SR-lede van verkragting, aanranding beskuldig

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: UCT/Facebook

Die Universiteit van Kaapstad het gesê hy is bewus van ’n beweerde voorval waarby twee studenteraadslede betrokke is.

Volgens die studenteraad is daar Woensdag tydens hul weeklikse vergadering besluit om twee van sy lede te skors. Dit kom nadat ’n student beweer sy is deur een van die lede verkrag en seksueel aangerand deur die ander een.

Die studenteraad het verder gesê die beweerde voorvalle is by die toepaslike universiteitstrukture aangemeld en dat hulle die ondersteuningsdienste aan die beweerde slagoffer bied.

Elijah Moholola, woordvoerder van die universiteit, het bevestig dat die bewerings onder hul aandag gebring is en met dringendheid ondersoek word. “Ons neem die bewerings baie ernstig op.”

Die universiteit het egter sy kommer uitgespreek oor die feit dat die studenteraad die twee lede wat deur die bewerings geraak word, se name bekendgemaak het op sosiale media. “Ons glo dit is onvanpas om die beweerde oortreders se name bekend te maak. Ons beskou dit as teenstrydig tot die beginsels van regverdigheid en geregtigheid en voel dit kan inmeng met die regsproses.”

Volgens Moholola word die saak as dringend hanteer en is daar reeds ’n beroep op almal betrokke gedoen om die reg sy gang te laat gaan.

Enigiemand met inligting oor die beweerde voorvalle word versoek om Kampusveiligheid te kontak by 021 650 2222.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet Pompies ·

Waar is die tyd wat leiers gekies op grond van waardes en om die instansie se goeie beeld te bevorder…..

Gerhardt ·

Alles het gevrot en verval.Kyk maar na die leiers v d land.

Roeloff ·

0 vrek wat nog…jy word daar geplaas om te lei nie om jou jou posisie te misbruik…skors hulle permanent dan sal die vrotappel siekte nie vesprei nie en sommer die volgendes waarsku dat sulke gedrag nie geduld sal word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.