SR-lid rand glo meisie op kampus aan

Die Marthinus Theunis Steyn-standbeeld op die Universiteit van die Vrystaat se hoofkampus. (Foto: UVS)

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn lid van die studenteraad (SR) Woensdagoggend glo sy meisie op die Bloemfontein-kampus aangerand het.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, het by navraag aan Maroela Media gesê die beweerde voorval het voor die manskoshuis plaasgevind.

“Die SR-lid het na bewering sy meisie, wat ook ʼn UV-student is, aangerand. Die voorval word deur die kampus se beskermingsdienste ondersoek,” het sy gesê.

Loader het gesê die ondersoek sal die omstandighede rakende die voorval vasstel.

Volgens ʼn plasing op die amptelike Facebook-blad van die South African Student Congress (Sasco) se Solomon Mahlangu-tak, wat egter sedertdien verwyder is, het die voorval omstreeks 01:00 plaasgevind. Die meisie het glo die SR-lid van ontrouheid beskuldig. Sy het glo gehuil en is aangerand omdat haar huilery hom in die verleentheid gestel het. Ná die beweerde aanranding het die kampus se veiligheidsdienste op haar afgekom.

“Die universiteit se bestuur het vinnig opgetree deur mediese behandeling en berading aan die slagoffer te verskaf. Die universiteit se eenheid wat verantwoordelik is vir dissipline en bemiddeling is ook bewus van die voorval en het ʼn afsonderlike ondersoek van stapel gestuur,” het Loader bygevoeg.

Volgens Loader het die studenteraad sy ontevredenheid oor die voorval uitgespreek en die beweerde gedrag van die SR-lid veroordeel.

“Die uitvoerende bestuur verdra nie sulke gedrag nie en is bekommerd dat dit steeds op kampusse oor die land gebeur. Die UV het hierteen opgetree deur progressiewe beleidsriglyne in werking te stel teen seksuele aanranding, seksuele teistering, geslagsgebaseerde geweld en diskriminasie,” het sy gesê.

Loader het gesê bewusmakingsveldtogte word ook voortdurend gehou om die belangrikheid van kwessies soos geslagsgebaseerde geweld onder die aandag van personeel en studente te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Daar word nie genoem dat hy met onmiddellike effek uit die koshuis geskop en uit die universiteit geskors is hangende ‘n ondersoek nie? Hoekom sou dit nou weet?

Schalk ·

Geleerdheid bepaal nie opvoeding of morele etiek nie, ook nie intellek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.