As daar so voorval was, sou ons bewyse daarvan gehad het,” het hy gesê.”

Hy sê ʼn SMS, wat verlede jaar al begin het, voer aan dat ʼn verdagte vrou kinders in die gebied probeer ontvoer. Die eerste brief is deur ʼn kleuterskool uitgestuur en ander skole het toe dieselfde brief uitgestuur. Trinity House-skool in Randpark Ridge het ook ʼn soortgelyke brief uitgestuur om ouers te waarsku. Die vrou is glo in haar 60s. Trinity House sê egter daar was geen poging tot ontvoering by die skool nie. “Ons mag nie met die media praat nie,” het die skool gesê.

Magic Beings-kleuterskool het Maandag ʼn boodskap op die webwerf, “The Blessed Barrenness”, oor die vrou gepubliseer. “Neem asseblief kennis: ons het berigte ontvang van twee bekende privaatskole in die gebied dat ʼn vrou poog om kinders te ontvoer. Sy is in die parkeergebiede van twee privaatskole gesien, en ook by Spur en Papachinos. Sy is ongeveer 60 jaar oud en het rooi hare en baie plooie.”

Luidens die boodskap teiken die vrou kinders tussen vyf en sewe jaar oud. “Sy ry in ʼn viertrekvoertuig wat iemand anders bestuur. Sy is vermoedelik betrokke in kinderhandel. Wees bedag en hou jou oë oop.”

Die boodskap in die SMS voeg by dat die vrou glo ʼn werknemer by Spur R2 000 betaal het om ʼn kind oor ʼn muur te slinger.

Ao. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die polisie, het gesê hy is nie bewus van berigte oor so vrou of ʼn soortgelyke saak nie. Hy het verdere navrae na Karen Jacobs, woordvoerder vir die Honeydew-polisie, verwys. Sy kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy het egter vroeër aan The Star-koerant gesê die polisie stel ondersoek in oor die bewerings, maar ʼn saak is nog nie oopgemaak nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.