SR-verkiesing gaan voort op UJ-kampus

Argieffoto van die Universiteit van Johannesburg

Argieffoto van die Universiteit van Johannesburg

Die verkiesing van die Studenteraad (SR) van die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Vrydag voortgegaan ongeag ontwrigting deur betogers op die hoofkampus in Aucklandpark.

Die UJ het in ʼn verklaring gesê die verkiesing is Donderdag afgelas nadat ʼn groep studente ʼn optog deur die kampus gehou en na een van die stemstasies ʼn petrolbom probeer gooi het.

“Die rede vir die opskorting van die verkiesing is omdat daar ʼn poging was om een van die stemstasies met ’n petrolbom te bestook. Stembusse is onmiddellik verseël en na die Brixton-polisiestasie geneem. ʼn Polisieondersoek is van stapel gestuur,” het die universiteit gesê.

Volgens die verklaring het die verteenwoordigers van die partye betrokke by die verkiesing almal bevestig dat die integriteit van die verkiesing nie benadeel is nie. Die SA Students Congress, die EFF se studentekommando, die DA se studenteorganisasie en 14 onafhanklike kandidate neem aan die verkiesing deel wat oorspronklik Woensdag en Donderdag sou plaasvind.

Die universiteit het gesê sekuriteit op die kampus is Vrydag opgeskerp om te verhoed dat die verkiesing weer ontwrig word. Dit is nie duidelik hoekom die betogers die verkiesing wou ontwrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.