SR-lid van Maties sterf in tref-en-trap

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

’n Lid van die Universiteit Stellenbosch se studenteraad is in ’n tref-en-trap-ongeluk dood.

Nomzamo Buthelezi is dood nadat sy Saterdag in die vroeë oggendure ernstige beserings tydens ’n tref-en-trap-ongeluk in Merrimanlaan in Stellenbosch opgedoen het.

Buthelezi, ’n BSc-student van Gauteng, het in ’n senior koshuis op die kampus gewoon.

“Die omstandighede van haar dood maak deel uit van die polisie se ondersoek na die voorval en die universiteit wil nie in die stadium daaroor kommentaar lewer nie,” het dr. Choice Makhetha, hoof van studentesake, gesê.

“Ons doen ’n beroep op die polisie om seker te maak dat die skuldige party(e) aan die pen ry.”

Xola Njengele, SR-voorsitter, het gesê Buthelezi het as SR-beleidsbeampte en voorsitter van die Verenigingsraad ’n onskatbare bydrae gelewer.

“Sy was ’n opregte vriendin en vertroueling vir diegene wat haar geken het. Sy het die mense om haar diep geraak en haar heengaan laat ’n groot leemte in ons harte en dié van haar vriende, familie en kollegas.”

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, het die universiteit se innige meegevoel met Buthelezi se familie en vriende betuig.

Hy het gesê die universiteit is in verbinding met haar familie en bied die nodige ondersteuning aan die studentraad. Daar is ook berading beskikbaar gestel vir enige studente wat dit dalk nodig het.

“Die universiteit gee sy volle samewerking aan die polisie wat die omstandighede van die voorval ondersoek en doen ’n beroep op die universiteitsgemeenskap om die privaatheid van die betrokkenes te respekteer en om nie op sosiale media oor die aangeleentheid te bespiegel nie.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Stellenbosch-polisie te kontak op 021 809 5015/12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
jzjz05

Hoekom moet dit stil gehou word? Voel al of daar iets is wat weggesteek word.

Francois Le Cochon

Kubuhlungu kakhulu, uvelwano lwam olunzulu kusapho.