Spur sê oor gerugte van kinderontvoerings

Argieffoto.

Argieffoto.

Gerugte doen weer die rondte op SMS’e en sosiale media dat kinders by speelareas van Spur-restaurante ontvoer word. Die restaurantgroep het mense weer gerusgestel dat dié ‘waarskuwing’ net bog is.

Die jongste “waarskuwing” lees: “Die GPF het berig dat pogings plaasvind om kinders by Spur-restaurante se speelareas te ontvoer. Kelners word eintlik betaal om klante se aandag af te lei en die kinders te ontvoer terwyl die ouers by die tafels sit. Moet asseblief nie kinders in enige stadium sonder toesig laat nie. Dit wil voorkom of ontvoerings toeneem met verskeie voorvalle wat in die Pretoria-omgewing aangemeld is. Wees asseblief waaksaam.

“N702[sic] het ʼn nuusstorie gedoen oor ʼn sindikaat wat in verskeie winkelsentrums landwyd bedrywig is en kinders ontvoer. Ouers word gewaarsku om hul kinders te alle tye by hulle te hou. Speelareas vir kinders is die maklikste plekke om kinders te gryp. Met die vakansie op hande waarsku die polisie dat ouers ekstra waaksaam moet wees as hulle gaan inkopies doen.”

Die restaurantgroep het in ʼn verklaring gesê die gerugte is vals.

“Ons is bewus dat valse gerugte weer op sosiale media versprei word oor kinders wat ontvoer word. Ons wil mense verseker dat die gerugte heeltemal onwaar, ongegrond en sensasioneel is. Daar was nog nie ʼn ontvoering of ʼn gepoogde ontvoering by ʼn Spur-restaurant nie,” lui die verklaring.

“Dié ondeunde ‘waarskuwings’ het twee jaar gelede begin kopuitsteek. Die saak is baie ernstig opgeneem en twee maatskappye wat spesialiseer in digitale speurwerk, is aangestel om die oorsprong daarvan te ondersoek. Die ondersoekers het vasgestel dit spruit uit verskeie vervalste sosiale media profiele.

“Geen klante het nog oor ʼn ontvoering gekla nie en geen voorvalle is by die polisie aangemeld nie.”

Die restaurantgroep het mense verseker dat kinders se veiligheid ʼn hoë prioriteit vir hulle is en daarom is kameras en oppassers by alle speelareas om die kinders se veiligheid te verseker.

Die groep het ʼn beroep op mense gedoen om die geldigheid of bron van ʼn boodskap te bepaal, voordat waarskuwings gedeel word. Hulle het mense ook versoek om nie dié ‘waarskuwing’ rond te stuur nie.

In Maart verlede jaar moes die groep ook soortgelyke bewerings ontken. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

GES ·

Kinderontvoering is ‘n realiteit. Ouers van klein en jong kinders moet wakker wees. Onlangs is selfs gepoog om ‘n dogtertie by ‘n kerk te ontvoer. Dit is nêrens veilig op hierdie aardbol nie.

F ·

Dit is ‘n maklike plek om ‘n kind te ontvoer, want die ouers is ontspanne en gerus.

Evert Louw ·

Daar is baie dommes wat regtig niks het om met hulle tyd te doen nie.

fransie rowles ·

Wees maar eerder versigtig is wat ek se!!
Dit is fees seisoen, en die land van ons is siek!!!!

Phillipae ·

As eienaar van ‘n kleuterskool kan ek assossieer met hierdie probleem. Telkens versprei kompetisie of kwaadwilliges, met hopeloos te veel tyd op hande, stories dat daar ‘n uitbreek is van aansteeklik siektes of dat ons skole besig is om toe te maak. Hierdie mense kruip weg agter die onbekendheid wat sosiale media hul bied. Dis frustrerend om altyd te moet vure doodslaan terwyl hierdie idiote agter oorsit en hul verlekker in hul leuens. Self is hulle te sleg om hul arms uit die mou te steek en iets konstruktief te begin.

Cleo ·

Ek weet persoonlik van ‘n geval waar ‘n dogtertjie in Krugersdorp uit die Spur se speelgoed gebied weg gelok was en die vrou oppad deur toe was met haar. Gelukkig het haar ma dit gesien en die kind by die vrou gevat en toe die bestuurder daar kom om te hoor waaroor die bohaai gaan het die vrou net uitgeglip by die deur en verdwyn. Spur moet liewer op hou om sulke gerugte te ontken en hulle plek op skerp

Z bc ·

Dit is so maklik om vinger te wys en saam te stem met die valse gerugte, maar wat my de josie in maak by restourante, veral dié wat voorsiening maak vir ‘n speelarea, is, dat die kinders in elkgeval tussen die tafels rondhardloop en speel en aan mense stamp omdat die ouers hulle net eenvoudig in die speelarea prop en gaan sit om te eet en dan nie verder ‘n duit omgee waar die kinders is nie.

Dit is nie die restourante se werk en verantwoordelikheid en plig om ander mense se kinders op te pas nie al is die fasiliteit daar. Dit is steeds op eie risiko en ouers moet nogsteeds ‘n oog hou en seker maak hul kinders is veilig, ongeag watter restourant besoek word en waar dit besoek word. Kinders raak by skole ook weg, hulle raak in winkelsentrums weg.

Mooi so Spur – ek is ‘n groot ondersteuner van julle restourant-groep.

Lee ·

Of dit nou so is of nie, die is my storie. Wel, net 2 maande terug sit ons as familie by Spur in Bfn waar my 2 jarige seun buite by speel area speel. Die tafels is teen die speel area en mens kan feitlik orals sien waar jou kind beweeg. Toe ek weer sien sit n ouerige vrou verlangs en rook by speel area en begin my kind afneem met haar selfoon asook ander ouers se kinders. Ek het haar gevra wat sy doen en syt my geantwoord sy neem die spur af om vir haar mense in Paarl te wys sy is in die spur. Sy het ook haar allie afgeskrik toe ek haar vra of sy n pedofel is en waar is toestemming gegee dat sy klein kindertjies kan afneem want geen ouer sal happy wees as n vreemdeling hul klein kindertjies afneem. Syt begin babbel en kon nie op haar woorde kom en gese sy het nie die kinders afgeneem en ek het letterlik gesien hoe sy agter elke kind aanloop en hul afneem. Ek het gese sy beter die fotos delete want hoe weet ek nie sy praat bog en stuur dit vir iemand buite spur wat wag dat ons moet uitloop. Ek het ook gese as sy nie die fotos delete dan is daar moeilikheid. Ek en my vrou het die manager gevra dat hul haar moet vra hoekom sy rook by speel area en hul moet hoor oor fotos. Ek was woedend en weet dis nie die plig van Spur om die kinders op te pas maar dis nogsteeds skrikwekend dat so iets kan gebeur in so restaurant. Al wat die manager vir my gese het is dat hul met haar sal praat en die Manager het nie eers terug gekom na ons om haar weergawe te gee… Nou kyk ons met n valkoog na ons kind by restaurante. So elke ouer wees maar op julle hoede!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.